Vesta se kankerreis ’n pad van genade

Dankbaarheid, onderskraging

18 October 2019 | Gesondheid
Francoise Steynberg - Toe die bekende eienaar van ’n terapeutiese perdryskool, Vesta Burmeister (38), met servikale kanker gediagnoseer is, het sy die pad van genade begin stap.

Voorheen was Vesta die een met verskeie pasiënte wat die afgelope 10 jaar by haar terapeutiese perdryskool by die Moltkeblick-stalle oos van Windhoek ’n verskil aan honderde kinders se lewens gemaak het.

Skielik is sy die pasiënt wat by die onkologiesentrum radiologie moes kry en die nare newe-effekte van chemoterapie moes trotseer.

“Jy dink kanker gebeur net met ander mense. Dit het gevoel die kanker was nie deel van my nie,” het sy by haar huis tydens ‘n onderhoud met Republikein vertel.

“Een papsmeer kan ’n groot verskil maak,” sê sy.

Chemoterapie het die lewenslustige, aantreklike, blonde vrou, superheldin van baie, só uitgemergel en laat verswak dat sy nie eens haar eenjarige babadogtertjie, Elizabeth, kon vashou nie.

“My reis met kanker is erger vir my geliefdes om te aanskou, as vir my om te ervaar,” sê sy.



Vesta is ook die vierjarige Charlene se ma, die chiropraktisyn dr. Adroux Burger se vrou, Gerdus en Elizabeth Burmeister se dogter, die 101-jarige ouma Vesta se kleindogter, en die jongste van vier susters.

“Toe ek die skoknuus kry, het ek wel aan die dood gedink. Ek het gedink Elizabeth (wat net agt maande oud was toe Vesta in Julie gediagnoseer is) is te klein om my te onthou as ek sou doodgaan, maar Charlene sou my as haar mamma onthou,” sê Vesta emosioneel.

“Die statistiek van 75% om servikale kanker te oorleef, het my laat besef ek het wel ’n kans 75%-kans en nie 0% nie. Ek wil nie hê my kinders moet sonder ’n ma grootword nie.”

ONDERSTEUNING

Tog beskryf Vesta haar kankerreis as ’n genadepad: “Ek beleef soveel ondersteuning en ek kan nie genoeg dankie sê nie, ook vir diegene wat moeite gedoen het met die fondsinsamelingsprojek vir die perde.”

Sy sê haar terapeutiese perdryskool gaan voort onder die bekwame terapeut Brunhilde Peijnenborgh, wat steeds pasiënte ontvang.

Haar pasiënte bestaan uit kinders met ‘n reeks fisieke, emosionele, kognitiewe en sosiale uitdagings.

“My jare lange getroue drie werkers, Stephanus Rooinasie, Gerhard Afrikaner en Charles Venter, bly op die perseel en kyk steeds dag in en dag uit na die 28 perde,” sê sy.

“Die ondersteuning van my pasiënte en die gemeenskap is ongelooflik. Van my pasiënte se ouers betaal dubbel, of betaal steeds al gaan hul kinders nie meer elke maand ryskool toe nie. Mense dra daagliks kos en blomme aan.”

Vesta kan ook nie uitgepraat raak oor die geliefde Namibiese onkoloog dr. Tommy van Wyk en die personeel by die Namibiese Onkologiesentrum nie.

“Hulle is almal engele,” sê sy.

Volgens haar is die kankerlyers wat behandeling by die onkologiesentrum kry van alle vlakke van die samelewing. “Daar is geen waarborg om nie kanker te kry nie.”

Volgens Vesta heers groot kameraadskap onder die kankerpasiënte by die onkologiesentrum.

“Chemoterapie is ’n lang proses. Jy sit met elke sessie vir drie ure daar. Húlle is die mense wat hierdie pad saam met jou stap.”

Sy kyk nou anders na die lewe en het ’n groter waardering vir gesondheid.

“Nou wil ek net meer help en ’n verskil maak.”

Vesta beraam reeds planne om van die kleiner perde na die onkologiesentrum te neem vir kinderkankerlyers om op te ry.

Sy is tans in Kaapstad vir intensiewe behandeling.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Net 20,6% water in damme oor

9 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Damme in Namibië het in totaal net 20,6% of 144,030 Mm³ (miljoen kubieke meter) water oor, vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar...

Kiessaak misluk ure voor eerste kruisies

9 ure gelede | Politiek

Jana-Mari Smith - Enkele ure voordat die stembus vir Namibië se 2019-verkiesings in Japan as eerste van die buitelandse sendings sou open, is gister in...

Japan reg om eerste te stem

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Namibiërs wat tans in Japan is, kon sedert middernag die eerste mense word om aan vanjaar se presidensiële en Nasionale Vergadering(NV)-verkiesings deel...

Weer vir Woensdag 13 November

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Meestal mooi weer en baie tot bloedig warm in die Suide, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde...

Toerismebedryf bekommerd na nog ’n toeris sterf ...

9 ure gelede | Ongelukke

Ronelle Rademeyer - In ’n donker week vir toeristeveiligheid in Namibië is ’n 32-jarige Belgiese man Sondagaand dood toe die toerlorrie waarin ’n groep van...

SME Bank: Krediteure kan hul geld kry

9 ure gelede | Misdaad

Catherine Sasman – Die meester van die hoërhof het op 8 November toestemming gegee vir die eerste krediteure- en ledevergadering van die SME Bank, wat...

Volvo to use blockchain traceability of cobalt

9 ure gelede | Motors

Volvo Cars will become the first carmaker to implement global traceability of cobalt used in its batteries by applying blockchain technology. The announcement follows the...

VERKIESINGS 2019: ONDERWYS EN GESONDHEID

9 ure gelede | Politiek

In die reeks neem ons politieke partye se manifeste in oënskou wat sekere sleutelkwessies betref.ALL PEOPLE’S PARTY (APP)• Gratis onderwys van kleuterskool tot eerste tersiêre...

Eenheid teen geslagsgeweld kry hupstoot

9 ure gelede | Misdaad

Yolanda Nel - Wanneer ’n kind by die huis verkrag word, word dié kind vir 21 dae na ’n plek van veiligheid geneem en daarná...