Vergeet van laer belasting, sê Calle

Land nog nie uit die rooi

25 January 2019 | Ministeries
Denver Kisting – Namibiese belastingbetalers kan maar taksverligting op hul mae skryf.

Daar is ook geen manier wat die regering elders vir nog geld bakhand sal gaan staan nie.

Soos sake tans staan, is die land reeds een persentasiepunt hoër in die rooi as sy eie, selfopgelegde maatstaf van 10% skuld van sy inkomste.

Eweneens kan die regering ook nie besteding verhoog om die ekonomie ’n hupstoot te gee nie, want sonder inkomste en skuld is daardie opsie van die baan.

Só het mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, gister in Windhoek gesê.

Die besonderhede oor hoe hy reken ons voortgesette reddingspogings moet ontvou, sal in die 2019-‘20-begroting vervat word, wat hy na verwagting in die eerste week van Maart in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel sal lê, het hy gesê.

Volgens hom lê die land se heil daarin om selfs beter om te gaan met die beperkte hulpbronne tot die land se beskikking.

Die private sektor sal ook moet begin om hul kant meer te bring om die regering se pogings te steun, sê hy. Dié sektor is veral ’n belangrike lewenslyn om beleggingsgeleenthede te ontgin, sê hy.

“Die private en openbare sektor sal kragte moet saamsnoer en die beste maak met die bietjie wat ons het. Ek sê bietjie omdat ons ’n klein ekonomie is.”

Schlettwein sê voorts kapitaal wat die land verlaat, is ook problematies. “Die uitvoer van kapitaal beteken kapitaal, wat beskikbaar kon gewees het om die ekonomie te help groei, is verlore en dra tot ander ekonomieë by.”

Korrupsie bring ook sy kant om ekonomiese groei in die land teen te werk, sê Schlettwein.

Die aantal ministeriële werknemers wat met korrupsie of bedrog verbind word, het sedert verlede jaar meer as verdubbel. In 2017 is ses mense óf afgedank óf weens wangedrag aangekla, terwyl die 2018-syfer op 15 staan.

Amptenare van die ministerie moet onthou hul werk het ’n impak op elke liewe landsburger. Boonop is hulle self belastingbetalers en dus ook aan die ontvangkant van die gehalte diens wat hulle lewer, sê hy.

Dit is daarom noodsaaklik dat hulle te alle tye eties en eerlik optree, het die minister gesê.

Hy het gesê as dit nie was vir die noodbesnoeiingsmaatstawwe verlede jaar nie, sou die Namibiese ekonomie moontlik in duie gestort het.

Schlettwein het die analogie gebruik van ’n gebreekte ledemaat – óf jy kan dit los, dit skeef laat aangroei en dit moontlik lewenslank laat probleme gee óf jy kan dit opereer.

’n Operasie sal tussentydse pyn teweegbring, maar moontlik langtermynoplossings verseker.

Hy sê teen dié tyd is dit ou nuus dat 2018 ’n rowwe jaar vir die land was “waartydens die plaaslike ekonomie aangepas moes word”.

Die ganse land is besig met grootskaalse hersiening. Wat sy ministerie betref, bevind dit homself midde-in beduidende hersiening wat verandering in institusionele kapasiteit betref.

Onder meer is die aankopestelsel volledig verander, sê hy.

Hiernaas vind ’n omvattende hersiening van die belastingstelsel ook tans plaas.

Baie mense is bang vir verandering. Maar hulle het bevind diegene wat gekant is teen die veranderde verkrygingstelsel is dieselfde mense wat korrup voordeel getrek het uit die stelsel se voorganger.

Hy het toegegee daar is uitdagings met die inwerkingstelling van die stelsel.

Op die wêreldfront lyk die prentjie ook steeds somber, het die minister gesê. Onder meer het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) aangedui die wêreldekonomie sal waarskynlik vanjaar vir lief moet neem met groei van nagenoeg 3,5%.

Aanvanklik is geskat die wêreld se ekonomie sou in 2019 met 3,9% gegroei het.

Dié wêreldliggaam het egter reeds in Oktober verlede jaar aangekondig hy pas sy verwagte groei afwaarts aan.

Bedankings by ministerie

Intussen sê Schlettwein die feit dat net sowat 1% van die ministerie van finansies se personeel in 2018 bedank het, is ’n bewys dat dit nie ’n slegte plek is om voor te werk nie.

In totaal het sowat 1,9% van werknemers laas jaar bedank, afgetree of is oorgeplaas.

“Om ’n bestendinge personeelkomponent in ’n instelling te hê, is deurslaggewend om doeltreffend te wees,” het hy gesê toe hy gisteroggend die ministerie se werknemers in Windhoek toegespreek het.

Drie werknemers van die ministerie is verlede jaar oorlede.

Soortgelyk

 

Honderde miljoene vir veevoer nodig

22 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Die 2019 droogte is ‘n omvangryke ramp en ten minste N$170 miljoen is nodig om net 5 persent van die nasionale veekudde...

Min of geen handboeke vir nuwe leerplan

22 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Óf drupsgewys óf glad nie. Dit is volgens verskeie skole oraloor die land die huidige stand van handboeke vir die nuwe leerplan...

Regional council must account for vandalised buildings

22 ure gelede | Infrastruktuur

AUSSENKEHR – The //Kharas Regional Council must account for government buildings that are vandalised and left to become white elephants, the minister of urban and...

Swapo beslis dorpsraadslede se lot

22 ure gelede | Politiek

Dorpsraadslede van Okahandja en Rundu moes Maandag ure lank by Swapo se hoofkantoor in Windhoek wag om te hoor wat hul lot is. Verskeie nasionale...

Groeiende stad druk rioolstelsel

22 ure gelede | Infrastruktuur

Elvira Hattingh - Die Windhoekse munisipaliteit erken sekere rioolpype in die stad moet opgradeer word om die groeiende getal stadsbewoners te akkommodeer. Terselfdertyd beloof hulle...

Weer vir 19 Februarie 2019

22 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Bloedige hittetoestande word vir die res van die week in die binneland verwag.BINNELAND: Mooiweer en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik...

Gammams staan steeds stil

22 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh – Windhoek se munisipaliteit (CoW) sê hul Gammams-watersuiweringsaanleg staan steeds stil nadat swaarbrandstofolie meer as twee weke gelede in die stad se rioolstelsel...

‘Vroue is sterk’

22 ure gelede | Maatskaplik

Mariselle Stofberg – TrueKrav Namibia het Donderdag, in samewerking met die Namibiese Vrouevereniging en Kosmos, ’n praatjie oor geslagsgeweld in die hoofstad aangebied.TrueKrav bied...

Namcor wil vry van sekere wette wees

22 ure gelede | Energie

Elvira Hattingh - Namibië se Nasionale Petroleumkorporasie (Namcor) het ‘n aansoek by die Namibiese Kompetisie-kommissie ingedien om vir die volgende 10 jaar vrygestel te wees...