Verkeersbeampte, broer sterf in Otji-ongeluk

Polisiehoof waarsku oor padveiligheid

13 December 2018 | Ongelukke
Francoise Steynberg - Drie mans, waaronder 'n verkeersbeampte en sy broer, is gisteroggend in 'n gru-ongeluk dood waarby drie voertuie naby Otjiwarongo betrokke was.

Volgens die woordvoerder van die Namibiese polisie in die Otjozondjupastreek, ao. Maureen Mbeha, het die ongeluk omstreeks 05:30 sowat 7 km suid van Otjiwarongo op die B1-hoofweg na Okahandja gebeur.

"Twee mans is op die toneel dood en 'n ander een het met sy aankoms by die Otjiwarongo-staatshospitaal gesterf," het Mbeha gesê.

"'n Dubbelkajuitbakkie wat met drie insittendes van Otjiwarongo af gery het, het na bewering 'n bees gestamp, die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en met twee aankomende voertuie, 'n sedanvoertuig met drie insittendes en 'n bakkie met twee insittendes, gebots," het Mbeha gesê.

Sy sê altesaam agt mense was in die ongeluk betrokke en die polisieondersoek duur voort.

Volgens die Namibiese polisie se woordvoerder, hoofinsp. Kauna Shikwambi, is die oorledenes wat op die toneel dood is die 30-jarige mnr. Petrus Magnes Nauyoma, wat die sedanvoertuig bestuur het, en 'n passasier in die dubbelkajuitbakkie, sers. Salomo Ndjimba (45). Hy was 'n verkeersbeampte en sy broer, wat ook 'n passasier in die dubbelkajuitbakkie was, mnr. Johannes Ndjimba (37), het met sy aankoms by die hospitaal gesterf het.

Hul naasbestaandes is van hul sterfte ingelig.

"'n Vrou (30), wat 'n passasier in die sedan was, is in 'n kritieke toestand en die 43-jarige bestuurder van die dubbelkajuitbakkie is ernstig beseer. Die bestuurder (28) van die bakkie is ongedeerd, terwyl sy 42-jarige passasier ligte beserings opgedoen het," het Shikwambi gesê.

MINDER ONGELUKKE IN 2018

Intussen het die polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, gister statistieke oor die ongeluksyfers vir 1 Januarie tot 2 Desember 2018 met verlede jaar s'n in dieselfde tydperk vergelyk.

Sterftes het vanjaar met 201 afgeneem, met 492 sterftes in 2018 teenoor verlede jaar se 693.

Daar was 344 minder ongelukke vanjaar, naamlik 3 385 teenoor 2017 se 3 729.

Altesaam 1 131 minder mense is vanjaar in ongelukke beseer (altesaam 5 431 beseerdes) teenoor verlede jaar se 6 562 beseerdes.

Die Namibiese polisie se feestydoperasie vind van 25 November tot 15 Januarie 2019 plaas.

"Ek doen 'n beroep op alle padgebruikers om in die feestyd verkeersreëls te gehoorsaam, by die spoedbeperking en 'n veilige volgafstand te hou en nie te drink en bestuur nie. Moenie voertuie by blinde hoogtes verbysteek nie en trek van die pad af en rus as jy moeg is," het Ndeitunga gesê.

Die polisiehoof het ook gemaan diegene wat met kinders oor grense heen reis, moet die nodige reisdokumente in orde hê.

Hy het gewaarsku teen groot kontantonttrekkings by banke, "met verdagte bankamptenare wat deesdae saam met die misdadigers werk".

Hy het 'n beroep op banke gedoen om waaksaam te wees en hande met wetstoepassers te vat om hierdie praktyk hok te slaan.

"My beroep op almal dié feesseisoen is om enige verdagte aktiwiteite by die naaste polisiekantoor of padblokkade te rapporteer. Moenie toelaat dat misdadigers die feesseisoen ten koste van jou geniet nie; maak seker hulle spandeer Kersfees agter tralies," het Ndeitunga gesê.

Hy het Namibiërs 'n misdaadvrye Kersfees en Nuwejaar toegewens.

Soortgelyk

 

Afrika-lied kom tuis in Namib

22 ure gelede | Kuns en vermaak

Elvira Hattingh - Die Duits-Namibiese kunstenaar Max Siedentopf het wêreldwyd opslae gemaak met ‘n kunsinstallasie in die Namib wat Toto se bekende liedjie “Africa” oor...

CoW verloor ronde teen baas

22 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Die geskorste uitvoerende hoof van die Windhoekse stadsraad (CoW), mnr. Robert Kahimise, het 'n ronde teen sy werkgewer gewen.CoW sal waarskynlik binne...

Sowat 7 000 skeepspassasiers sak op Walvis toe

22 ure gelede | Toerisme

Geskiedenis is gister gemaak toe vier groot passasierskepe in die Walvisbaai-hawe op anker gelê het en sowat 7 000 internasionale reisigers op die hawedorp toegesak...

Herstel internet, toegang tot sosiale media in Zim

22 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Om mense in Zimbabwe die gebruik van internetdienste te ontneem, is ‘n skending van hul menseregte en benadeel die ekonomie.“Ons raam die...

Weer vir 17 Januarie 2019

22 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie oor die sentrale,...

Jong Namibiër maak biomediese deurbrake

22 ure gelede | Gesondheid

Denver Kisting - Sy twee jonger sibbe se worsteling as kinders met asma het ’n jong Namibiese ingenieur aangespoor om ’n toestel te ontwerp wat...

Lui-lui telefoon

22 ure gelede | Tegnologie

Telecom Namibia se landlyne in Windhoek was sedert Dinsdag buite werking. Mnr. Oiva Angula, Telecom Namibia se hoof van korporatiewe kommunikaise en openbare skakelwese, het...

Gedenkdiens gehou vir slagoffers van ongeluk

22 ure gelede | Plaaslik

’n Gedenkdiens vir ses van die sewe slagoffers wat onherkenbaar verbrand is tydens die ongeluk op 10 Augustus 2018, is Dinsdag op Otjiwarongo gehou. Die...

Meer as N$2 miljoen se stukkende verkeersligte

22 ure gelede | Regering

Die hoofstad se munisipaliteit het in 2018 meer as N$2 miljoen bestee om stukkende verkeersligte te herstel nadat dit in padongelukke beskadig is.Mnr. Harold Akwenye,...