Vierkantklip verras met groot kabeljou
'n Kabeljou van 'n geskatte 12 kg was die verrassing wat op 'n Walvisbaaise hengelaar gewag het toe hy teen die einde van verlede week by die Vierkantklip suid van Swakopmund ingegooi het. Die foto is wel by 'n plaaslike hengelwinkel ingegee, maar besonderhede oor die hengelaar en die aas is nie verstrek nie. Die Vierkantklip is 'n gewilde vangplek onder bestaanshengelaars, maar groot kabeljoue soos dié een word nie aldag daar aangetref nie. Daar word vermoed die ou grote het effens afgedwaal van skole kabeljoue wat die afgelope weke langs die sentrale kus aangetref is op hul togte na die broeivelde van Sandvishawe suid van Walvisbaai. Steeds naby Swakopmund het groot kabeljoue ook Sondag by Myl 8 uitgeslaan. Foto Verskaf
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie