Verslag oor aardverhitting: ‘Katastrofe is op hande’

Slegte nuus vir Afrika

11 October 2018 | Internasionaal
Elise Tempelhoff

Die tempo waarteen klimaatsverandering plaasvind, is baie vinniger as wat voorheen gemeen is. Die wêreld moet so gou moontlik van fossielbrandstowwe afsien om “sy eie lewe te red”.

So sê die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) in ’n verslag wat gister in In­cheon, Suid-Korea, uitgereik is.

Dis veral slegte nuus vir Afrika en Afrika suid van die Sahara.

In die verslag, “Special Report on Global Warming of 1,5 degrees C”, waarsku klimaatwetenskaplikes as die volume kweekhuisgasse wat tans in die atmosfeer gepomp word, gehandhaaf word, sal ’n “drumpel” oor 11 jaar oorgesteek word en sal die temperatuur kort daarna met 3 °C styg.

“Dit hou katastrofale gevolge in vir Afrika suid van die Sahara, waar hongersnood en waternood sal voorkom as die temperatuur met 1,5 °C styg.”

Afrika suid van die Sahara kan dié drumpel selfs vóór 2030 oorsteek, lui die verslag.

Die paneel sê dit is sy “laaste waarskuwing” dat enkelinge, gemeenskappe, politici, beleidmakers, die landbousektor en nywerhede nou “drastiese, ongeëwenaarde aanpassings sal moet doen” om die globale temperatuurstyging onder 1,5 °C te hou.

Die dringendste beroep wat die wetenskaplikes op die wêreldgemeenskap doen, is om binne die volgende drie dekades te sorg dat geen koolstofdioksied deur die verbranding van steenkool, olie of gas in die atmosfeer vrygestel mag word nie.

Die wetenskaplikes sê daar is nie meer tyd vir uitstel nie en die wêreldgemeenskap moet nou alles in sy vermoë doen om te sorg dat die globale temperatuur onder ’n styging van 1,5 °C gehou word. Konsensus is vroeër ingevolge die Parys-ooreenkoms bereik dat die globale temperatuur tussen 1,5 °C en 2 °C kan styg om lewe op aarde te handhaaf.

Die paneel sê in sy jongste verslag navorsers het die afgelope drie jaar bevind selfs ’n styging van 1,5 °C hou ernstige gevolge vir lewe op aarde in.

“Sonder onmiddellike internasionale besnoeiings aan die hoeveelheid koolstofdioksied (CO2) wat in die atmosfeer ingepomp word, kan tot 15% van Afrika, veral Afrika suid van die Sahara, binne die volgende dekade weens versengende hitte vir landbou verlore wees. Dit sal tot hongersnood in dié wêrelddeel lei.”

DRIE JAAR SE NAVORSING

Die verslag is die vrug van drie jaar se navorsing oor die impak wat ’n styging van 1,5 °C vir lewe op aarde inhou. 91 leierskrywers van 40 lande en 133 wetenskaplikes van verskeie wêrelddele het meegewerk aan die verslag.

Hulle het 6 000 wetenskaplike navorsingsartikels oor klimaatsverandering ontleed. Die navorsers het veral gelet op die invloed wat ’n styging van 1,5 °C in die globale temperatuur op lewe sal hê.

Die beloftes wat regerings die afgelope drie jaar ingevolge die Parys-ooreenkoms gemaak het om die globale temperatuurstyging onder 1,5 °C te hou, is heeltemal onvoldoende, lui die verslag.

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, sê al die bewyse is nou in die openbare domein en daar is “geen tyd om te mors nie”.

Die hoeveelheid kweekhuisgasse wat in die atmosfeer vrygestel word, mag glad nie meer styg nie en moet in die volgende paar jaar met minstens 45% ingeperk word. Die IPCC stel ook voor dat tegnologie onmiddellik ontwikkel word om CO2 uit die atmosfeer te verwyder.

Binne drie dekades mag geen CO2 meer in die atmosfeer gepomp word nie.

