Verse wat binneboud dans… En karnuffel

16 March 2006 | Kollig
NAMIBIESE digter Kobus Lombard beïndruk in sy sterk nuwe bundel Tussen wysvinger en duim opnuut met uiters vernuftige voetsool-digkuns.
Dit is verse hierdie wat die leser verlei om ondanks 'n ingeskoolde vrees vir dié "hogere nooi" tóg die poësiegodin poegaai te wil langarm. Digkuns dus, sonder muurblomstatus.
Die helder, lekkerlees styl dra dieselfde stempel as in Geknipte Naelstring - in 2003 benoem vir die Ingrid Jonker-prys. Weer is dit egter 'n hoogs bedrieglike eenvoud.
Behalwe vir ryk beeldspraak en dieper betekenisse wat regdeur na die oppervlak dwing, wys Lombard nog duideliker dat hy nie terugdeins vir die kryt se vuisdans nie. Die aktueel-kritiese vers staan nou selfs sterker en is die einste hoek waaruit dié Windhoeker met die eerste van die sewe afdelings in sy bundel op die leser afpyl.
Die godsdiens, natuur, liefde en die uurglas van die lewe bly kernmotiewe. Ook die spoorsny na die universele in biografiese gegewens kom weer aan bod.
In die laaste afdeling val die klem op die skryfkuns. Die bundeltitel slaan egter veel wyer as hierdie verwysing in "Letterkunde."
As duimpie en sy maat mekaar ontmoet, maak hulle ook sirkel. Nie net 'n verwysing na die lewe (en dood) nie, maar ook die moedersimbool en die huwelik.
Punt wysvinger en duim saam in dieselfde rigting en jy kan mooivat vir fyn ondersoek. En indien nodig dooddruk; 'n bevryding wat dikwels uit die skryf voortvloei.
Die wysvinger is ook vir raas, waarsku en beduie. Almal dieperliggende betekenisse wat mens deurlopend raaklees.
Die kind-perspektief in die openingsvers "Kontrak-Wambo," oor 'n tjokker wat nooit bewus was van "sy" Josef se Kanaän nie, ontwapen die leser slim vir 'n drietal in-die-kol houe oor hoe apartheid steeds in ons arbeidslewe spook. Sondes wat vandag se meneer, mevrou en kind met 'n gevoellose blindheid slaan.
"Saalhulp" berei in die eerste afdeling die grond vir die latere verse (afdeling III) aan die skrywer se bloed- en grootmaakma's, van die ontroerendste gedigte in die bundel. Byvoorbeeld "Gelamineer," "Victrix Ludorum," "Laaste groet" en "Hoe kis jy."
In afdeling II, "rentmeesters," skuif die verhouding met God, teenoor dié met kerk, in die visier. "Planmatig" merk byvoorbeeld ironies op: "ses dae lank stof ons (God se tempel op die hoogste erf) af / en poets die klok / maar die sewende dag / is die sabbat van die Here / dan laat ons hom met rus."
In "Nuwe Jerusalem" neem die "geboggelde Gawies" en "skeeloog-Sannies" die ereplek aan Sy linkerhand aan, terwyl die "blink Stefaansies en (hul moeilike) laastok-Lenies" in skerpe kontras die "skape" se voete moet was.
Later wonder die spreker in "Verbi Divini Minister" of 'n Kelpie, 'n Australiese skaaphond, nie die werk van leraar beter kan doen as iemand wat ses jaar moes leer nie. 'n Verwysing wat soos elders betekenis slim verruim. 'n Kelpie was in die ou Skotland ook 'n verradderlike waterduiwel?
'n Terugverwysing na die dikwels steeds ontheemde, inheemse inwoners van die land werk in die gedig "Rentmeesters" met die dramatiese teenstelling tussen welgestelde lidmate en die wag sonder aalmoes wat buite die kerk sirkels om blink Duitse, Amerikaanse en Japanese motors stap. Hoe meer dinge verander?
Die spreker vind God se grote hand hierteenoor dikwels eerder in die natuur, soos in die pragtige "Habakuk 1" en "2," of die kaalvoetsand van 'n boskerk. In die godsdienstige verse is daar ook reeds sterk vooruitwysings na die temas van taal, die dood en ouderdom, wat in die laaste afdelings voorop staan.
Wysvinger bevat 'n paar pragverse oor aktuele kwessies. Byvoorbeeld of die nuwe tegnologie in die kerk die mens van God vervreem, grondhervorming (sien "In hemelsnaam" en "Nuwe baas"), kloning en vooruitgang se aanslag op kultuurerfenis.
Lombard se twee rouharde gedigte oor die werklikheid van MIV/vigs, "Gebed om 'n sonsverduistering" en "Gebed vir Shaanika," is myns insiens van die heel treffendste. Twee ander verse verskyn in die metafoor van die e-pos en internet.
Die betrokke gedig is in 'n tyd met veel meer vrae as antwoorde waarskynlik een van die elemente in Lombard se werk wat hy nog veel verder kan ontwikkel.
Die motief van gevangeneskap is deurgaans baie sterk. Sê die spreker byvoorbeeld in "Apostelbrief:" "liewe gemeente / bowenal skryf ek aan julle / as medegevangene."
Wysvinger is in wese 'n poging om buite die dikwels versmorende grense van onder meer die self, die eie lyf, stam, kerk en politieke oortuiging te tree. En soos die slotvers "Woordhuis" benadruk, kan die mure wat plek moet maak vir groter insig en saamwees net met geweld val.
Vir Lombard is taal en beeld die werktuie waarmee hy sy leser verby hierdie verlammende versperrings wil dans. En wanneer nodig, hulle harder daaroor wil karnuffel.
(Tussen wysvinger en duim is soos Geknipte naelstring uitgegee deur Protea Boekhuis in Pretoria. Beskikbaar by goeie boekwinkels, of kontak Ingrid Demasius van Demasius Publications by 061 236 938, 226 187 (faks) of [email protected] Aanbevole prys: N$85.)

