Venezuela se tragiese lot kan SA ook tref

Gewone mense kry die swaarste

04 January 2017 | Ekonomie
Toe hongersnood verlede jaar tienduisende landsburgers na die strate van Venezuela gedryf het om protes aan te teken teen astronomiese voedselpryse, het pres. Nicolás Maduro die weermag aangestel om die krimpende kosvoorraad te bestuur. Weermag­generaals is in bevel van alles – van botter tot rys – geplaas.

Maar pleks daarvan om hongersnood te beveg maak die weermag geld daaruit, is bevind in 'n ondersoek deur Associated Press (AP) wat vandeesweek gepubliseer is.

In die middel van die nag word kleinhandelaars op onwettige markte wat deur die weermag beheer word, gedwing om tot 100 keer die vasgestelde staatsprys vir stapelvoedsel te betaal. Daarby word tonne bederfde voedsel weggegooi omdat die aandrang op omkoopgeld die verspreiding van voedsel vertraag – terwyl gewone mense in lang toue moet staan om skaars voedselprodukte, soos 'n stukkie hoender, te koop.

“Die weermaglede op dié markte hou toesig oor sakke geld. Hulle het altyd alles wat ek benodig,” het 'n kruidenier, Jose Campos, aan AP vertel.



Waar het alles begin?

Dié olieryke land was eens die rykste in Latyns-Amerika.

Die land se voormalige president, Hugo Chávez, het in 2004 'n nasionale departement van voedsel geskep. Sy sosialistiese regering het plase en fabrieke genasionaliseer – en toe verwaarloos, sodat huishoudelike produksie opgedroog het.

Toe die prys van olie in 2014 ineengestort het kon die regering nie langer bekostig om al die voedsel wat die land benodig in te voer nie.

Dit is gewone mense wat die swaarste kry. Voedsel bereik nie diegene wat dit die nodigste het nie en wangevoede kinders sterf in hospitale, terwyl voedsel-opstande alledaags geword het en deur die weermag onderdruk word. Maar die weermag is in die hart van die korrupsieweb, sê AP, nadat dié nuusagentskap met meer as 60 mense, insluitend vyf voormalige generaals, onderhoude gevoer het.

“Deesdae is voedsel 'n beter onderneming as dwelms,” sê die afgetrede generaal, Cliver Alcala, wat eens in beheer van grensveiligheid was.

Die land voer byna al sy voedsel in en korrupsie het die pryse hemelhoog gedryf.



Korrupsie vier hoogty

Een Suid-Amerikaanse sakeman het aan AP vertel dat hy miljoene dollars in gunslone aan amptenare van Venezuela moes betaal, insluitend US$8 miljoen aan die land se minister van voedsel, genl. Rodolfo Marco Torres.

Die sakeman verduidelik dat handelaars soos hy kan bekostig om dié omkoopgeld te betaal omdat hulle reuse-winsmarges in hul regeringskontrakte inbou. 'n Enkele kontrak ter waarde van US$52 miljoen om geelmielies in te voer, het 'n potensiële oorbetaling van US$20 miljoen ingesluit, vergeleke met die markprys op daardie tydstip, het AP bevind.

Sommige kontrakte gaan na maatskappye wat geen ondervinding in die voedselsektor het nie, of wat slegs op papier bestaan.

Daarby word heelwat van die ingevoerde besendings voedsel bederf omdat amptenare die skepe buite die hawe laat wag totdat die omkoopgeld betaal is, het 'n hawewerker aan AP gesê.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) bereken dat inflasie in Venezuela vanjaar tot 1 600% sal bereik.

Volgens Forbes.com het die swartmarkwaarde van die land se geldeenheid, die bolivar, só gedaal dat sommige handelaars nou eerder die bondels note weeg as om hulle te tel.



Suid-Afrika kan in diÉ strik beland

Venezuela se olieproduksie word deesdae hoofsaaklik gebruik om skuld af te betaal – veral aan China.

“Die land het nie die kapitaal om sy olieproduksie te handhaaf nie, wat nog te sê uit te brei, en omdat buitelandse beleggers afgeskrik is deur 'n ideologie wat vyandig teenoor private beleggers is, is hierdie reddingsboei nou nutteloos,” sê Terence Corrigan van die Instituut vir Rasse-aangeleenthede.

Hy waarsku dat Suid-Afrika versigtig moet wees met die populistiese aansprake om minerale hulpbronne te nasionaliseer.

“Die meedoënlose stigmatisering van die bedryf en oproepe om nasionalisering ondermyn beleggersvertroue in dié sektor. 'n Toekoms waar ons enorme minerale rykdom onder die grond vasgevang bly, kan vir ons voorlê.” - Netwerk24

Soortgelyk

 

Tronkmoordenaars gevonnis

4 ure gelede | Howe

In ’n uitspraak wat vanoggend in die hoërhof in Windhoek gelewer is, het regter Dinnah Usiku vir Herman Rukero (28), Benedictus Afrikaner (31) en Maleachi...

Weg met Wambo, eis Hardap

17 ure gelede | Regering

Catherine Sasman - Inwoners van regoor die Hardapstreek het gister in ‘n konvooi na Windhoek gery om ‘n klagskrif aan die minister van stedelike en...

Weer vir 22 Junie 2017

17 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig oor die //Kharasstreek, met ligte reën oor die verre suidelike dele van dié streek. Elders sal dit mooi weer...

Man vas oor lyk in vlak graf

17 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht - ’n Man wat ’n klag van verkragting in die gesig staar, is in hegtenis geneem in verband met die moord van ’n...

DTA sleep Katjavivi hof toe

17 ure gelede | Regering

Catherine Sasman - Die amptelike opposisieparty, DTA van Namibië, sê dit gaan die Speaker van die Nasionale Vergadering, professor Peter Katjavivi, voor die hof te...

Mensehandel: Nóg kan sit

17 ure gelede | Vervoer

Francoise SteynbergTwee verdagtes, onder wie 'n werknemer van Air Namibia op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, gaan vandag in verband met mensehandel in die landdroshof...

3 jaar tronkstraf vir korrupte raadslid

17 ure gelede | Misdaad

Die finansiële bestuurder van die Rehoboth dorpsraad wat verlede jaar op 11 klagte van korrupsie, bedrog en vervalsing in hegtenis geneem is, is in die...

Staatsaanklaer vas oor vermeende bedrog met verkeersboetes

17 ure gelede | Misdaad

'n Staatsaanklaer by die landdroshof op Otjiwarongo is met borgtog van N$2 000 vrygelaat nadat hy deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) op klagte van korrupsie in...

Ontwikkelingsbank skenk aan kinders

17 ure gelede | Plaaslik

Yolanda Nel - Die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) het 'n skenking aan die kindersentrum Hope Village gemaak wat vir hul groentetuin aangewend gaan word.Mnr. Martin...