National Geographic berig dit beteken geen huis, sakeonderneming of nywerheid mag dan enige steenkool, diesel of gas gebruik nie. Geen voertuig wat deur diesel of petrol aangedryf word, sal op paaie toegelaat kan word nie.

Alle steenkoolkragstasies sal gesluit moet word. As nywerhede nog staal of aluminium wil vervaardig, sal hulle òf hernubare energie vir hul werksaamhede moet gebruik òf die kweekhuisgasse wat hulle vrystel moet opvang en onder die grond inpomp.

As ’n styging van 3 °C bereik is, sal “wegholklimaatsverandering” volg. Daar sal dan geen omdraaikans meer wees nie en die maatreëls sal nie verslap kan word nie, lui die verslag.

Michael Mann, klimaat­wetenskaplike en direkteur van die Earth System Science Centre in Pennsilvanië, sê dit gaan bitter moeilik, indien nie onmoontlik nie, wees om die styging in die globale temperatuur onder 1,5 °C te hou.

Dit gaan nie “goedkoop wees” om nou van fossielbrandstowwe af te sien nie, lui die verslag. Die jaarlikse belegging in hernubare energie sal tussen vanjaar en 2035 sowat US$2 400 miljard beloop.

Dr. Stephan Cornelius van die Wêreldnatuurfonds het aan BBC News gesê hoewel die koste vir dié “oorskakeling” nou baie hoog is, moet die voor- en nadele teen mekaar opgeweeg word.

“Die algehele uitskakeling van CO2 gaan op kort termyn duur wees, maar op langer termyn goedkoper as om dit later met tegnologie uit die atmosfeer te verwyder.”

Die verslag wys daarop dat die globale temperatuur die afgelope 150 jaar reeds met gemiddeld 1,1 °C gestyg het. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Resessie klou verbete

7 ure gelede | Regering

Jo-Maré DuddyMet groei van -0,8% in die derde kwartaal het Namibië sy taaiste drie maande nóg vanjaar beleef en sit die twee swaargewigte wat die...

Meteoorreën bereik sy piek

7 ure gelede | Weer

Elvira HattinghNamibiërs kan uitsien na die Geminides-meteoorreën wat vanaand sy piek bereik.Sowat 100 verskietende sterre sal per uur gesien kan word – mits jy op...

Vuurkuns

7 ure gelede | In beeld

Clinton Fisch het hierdie besondere foto geneem deur staalwol aan die brand te steek en dit tussen staaldrade in te druk wat in die rondte...

Weer, Vrydag 14 Desember 2018

7 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooiweer en matig in die suidweste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met enkele dondebuie wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Eksamenuitslae Donderdag bekend

7 ure gelede | Onderwys

Die voorlopige uitslae vir graad 10-(JSC) en graad 12-(NSSC)hoërvlakkandidate – voltydse en deeltyds – word eerskomende Donderdag amptelik bekend gemaak. Die uitslae sal op die...

Unam-studente moet meer opdok

7 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Die finansiële verknorsing waarin die Universiteit van Namibië (Unam) verkeer, tesame met die algemene ekonomiese vooruitsig vir die land het die universiteitsraad...

1,6 miljoen toeriste kom kuier in 2017

7 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Toerisme het met 2,2% van 2016 af tot verlede jaar gegroei, en 1 608 018 buitelandse toeriste het Namibië in 2017 by...

Standvastig en dapper

7 ure gelede | Mense

Jemima BeukesHuldeblyke stroom in vir die vryheidsveteraan mnr. Petrus Iilonga wat Dinsdagaand op 71-jarige ouderdom gesterf het. Iilonga was 'n voormalige vakbonds­man en politieke gevangene...

Gemeenskap van Okahandja eis antwoorde

7 ure gelede | Regering

Gemeenskapslede van Okahandja het tydens 'n vergadering hul misnoeë met die dorp se huidige bestuur uitgespreek. Mnr. Petrus Gariseb, 'n gemeen­skapsaktivis, het onder andere vir...