'Verryk vak met plaaslike geskiedenis'
'Verryk vak met plaaslike geskiedenis'

'Verryk vak met plaaslike geskiedenis'

Volksmoordtemas word in sleutel­vakke soos geskiedenis by die nasionale leerplan ingesluit.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die insluiting van meer plaaslike geskiedenis in die Namibiese leerplan moenie ander aspekte van geskiedenisonderrig in skole vervang nie. Dit moet eerder daartoe bydra en die vak as geheel verryk.

Volgens die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, moet plaaslike, nasionale en wêreldgeskiedenis mekaar komplementeer, eerder as om in kompetisie met mekaar te wees.

Hanse-Himarwa het in die parlement op me. Elma Dienda van die DTA se vrae gereageer.

Dienda wou antwoorde hê oor die status van die Herero/Nama-volksmoord, sowel as oor Namibië se prekoloniale geskiedenis in die nasionale leerplan.

Die minister het die behoefte aan die uitbreiding van plaaslike historiese inhoud erken om patriotisme, wedersydse respek en waardering onder Namibiërs op 'n jong ouderdom te versterk.

“Hulle sal in skole geleer word dat alle Namibiërs 'n stryd op welke manier ook al gevoer het vir die onafhanklikheid wat ons vandag geniet,” het sy gesê.

Volgens Hanse-Himarwa het sommige geleer hoe en waarom teen die koloniale inval opgestaan is.

“Dit is vrywillig namens ons almal gedoen. Sommige grafte is vandag steeds onbekend en sommige menslike gebeentes is vandag steeds oor die wêreld heen in museums versprei.”

Sy het gesê sommige lede van die jonger geslag het in dié voetspore gevolg en die wapen in die vryheidstryd opgeneem.

“Die derde fase is om kollektief te verseker die ekonomiese stryd lei tot die beloofde Namibië.”

Volgens Hanse-Himarwa was die ministerie sedert 1990 by verskeie hervormings van die leerplan betrokke in 'n poging om die kwaliteit van onderwys in die land te versterk.

Tans is die Nasionale Instituut vir Onderwysontwikkeling (NIED), 'n direktoraat verantwoordelik vir leerplanontwikkeling, besig met hersiening van die leerplan.

Moeite is volgens die minister gedoen om te verseker plaaslike inhoud word in die Namibiese leerplan geïntegreer.

Sedert die eerste instelling van leerplanhervorming het die ministerie volgens Hanse-Himarwa volksmoordtemas in sleutelvakke soos geskiedenis (graad 8 tot 12) ingesluit.

“Groot moeite is ook gedoen om temas soos menseregte, demokrasie, vrede, burgerlike onderrig, verdraagsaamheid, slawerny, vryheid en gelykheid, morele waardes en regte in sosiale studies (graad 4 tot 7) en oorkruisleerplanne te integreer,” het sy gesê.

Volgens haar is ook moeite gedoen om te verseker koloniale geskiedenis word regverdig in veral die geskiedenisleerplan op junior sekondêre (graad 8 en 9) en senior sekondêre vlak (graad 10 tot 12) behandel.

Hoewel daar in die senior primêre fase (graad 4 tot 7) geen direkte vermelding van die Herero/Nama-volksmoord is nie, kry leerlinge wel die geleentheid om kwessies soos menseregte en demokrasie (HRED), sowel as kwessies soos omgewingsonderrig, MIV/vigs en padveiligheid te verstaan.

“HRED stel leerlinge in staat om 'n maatskaplike verantwoordelikheid teenoor ander individue, hul familie, gemeenskap en die nasie as geheel te ontwikkel. Dit verbeter ook leerlinge se begrip en interpretasie van die verlede en die kernwaardes van menseregte.”

Ook word die bydraes van vroue tydens apartheid en tot die land se onafhanklikwording, asook die rol wat Namibiese jeug binne en buite die land gespeel het tydens die vryheidstryd, uitgelig.

In die junior sekondêre fase (graad 8 tot 9) kry leerlinge vir die eerste keer die geleentheid om die Herero/Nama-volksmoord, ook bekend as die oorlog van nasionale weerstand, te bestudeer. In die senior sekondêre fase (graad 10 tot 12) word plaaslike koloniale geskiedenis in besonderhede in geskiedenis as keusevak behandel.

“Ek doen 'n beroep op alle navorsers en akademici om die ministerie te ondersteun om te verseker dat alle Namibiese kinders onderrig in outentieke, gebalanseerde en verwante geskiedenis ontvang as voorbereiding op 'n stabiele en vreedsame Namibië.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!