Vereniging lê aan op wapenwet

Eienaars stig vereniging

23 July 2019 | Regering
Elvira Hattingh - Namibiese vuurwapeneienaars het ‘n vereniging gestig en gaan “formeel in gesprek tree” oor voorgestelde wysigings aan die Namibiese wapenwet.

Die pasgestigte Vuurwapeneienaarsvereniging van Namibië (Goan) sê daar is verskeie aspekte in die voorgestelde wet wat hulle bekommer, maar die grootste is die vereiste ballistiese toetse vir elke enkele vuurwapen wat wettig in Namibië verkry is.

“Regulasies hiervoor blyk nie haalbaar te wees nie,” het die Namibië Professionele Jagvereniging (Napha) se uitvoerende hoof, me. Tanja Dahl, aan Republikein gesê.

Dit volg nadat die Nasionale Vergadering (NV) onlangs in reses gegaan het kort ná dit ‘n wysiging aanvaar het op die wet wat vuurwapens en ammunisie beheer.

Voorts sal dit na die Nasionale Raad vir goedkeuring gaan.

Die wysiging, wat onder meer behels dat vuurwapenlisensies vyfjaarliks hernu moet word en ‘n bevoegdheidsertifikaat elke keer getoon moet word, is deur die adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Daniel Kashikola, voorgelê.

WETTIGE WAPENS

“Die vraag moet wees wat die doel van hierdie nuwe wetgewing is. As dit op die bekamping van misdaad fokus, moet statistieke gegee word van hoeveel misdade met wettig geregistreerde wapens gepleeg word. Maak dit sin om wettige eienaars aan nog meer vereistes te onderwerp?” vra Dahl.

“Napha ondersteun die goedgestruktureerde en gereguleerde hantering van vuurwapens en ammunisie, asook ‘n soliede basis van verantwoordelike vuurwapeneienaars in Namibië. Tog, om ‘n wapen in Namibië te kry, verg rééds groot toewyding van ‘n voornemende eienaar,” sê sy.

Dahl het verduidelik die voorgestelde wysigings aan die Namibiese wapenwet sal alle geweereienaars in die land raak, sowel as jagters wat die land met hul eie gewere wil besoek.

Dienooreenkomstig het verskeie vuurwapenhandelaars, skietklubs asook Napha die Goan op 11 Julie vanjaar gestig.

Volgens Dahl is Goan tans besig om ‘n formele brief aan die Regshervormingskommissie te skryf oor hul kommer oor die proses wat gevolg is om die wetswysigings ter tafel te lê.

Alle vuurwapeneienaars word genooi om die nuutgestigte vereniging te steun sodat hul belange verteenwoordig kan word.

Dahl sê Goan sal formeel in gesprek tree om ‘n werkbare oplossing te probeer vind en sal binnekort aankondig waar steun en insette benodig word en hoe om lidmaatskap aansoek gedoen kan word.

AGTERGROND

Republikein het in Maart berig Kashikola het aan die NV gesê die huidige wet is vrot van leemtes “wat die beheer van vuurwapens en ammunisie betref”.

Hy het toe gesê niemand wat om ’n vuurwapenlisensie aansoek doen, hoef te bewys hulle is in staat om ’n wapen te hanteer of met vuurwapens handel te dryf nie.

Boonop was daar in 2004 sowat 97 262 wapenlisensies in omloop, terwyl dié syfer tans op 210 000 staan. In die derde kwartaal van 2018 alleen is 4 870 aansoeke om wapens te besit ingedien.

Die helfte hiervan was vir handwapens om glo vir selfverdedigingsdoeleindes te gebruik.

Hy sê 80% van gesteelde vuurwapens is handwapens, waarvan sommige vir misdaad gebruik word.

Enigiemand wat voortaan om ’n wapenlisensie aansoek doen, moet eers ’n bevoegdheidsertifikaat bekom. Die bepaling geld vir enigiemand wat ’n wapen wil besit, in wapens handel wil dryf of dit vervaardig.

Aansoeke om bevoegdheidsertifikate moet vyfjaarliks op ’n voorgeskrewe vorm aan die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie gerig word en sal byvoorbeeld nie uitgereik word aan enigeen wat aan ’n geestesongesteldheid ly, aan drank en dwelms verslaaf is, of aan enige oortredings skuldig bevind is en tronkstraf sonder die opsie van ‘n boete opgelê is nie.

Mense wat in Namibië óf elders aan ’n geweldsmisdaad, insluitend huishoudelike geweld en seksuele mishandeling, skuldig bevind is, sal ook nie ‘n bevoegdheidsertifikaat ontvang nie.

Soortgelyk

 

KOLLIG Voorblad

23 ure gelede | Byvoegsels

Swakop hou Makietie bl. 4

ECN gaan Itula se aansoek teenstaan

23 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Vanweë die beweerde negatiewe uitwerking van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) in die afgelope presidensiële verkiesing moet die proses tersyde gestel word.Dr. Panduleni Itula,...

Ekonomie bloei lánkal

23 ure gelede | Plaaslik

Jo-Maré Duddy – Ekonomiese groei het reeds in 2015 skerp begin tuimel sonder dat dit deur amptelike syfers weerspieël is, toon nuwe data wat gister...

NOU AAN DIE GANG

23 ure gelede | Byvoegsels

» Die Swakopmund Wetenskaplike Vereniging bied tans ‘n Kersfees-skattejag by die Swakopmund Museum aan. Dit bestaan uit twee afdelings, een vir kinders en een vir...

Geskorste raadslede van Rehoboth herkies

23 ure gelede | Regering

Denver Kisting op Rehoboth – Dieselfde span raadslede wat verlede jaar deur dr. Peya Mushelenga, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, in die pad...

Weer vir 13 Desember 2019

23 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie tot bloedig warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Winderige weer sal...

STEMFEITE: NAM & SA 2019

23 ure gelede | Politiek

In Namibië het Swapo persentasiegewys meer steun ingeboet as die ANC in Suid-Afrika.

NamibRe: Versekeraars moet 12,5% sedeer

23 ure gelede | Howe

Elvira Hattingh Plaaslike versekeringsmaatskappye móét voorts vir herverseke­ring by NamibRe opdok - tot tyd en wyl daar in 'n hangende hofsaak oor die wettigheid van...

CoW baklei teen beslaglegging

23 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die Windhoekse munisipaliteit (CoW) baklei tans verbete teen ’n beweerde beslagleggingsbevel wat poog om van hul vaste bates te konfiskeer.Veertien superintendente verbonde...