Vermeende molesmaker bly agter tralies

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Suid-Afrikaner mnr. Czeslaw Anthony Falencikowski wat glo personeel van Air Namibia op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gedreig het, bly in aanhouding nadat hy gister in die Katutura-landdroshof op die oortreding van die kommunikasiewet verskyn het.

Staatsaanklaer Victoria Thompson het boonop 'n bykomende klag van intimidasie by sy klagstaat gevoeg.

Landdros Johannes Shuuveni het aan die beskuldigde gevra of hy steeds skuldig wil pleit soos hy Dinsdag aangedui het, waarop Falencikowski ja geantwoord het. Shuuveni het gemaan dat 'n bykomende klag bygevoeg is.

Die beskuldigde het gevra of hy die hof mag toespreek. Hy het gevra of hy regsverteenwoordiging mag bekom waarop die landdros geantwoord het dat hy dit enige tyd mag kry. Die beskuldigde het gesê hy wil 'n staatsprokureur hê en gevra hoe lank dit gaan duur. Die landdros het gesê die beskuldigde kan om regshulp aansoek doen, maar dat die aansoekproses sowat twee tot drie weke sal neem.

Shuuveni het die saak tot vandag vir pleitdoeleindes uitgestel.

Toe Republikein foto's van die beskuldigde voor die hofsaak neem, het hy op die joernalis afgestorm: "Jy mag nie foto's van my neem sonder my toestemming nie. Ek sal jou aankla. Ek sal jou selfoon by die hof uitgooi. Dit is 'n geslote hofsaak."

Hy het toe foto's van die joernalis met sy selfoon geneem. Op 'n vraag voor die hofbeamptes waarom die beskuldigde 'n selfoon in sy besit in die aanhoudingselle het, het Falencikowski geantwoord dat hy toestemming gevra het omdat hy bewysstukke vir sy hofsaak op sy selfoon het.

Falencikowski is Maandagnamiddag op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in hegtenis geneem pas nadat hy met 'n Air Namibia-vlug van Luanda, Angola, af geland het. Op die Quatro De Fevereiro-lughawe in Luanda moes passasiers 'n uur in die vliegtuig sit, weer afklim en gevisenteer voordat hulle weer kon vlieg en wat vlug SW 304 met sowat twee ure vertraag het.

Die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauana Shikwambi, het gesê Falencikowski het middel Junie met 'n Air Namibia-vlug van Kaapstad af op Hosea Kutako gearriveer en sou daarna na Luanda vlieg.

Hy kon glo nie sy geelkoorskaart - 'n vereiste vir Angola - aan Air Namibia wys nie en hy moes die vliegtuig verlaat nadat hy glo 'n bohaai opgeskop het.

DREIG GLO SEKURITEITSBESTUURDER

Volgens die klagstaat het Falencikowski op 19 Junie glo die sekuriteitsbestuurder van Air Namibia, mnr. Gert Christian de Klerk, en ander personeel van die lugredery gedreig.

Daarna het Falencikowski glo per pad na Angola gereis en intussen glo dreigbriewe aan Air Namibia geskryf.

Toe hy Maandag in Luanda weer sy vlug via Windhoek terug Kaapstad toe wou haal, het Air Namibia se personeel die vermeende molesmaker herken en die Angolese owerhede is in kennis gestel.

Die vonnis vir die oortreding van die kommuniaksiewet is nie meer as vyf jaar gevangenisstraf of 'n boete van N$20 000 nie, of beide, en vir die ootreding van die klag van intimidasie is die vonnis nie meer as tien jaar gevangenisstraf of 'n boete van N$10 000 nie, of beide.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!