Venaani bly aan stuur van PDM-skip

Die amptelike opposisie het die afgelope naweek besluit wie hom later vanjaar in die nasionale verkiesing gaan verteenwoordig.
Denver Kisting
Denver Kisting – Mnr. McHenry Venaani, president van die amptelike opposisie, het die naweek sy posisie onbestrede behou.

Die Popular Democratic Movement (PDM) het op Keetmanshoop byeengekom om vir ’n uitvoerende en sentrale komitee te stem.

Dít kom nadat die party laat verlede jaar sy grondwet op ’n buitengewone kongres gewysig het om dié verkiesings moontlik te maak.

Die vorige partyleierskap se termyn het in daardie stadium verval en is tot die afgelope naweek se verkiesing verleng.

Die verkiesing is genoodsaak deur die nasionale en presidensiële verkiesings wat na verwagting in November vanjaar sal plaasvind.

Venaani het onlangs tydens pres. Hage Geingob se staatsrede met die staatshoof gespot dat dít sy (Geingob se) laaste geleentheid sal wees om die nasie as president oor die land se welstand toe te spreek.

Mnr. Nico Smit, wat ook die afgelope naweek onbetwis tot tesourier-generaal herkies is, sê 310 van die 320 verwagte afgevaardigdes het die verrigtinge bygewoon.

“Dit was baie, baie goed verteenwoordig,” het hy by navraag telefonies gesê.

Volgens hom het die verkiesing in “’n goeie gees van vertroue” plaasgevind.

Die LP me. Elma Dienda moes die naweek die knie vir me. Jennifer van den Heever, ook ’n LP, buig om die leisels as visepresident van die PDM oor te neem.

Mnr. Ricky Vries het as oorwinnaar uit die voorsitterstryd getree ná hy mnr. Charles Pieters geklop het, sê Smit.

Hy sê voorts mnr. Manuel Ngaringombe het loshande die sekretaris-generaalstryd gewen toe hy mnre. Athanatius Mukoya en Ignatius Semba in die stof laat byt het.

Mnr. Linus Tobias is Ngaringombe se adjunk, sê Smit.

Kort ná verlede jaar se buitengewone kongres het Venaani aan Republikein gesê hy is slaggereed om die party verder te lei.

Smit sê naas die ses lede van die uitvoerende komitee het hulle 50 lede vir die sentrale komitee gekies.

Hulle het besluit op 50 in plaas van 40 om vir 10 reserwes voorsiening te maak sou enige vakatures in die afsienbare toekoms ontstaan, sê Smit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!