Vleisbedryf maak reg vir indaba

Landbouminister Calle Schlettwein stem saam oor die noodsaaklikheid dat rooivleisprodusente saam met ander partye in die waardeketting die bedryf se toekoms by ’n inklusiewe indaba bespreek.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die Vleisraad van Namibië is besig om ’n gesprekdokument te finaliseer wat later vanjaar die grondslag sal vorm wanneer Namibiese produsente en ander belanghebbendes in die rooivleiswaardeketting ’n indaba hou oor kwessies wat groei in die vleisbedryf strem.

Dit volg nadat die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en die Namibië Landbou-unie (NLU) se leierskap vroeg in Julie virtueel met mnr. Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming, vergader het oor talle bekommernisse wat produsente oor die toekoms van die rooivleisbedryf het.

Die NLU het benadruk lewendehaweprodusente moet kan bemark in oop en ongereguleerde bemarkingskanale wat met mekaar meeding om sodoende die beste pryse te behaal.

Schlettwein het op sy beurt erkenning gegee aan die belangrike rol van die primêre produsente en gesê hulle vorm die grondslag van dié bedryf. Hy het egter sy bekommernis uitgespreek oor fragmentasie binne die bedryf.

Die LPO het gevra Schlettwein moet onder sy kundige leiding ‘n platvorm skep waar die produsente en ander belanghebbendes byeen kan kom in ‘n poging om konsensus te bereik oor sake wat van kritieke belang is vir die toekoms van rooivleisproduksie, -bemarking en -uitvoere.

Die NLU het na afloop van die virtuele vergadering gesê die versoek is gunstig deur die minister ontvang. Schlettwein het egter gemaan om konsensus te bereik, moet alle partye bereik wees om kompromieë te maak om ’n middeweg te vind.

Schlettwein het aan die Vleisraad opdrag gegee om ‘n gespreksdokument op te stel wat as grondslag sal dien vir wanneer ‘n vleisindaba of -simposium gehou word.

VLEISRAAD

Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, sê dié liggaam is vanaf Oktober verlede jaar reeds besig om te kyk na wat gedoen moet word om die rooivleisbedryf se bydrae tot die ekonomie te verbeter.

“Die vleisbedryf maak die afgelope jare ’n al kleiner deel uit van landbou se bydrae tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP). Die vraag wat ons ondersoek, is hoe gaan ons dit verander,” sê Strydom en verduidelik die dokument, of tienpuntplan, waarmee hy geruime tyd al besig is, sal as grondslag dien wanneer rolspelers die vleisbedryf se toekoms by die voorgestelde indaba of simposium bespreek.

Hy sê die kwessies wat hy ondersoek is die sekuriteit wat produsente ten opsigte van hul eiendom het, die voortbestaan van verskillende bemarkingskanale vir verskillende produksiestelsels, pryssekerheid, kommer oor begrotingsbeperkinge en die impak op veeartsenydienste in die land, hoe gemaak met die rooilyn en die politieke druk vir die verwydering daarvan, onbenutte landbougrond, hoe om die noordelike kommunale gebiede (NCA) deel van die hoof- bemarkingstroom te maak, weidingstrategieë en dit wat nodig is om weidingstoestande te verbeter.

“Die dokument kyk waar ons nou is, waarnatoe ons wil gaan en wat dit sal kos om daar te kom. Nie al die voorstelle gaan ons geld kos nie; dit moet net geïmplementeer word,” sê Strydom.

LPO

Thinus Pretorius, voorsitter van die LPO, sê kommersiële produsente is “intens bekommerd” oor die toekoms van Meatco as die enigste nasionale uitvoerabattoir vir beesvleis.

“Meatco se direksie bestaan tans uit produsente wat nie deel is van die hoofstroom-vleisekonomie nie. Verder sit die politici en ons as produsente nie hieroor om dieselfde vuur nie – hulle dien ’n politieke agenda ons dink ekonomies hieroor,” sê Pretorius.

“Ons kan nie toelaat dat enigiemand anders as die produsente Meatco bestuur nie. Sonder die beesprodusente het Meatco nie bestaansreg nie.”

Hy het in ’n telefoniese onderhoud verwys na Meatco se reuseverlies verlede jaar toe die groep se inkomste met N$911 miljoen geval het, en sê bestuursbesluite berus nie op gesonde ekonomiese beginsels nie.

Een hiervan, sê Pretorius, is om byvoorbeeld kontrakverslagting vir Beefcor te doen soos tans die geval is.

Hy het die hoop uitgespreek dat die vleisindaba waarvoor die LPO gevra het, binnekort sal kan plaasvind.

SCHLETTWEIN

Intussen het die landbouminister in ’n telefoniese onderhoud die belangrikheid benadruk dat álle produsente – kommersieel en kommunaal – saam met alle belanghebbendes in die rooivleiswaardeketting die toekoms van die bedryf bespreek.

Hy sê hy het die afgelope maande met verskillende belangegroepe binne dié bedryf vergader.

Dit sluit die Beef Value Chain Forum onder voorsitterskap van Mecki Schneider in, sê Schlettwein. Die forum, waarby produsente oor die breë spektrum betrek is, kyk reeds geruime tyd na ’n alternatief vir Meatco en ondersoek die moontlikheid van ’n nuwe uitvoerabattoir.

Die minister sê een van die landbouliggame met wie hy nog moet vergader, is die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) as die spreekbuis vir kommunale boere in die land.

Schlettwein het ook daarop gewys hy as minister is net verantwoordelik vir landboubeleide nie, maar is net so gretig dat die rooivleisbedryf sy bydrae tot die BBP vergroot.

“Ek glo landbou, waarby minstens 70 persent van die bevolking ’n belang het, kan ’n belangrike rol speel om ons ekonomie weer te groei. Maar ons moet almal betrek – dit moet inklusief wees. Ons kan nie sekere groepe uitsluit nie,” sê Schlettwein.

Hy het die hoop uitgespreek dat die indaba dalk reeds in September kan plaasvind.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!