Voedselverliese dalk 'n nuwe pandemie

06 October 2020 | Landbou
Dr. Kobus Laubscher

Verlede week op 29 September is die eerste internasionale dag vir die bewusmaking van kosverliese aangebied.

Dit was in die aanloop tot die eerste bekendmaking van metodologie om voedselverlies volgens dieselfde maatstawwe te meet. Hierdie is 'n gesamentlike poging van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) en die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) om nie net voedselverliese te bekamp nie, maar ook 'n bewustheid te kweek om die verliese in terme van die omgewing te kwantifiseer.

Daar is byvoorbeeld baie meriete in argumente ten gunste van 'n meer gebalanseerde benadering ten opsigte van die tegnologie wat gebruik word om meer kos met minder te produseer, teenoor die vermindering van verliese. Daar kan met reg geargumenteer word dat meer kos nie noodwendig meer mense kos gee nie, want die verliese bly beduidend.

Meer kos lei tot die vul van gapings, maar daar kan tereg gewonder word wat sou gebeur as daar nie soveel geproduseer is nie. Meer honger mense sou die gevolg wees.

Groot kommer heers oor die skadelike impak van kweekhuisgasse wat gegenereer word met kos wat geproduseer, maar nie geëet word nie. Na raming gaan tot 14% van alle kos verlore nog voordat dit markte bereik – wat inderdaad skokkend is.

Die pandemie het nie net bygedra tot verdere verliese nie, maar het 'n betekenisvolle bydrae gelewer tot hongersnood. In Suid-Afrika is daar tot 14 miljoen mense wat kronies honger is en nie weet waar die volgende bord kos vandaan gaan kom nie. Met die verwagte skerp toename in werkloosheid, is daar geen vooruitsig dat hierdie situasie kan verbeter nie.

Maatskaplike ondersteuning by wyse van toelaes en veral dit wat gedurende die pandemie aangebied is, het kos op baie tafels gesit en die verwagting is dat die situasie onbepaald aan die orde gaan wees. Dit plaas enorme druk op die fiskus en kan dalk 'n nood­saaklike bydrae lewer om voedselverliese te beperk.

Indien die geraamde waarde van voedselverliese verreken word, is die vermindering van die nagenoeg US$400 per jaar 'n teiken wat eenvoudig getakel moet word.

Om die probleem reg aan te pak, is dit nodig om te verstaan waar die verliese ontstaan. Kosverliese verwys na die gedeelte van die produksie wat die plaashek verlaat, maar nie die kleinhandel bereik nie. Kosvermorsing gebeur daarna en neem allerhande vorms aan.

Kommer bestaan oor die impak van vermorsing as gevolg van sogenaamde kosmetiese waardes – kos wat nie mooi genoeg lyk nie!

Daar is gelukkig ook doelbewuste pogings binne die waardekettings wat dié euwel aanspreek en wêreldbekende sjefs is onder andere verbind tot die gebruik van lokale en in seisoen voedsel. Die uitdaging is wat gedoen word op voetsoolvlak en in ons eie huishoudings.

Die afgelope tyd het belowende navorsing die lig gesien en toepassing gevind in nuwe tegnologie om voedselverliese te bekamp. Kunsmatige intelligensie word aangewend om baie vroeg in die waardeketting moontlike verliese te identifiseer en sodoende sulke produkte na alternatiewe aanwendings te stuur.

Hierdie praktyk is maklik toepasbaar in gewone huise. 'n Stywe tamatie is bepaald almal se eerste keuse, maar wanneer daardie tamatie sy fermheid verloor, is sop sy voorland en nie die asblik nie. Te veel mense beskou dit as benede hulle waardigheid om so 'n aanpassing te maak en dra dan by tot die reusehoeveelheid kos wat ongeëet in die asblik beland.

Brittanje is tans 'n voorste toepasser van verbeterde verliesbestuur. 'n Maatskappy soos Tesco het bewese verliesbestuur van 25% behaal.

Plaaslik het supermarkgroepe ook sulke doelwitte, maar hoeveel van ons toets daar die doelwitte? 'n Groot euwel en bydraende faktor is die verkeerde hantering van datums op die verpakking: “goed voor” en “beste datum” maak te veel mense te lui om te dink. Sulke datums is bloot 'n aanduiding van hoe die verbruik kan verloop, maar is uiteraard onderhewig aan voorwaardes.

Gesonde oordeel en die beter bestuur van die tamatie van ferm na pap bly van toepassing.

Die boodskap is eenvoudig. Moenie net dink aan al die honger mense as daar onverbruikte kos weggegooi moet word nie; doen iets daaraan. Almal van ons moet meer respek hê vir die kos wat ons kan eet.

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

9 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

9 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

9 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

9 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

9 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

9 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

9 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...