Verbrande meisie moontlik doodgeslaan
Verbrande meisie moontlik doodgeslaan

Verbrande meisie moontlik doodgeslaan

Die meisie wie se verbrande oorskot die afgelope naweek in 'n vullisdrom gevind is, is moontlik oor 'n lang tydperk mishandel.
Denver Kisting
Denver Kisting



In dié stadium ondersoek die Namibiese polisie geen verband tussen moetierituele en die afgelope naweek se moord op 'n negejarige meisie, Akundaishe Natalie Chipomho, nie.

“Daar is nog geen aanduiding daarvan nie. Geen liggaamsdele is verwyder nie. Die liggaam was behoue hoewel verbrand,” het komm. Nelius Becker, wat die moordondersoek lei, gistermiddag op 'n nuuskonferensie in die hoofstad gesê.

“Die bewyse in dié stadium dui op aanranding.”

Volgens Becker het 'n ooggetuie gesien hoe 'n man en 'n vrou Vrydagaand 'n munisipale drom in Windhoek-Noord in Ooievaarstraat stoot.

Dié bedrywighede het die getuie agterdogtig gemaak, sê Becker.

Die vrou het 'n klein baba op haar rug gedra.

Hoewel die getuie nie die mense geken het nie, kon hy 'n beskrywing van die mense gee, sê Becker.

Volgens dié speurder het die polisie toe van deur tot deur in die woonbuurt geloop om verdere leidrade in te samel.

Dít het hulle op die spoor geplaas van 'n tweeslaapkamermeenthuis in die Rhino Park-omgewing.

Die polisie kon ná gesprekke met onder meer bure vasstel dat agt mense in dié huis woon: 'n man, twee vroue en vyf kinders.

Die oorlede meisie, die enigste een wie se paspoort in die huis gevind is, is glo dikwels aangerand.

In 'n stadium is maatskaplike werkers ontbied.

Die afgelope maand het die beweerde aanrandings op die meisie glo toegeneem.

Becker sê hulle navorsing het toe bevind die man en die een vrou is getroud en drie van die vyf kinders is hulle s'n.

Die ander vrou, 'n verpleegster by 'n hospitaal in Windhoek, is vermoedelik die ma van die ander twee kinders.

Al dié mense is Zimbabwiërs.

Die polisie vermoed die vermoorde meisie is die verpleegster se oudste kind.

Hoewel die polisie reeds Saterdagaand die meenthuiskompleks besoek het, het hulle eers Sondagoggend 'n lasbrief bekom om die huis te deursoek.

Saterdagaand met hul aankoms het hulle met bure gaan gesels en toe wel by die huis aangedoen ná niemand aanvanklik tuis was nie.

Die polisie het toe net die een volwasse vrou met die baba aangetref. Die vermoede is dat dié vrou en haar man Vrydagaand die oorledene se oorskot gaan stort het terwyl hul baba op haar rug was.

Die volgende oggend ná die lasbrief bekom is, was daar weer eens niemand tuis nie.

Hulle het toe die ma gaan haal by die hospitaal waar sy werk.

Met hul aankoms by die meenthuis het sy beweer die huis se sleutel is by 'n neef van haar, sê Becker.

Sy het toe dié vermeende neef, wat later toe blyk die volwasse man te wees, in die polisie se teenwoordigheid gekontak.

Uiteindelik, sê Becker, moes die polisie gedwonge toegang tot die huis verkry.

Die ma is toe in hegtenis geneem.

Volgens Becker moes die egpaar, wat in daardie stadium elders was, agterdog vermoed het – veral ná die oproep aan hom.

Selfoonrekords toon hulle het omstreeks 11:00 in 'n noordelike rigting uit Windhoek begin vlug.

'n Taxibestuurder het hulle geneem en die egpaar se drie jong kinders was ook saam.

Becker en sy span het toe met kollegas in die Otjozondjupastreek geskakel, wat “binne vyf minute” 'n mobiele padblokkade by die Okakarara-afdraai opgerig het.

Die Zimbabwiese egpaar is daar in hegtenis geneem.

Die taxibestuurder is ook vir ondervraging na Windhoek vervoer.

Hy en die Zimbabwiese man is saam vervoer, terwyl die man se vrou en hul kinders in 'n afsonderlike voertuig geneem is.

Tien kilometer voor Otjiwarongo het die polisiebeampte, wat die mans vervoer het, egter beheer oor die voertuig verloor waarná dit die pad verlaat en omgeslaan het.

Al die insittendes, wat twee polisiebeamptes insluit, is beseer.

Die Zimbabwiese verdagte, wat ernstig beseer is, is intussen na Windhoek oorgeplaas vir verdere behandeling.

'n Nadoodse ondersoek sal na verwagting vandag gedoen word om die presiese oorsaak van die meisie se dood te bepaal en of sy reeds dood was toe haar liggaam aan die brand gesteek is.

Becker sê DNS-ontleding sal waar­skynlik nodig wees om haar identiteit beslissend te bepaal.

Die twee vroue sal na verwagting môre in die hof verskyn. Die man sal verskyn sodra hy voldoende herstel om voor die hof gedaag te word, sê Becker.

Vroeër het die polisie gesê die oorlede meisie was reeds tien jaar oud, maar Becker het gister gesê sy was nog

nege.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!