Soortgelyk

 

Hepatitis E woed landswyd voort

22 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Kort duskant ‘n jaar ná ‘n uitbreking van hepatitis E amptelik in Desember 2017 in Windhoek verklaar is, is byna 4...

Nuwe plan teen misdaad onthul

22 ure gelede | Misdaad

Denver KistingRooftogte, veral gewapende rooftogte, het in die afgelope ses jaar met 44% die hoogte in geskiet.Dié syfer is vervat in misdaadstatistieke van die afgelope...

Hittegolf rý Namibië

22 ure gelede | Weer

Ondangwa is vandag die heel warmste plek met ‘n verwagte maksimum temperatuur van 41°C. Boonop word geen verligting van snikhete temperature hierdie naweek verwag nie....

SOE’s: Direksies moet vir mislukkings pa staan

22 ure gelede | Ministeries

Ronelle Rademeyer - Voor staatsondernemings (SOE’s) nie prestasiegedrewe volgens goeie korporatiewe beginsels bestuur word nie, sal die ekonomie nie beter vaar nie.Daarom sal die vergoeding...

Weer, Vrydag 16 November 2018

22 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en bloedig wees. Enkele donerbuie word in Otjozondjupa, Khomas en Omaheke verwag.KUS:...

Kalender 16 November

22 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots die 2018 Unam Visuele Kunste-uitstalling aan, wat tans in die hoofgalery van...

Die misterie van poësie

22 ure gelede | Kuns en vermaak

Lloyd Zandberg Terwyl die meerderheid van die mensdom soggens teen die wekker stoei, kinders vir skool aantrek, die hewige verkeer aandurf en uiteindelik laat vir...

Ons is nie teen gays, sê Sioka

22 ure gelede | Ministeries

Denver Kisting – Die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Doreen Sioka, sê die regering het niks teen gay mense nie.Sý veral diskrimineer nie teen...

Mense oor miltsiekte gewaarsku ná 2 uitbrekings

22 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - ’n Bewegingsverbod vir diere is by Sesfontein en die Bwabwata Nasionale Park ingestel nadat uitbrekings van miltsiekte op 1 November in dié...