Venaani: Kieskommissierdink na Swapo se pype
Venaani: Kieskommissierdink na Swapo se pype

Venaani: Kieskommissie dink na Swapo se pype

Vir die afsienbare toekoms blyk tradisionele stem­metodes Namibiese kiesers se voorland te wees.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) se aankondi­ging Vrydag dat tradisionele stembriewe eersdaags in twee tussenverkiesings op Outjo en Otjiwarongo gebruik sal word, ontlok sterk reaksie.

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, het gisteroggend by navraag gesê die ECN “dink net wanneer Swapo wil hê hulle moet dink”.

Hy het daarop aangedring dat die nasionale kiesliggaam moet verduidelik hoekom “hulle nooit na rede luister nie”.

Die ECN se hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, sê hulle het op tradisionele stembriewe besluit ná beraadslaging met 13 politieke partye, insluitend die PDM.

Hierop het Venaani gister gesê: “Ek verskil nie daarvan nie, maar hoekom is ons hier? Ons is hier weens die ECN se lomp benadering tot beraadslaging met belanghebbendes.”

Die hooggeregshof het vroeër vandeesmaand beslis 'n besluit deur die destydse minister van stedelike en landelike ontwikkeling om 'n afdeling van die kieswet gedeeltelik in werking te stel, was onregmagtig en ongrondwetlik.

Die afdeling hou verband met die gebruik van elektroniese stemtoestelle (EVM's). Die minister het in 2014 besluit dié toestelle moet voortaan in nasionale verkiesings gebruik word, maar sonder die meegaande naspeurbare papierspoor.

Die eertydse onafhanklike pre­sidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula, het die ECN onlangs suksesvol hof toe gesleep oor dié gedeeltelike inwerkingstelling van die kieswet.

Volgens Venaani is dié uitspraak nie net 'n tikkie oor die ECN se vingers nie, maar 'n hou oor hul kop.

Die opposisieleier sê die ECN behoort te sê wat hul wedstrydplan behels en of stembriewe die toekoms is.

Hieroor sê Mujoro hulle sal in Maart en April vanjaar vergaderings met belanghebbendes belê om oor die toekoms te besin.

Mnr. Mike Kavekotora, die leier van die Rally for Democracy and Progress (RDP), het gister gesê: “Dit is inderdaad wat hulle lank terug moes gedoen het toe hulle besef het hulle kan nie ten volle aan die kieswet voldoen nie.”

Volgens hom het die ECN hiervan geweet “en ek het hulle tydens ons beraadslagende vergaderings gesê hulle het 'n alternatief en hoef nie 'n onregmatige (opsie) op Namibiërs af te dwing nie”.

Kavekotora meen dít is boonop 'n klap in die gesig van die regbank “wat probeer het om die onwettige EVM's tot 'n datum in die toekoms uit te stel”.

Die hooggeregshof het in sy uitspraak vroeër vandeesmaand gelas geen EVM mag ná 21 Maart vanjaar sonder 'n naspeurbare papierspoor gebruik word nie.

Omdat die hooggeregshof nie die presidensiële verkiesing van 27 November 2019 nietig verklaar het nie, het Itula verlede week aangedui hy sal hom opnuut tot dié hof wend.

Itula het gister op sy beurt oor die gebruik van stembriewe gesê: “Een motor wat padvaardig is, is beter as om 'n onpadvaardige motor te gebruik. Dit is die wet en ingevolge geldigheid van wette móét dit gebruik word.”

Hy het benadruk die ECN is nooit gedwing om EVM's te gebruik nie. “As dit so maklik is om die wet te volg, ná hulle in Februarie uitgevind het sonder 'n papierspoor sal die verkiesing nie geldig wees nie, waarom het hulle nie die stembriewe (in November) in werking gestel nie? Hulle het 'n keuse gehad.”

Mnr. Ivan Skrywer, 'n leier van die Landless People's Movement (LPM), het gesê: “Basies is stembriewe ook 'n moeilike benadering omdat Swapo daarvan beskuldig is dat hulle stemme gesteel het wat tot die aankoop van die EVM's gelei het.”

Syns insiens toon die terugkeer na stembriewe die ECN se onvermoë om met moderne tegnologie om te gaan.

Volgens hom behoort die ECN-kommissarisse en die liggaam se uitvoerende bestuur “ná so 'n ver­skriklike mislukking” te bedank.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!