Viskwotas: Tweede Fishrot gevrees

Fondse vir Covid-19 aangewend

11 August 2020 | Misdaad
Leandrea Louw op Walvisbaai - Rolspelers in die visbedryf is bekommerd dat die land in 'n tweede Fishrot-skandaal gedompel sal word as viskwotas opgeveil word.

Mnr. Phillip Munenguni, visepresident van die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), het gesê hy wil nie hê die bedryf moet in dieselfde slaggat as die Fishrot-skandaal trap nie.

“As ons so dringend geld nodig het om die Covid-19-pandemie te beveg, wat is die oponthoud? Ons leiers drink dieselfde wyn, net uit 'n ander bottel. Ons moes duur lesse uit Fishrot geleer het,” het Munenguni gesê.

“Die probleem wat ons het, is dat hierdie kwotas geïmplementeer is met die doel om sekere politici te bevoordeel. Die manier hoe dit hanteer is, het gelei tot een van die grootste korrupsieskandale in Namibië. Hierdie besluit het ons laat twyfel en ons vertrou nie meer die leierskap nie – selfs nie die huidige visseryeminister nie.

“Hoe weet ons hierdie kwotas word nie aan buitelanders verkoop wat hul eie reëls en regulasies gaan bring nie?" vra Munenguni.

"Sodra hierdie kwotas aan die hoogste bieër verkoop word, kan hulle voorskryf en hul eie werkers bring. Ons het ingenieurs wat op straat sonder werk sit.”

TE LAAT

Mnr. Matti Amukwa, voorsitter van die Konfederasie van die Namibiese Visserye-verenigings, sê dit is te laat in die seisoen om kwotas aan plaaslike en internasionale bieërs op te veil.

“Ons nader die einde van die stokvisseisoen einde September. Die makrielseisoen eindig Desember en die maarsbankerseisoen is vanaf Mei tot April.

“Hoe gaan ons buitelandse vissersbote inbring as ons grense weens die Covid-19-pandemie gesluit is? Agtergrondondersoeke moet gedoen word as vissersbote in ons waters vaar om te verseker dat hulle nie in onwettige visvangaktiwiteite betrokke was nie.

“Daar is soveel vrae. . . en ons het slegs ses weke voor die stokvisseisoen eindig. Tyd staan nie stil en wag vir ons om op te tree nie,” sê Amukwa.

Hy het bygevoeg dat die visbedryf nie deeglik oor die veiling geraadpleeg is nie.

Die regering is in die proses om viskwotas aan die hoogste bieër op te veil.

Die minister van visserye en mariene hulpbronne, dr. Albert Kawana, het in 'n brief tydens 'n konsultasievergadering met die visbedryf verduidelik die regering het dringend geld nodig om die Covid-19-pandemie te takel.

“Ons vervaardig nie medisyne of mediese toerusting nie. Die enigste hulpbron wat gou buitelandse valuta kan inbring, is visserye om medisyne en mediese toerusting tydens die noodtoestand te koop.”

Veertig persent van stokvis en makriel sal aan Namibiese maatskappy gaan om plaaslike werksgeleenthede te behou. Die staat se teikenkwota gaan gewoonlik aan die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) wat die middelpunt van die Fishrot-skandaal is.

In Junie het die minister reeds aangekondig die regering gaan viskwotas opveil om maatskaplike projekte te befonds.

Die kwota wat beskikbaar is vir die veiling is 72 000 metrieke ton makriel, waarvan 40% aan plaaslike maatskappye sal gaan; 11 000 metrieke ton stokvis (ook 40% vir plaaslike maatskappye) en 392 metrieke ton vir maarsbanker. Die minister het verduidelik uit die 40% vir plaaslike maatskappy, sal 70% gevriesde en 30% vars vis wees.

“Die besluit het in ag geneem dat die visvangseisoen baie kort is, veral vir stokvis, wat minder as twee maande is,” het Kawana gesê.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Psemas-tender sluit

8 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, het Woensdag (23 September) gesluit. Dit volg nadat sekere vereistes in...

Babelse verwarring oor toerismeregulasies

8 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg – Met Babelse verwarring wat in die toerismesektor oor die nuwe Covid-19-regulasies heers, word steeds op meer duidelikheid gewag.“Ons sal weet sodra daar...

Gemsbok soek lafenis

8 ure gelede | In beeld

Die Desert Hills Lodge in die Naukluft-berge naby Sesriem het 'n spesiale besoeker gehad wat sy dors in die swembad kom les het. Volgens mnr....

N$30 miljoen dringend nodig om rooisprinkane te beveg

8 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh – Sowat N$30 miljoen se benodighede word “sonder oponthoud” vir die bestryding van die Afrika rooitreksprinkaan in die Zambezistreek benodig. Dit, om te...

Weer vir 28 September

8 ure gelede | Weer

BINNELAND: Koud in die oggend, andersins sonnig en matig tot warm, maar baie warm in die Noorde met 'n paar wolke wat oor die Zambezistreek...

Skoonmaakveldtog takel landswye probleem

8 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – 'n Geskatte 61 ton menslike ontlasting en huishoudelike rommel word daagliks in die openbare areas in Windhoek se informele nedersettings gestort. Dié...

Twee vas weens omkopery

8 ure gelede | Misdaad

Erwin LeuschnerDie twee beskuldigdes wat weens klagte van omkopery en korrupsie aangekla word, mnr. Farhan Khatri (31) en speuradjudantoffisier Jafet Simon, is Woensdag borgtog in...

Hardap dalk tronke se nuwe episentrum

8 ure gelede | Polisie

Kristien KrugerDie Windhoek Sentrale Gevangenis is reeds weke lank in inperking vanweë 'n Covid-19-uitbreking. Dit blyk egter dat die korrektiewe geriewe in die Hardapstreek (naby...

Meeste brandvoorvalle in Havana, Goreangab

8 ure gelede | Ongelukke

Tanja Bause – Die Namibiese Rooikruisvereniging het noodverligtingspakkies aan 11 families oorhandig wat die slagoffers van brande in informele nedersettings was. Volgens die Windhoekse stadspolisie...