Veediewe loop hul rieme styf in Omaheke

Twee slae is geslaan met die vastrek van vermeende veediewe naby Omitara en Uhlenhorst Woensdagnag.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer– Twee boere van die Ooste – die een van Omitara en die ander van Uhlenhorst – is onderskeidelik vyf verse en negentien skape kwyt nadat veediewe op hul plase toegeslaan het.

Al troos ná dié verliese is dat die mans wat na bewering vir dié onwettige slagtery verantwoordelik was, blitsig hul rieme styf geloop het.

Vier mans is Woensdagnag deur die polisie van Seeis in hegtenis geneem nadat hulle na bewering vyf verse op die plaas Owinieikiro van mnr. Llewellyn Kruger geslag het. Dit is naby Omitara.

Dieselfde nag is vyf mans tussen Uhlenhorst en Derm aangekeer nadat hulle glo vroeër die dag 19 skape by mnr. Appie van Niekerk geslag het. Hy boer naby Uhlenhorst.

Een van hulle is na bewering ‘n polisieman van Hoachanas. Hy het volgens inligting glo ook die permit vir die vervoer van die vleis uitgereik.

In Kruger se geval is die mans aangekeer toe hulle bakkie met die vleis in sakke agterop, deur sers. Lucky Nyangana en sy kollega, adjudant-offisier Ndove, voorgekeer is.

“Hulle het patrollie gery op die D1808 wat deur my plaas loop. Toe die bakkie van voor af kom en die polisie hulle wou aftrek, het hulle verbygejaag.

“Die polisie het hulle toe agterna gesit tot by die teerpad (Windhoek-Gobabis-pad) en toe die polisie naby kom, het hulle stilhou, uitgespring en te voet gevlug.”

Hy sê vier van die vyf mans is gevind. Een is nog voortvlugtend.

Volgens Kruger is vasgestel die vermeende beesdiewe het die oorplaatjies uit sy beeste se ore verwyder en dit vervang met ander oorplaatjies.

“Daardie plaatjie se nommer is 7345-442-3. Ons kon vasstel dit is op 2 Augustus deur ene H. Molongwane van Aminius op NamLits (die Vleisraad se naspeurbaarheidstelsel) geregistreer.”

Hy meen dit dui moontlik op die modus operandi van ‘n sindikaat.

Kruger sê ‘n .22-geweer is in die mans se besit gevind. Die verse is na bewering met die hulp van ‘n plaaswerker uitgesoek en toe in ‘n kraal gekeer waar dit van kant gemaak en geslag is.

Kruger is vol lof vir die polisie van Seeis en sê die mans sal na verwagting vandag in die landdroshof in Katurura verskyn.

Volgens mnr. Rainer Ling van Uhlenhorst sou die vyf mans wat na bewering die 19 skape op Van Niekerk se plaas geslag het, weggekom het as dit nie vir die kameras was wat die Uhlenhorst-boerevereniging langs die pad aangebring het nie.

“Die slagters is Woensdagmiddag afgelaai en net ná eenuur Donderdagoggend het die bakkie teruggekom van Hoachanas om hulle met die karkasse op te laai, sê hy. “Die padkameras gaan nie misdaad stop nie, maar dit sal verseker help om aksies soos hierdie suksesvol te maak.”

Dit is nie bekend of die vermeende veediewe vandag in die landdroshof op Dordabis sal verskyn nie.

Intussen vergader genl.maj. Joseph Shikongo, adjunk- inspekteur-generaal van die polisie, weer Saterdagoggend om 10:30 op die wildplaas Rooikraal met boere en bekommerde gemeenskapslede oor die toename in misdade soos veediefstal.

Dit is in opvolg op die vergadering wat in April plaasgevind het.

Kruger sê boere hoop die polisie sal terugvoering gee oor vordering wat gemaak is met ondersoeke en vervolging.
[email protected]

FOTO’s
Negentien skape is Woensdag deur veediewe op die plaas van mnr. Appie van Niekerk naby Uhlenhorst geslag. Daar word vermoed 'n polisieman was hierby betrokke. Foto Verskaf

Hier laai die polisie die karkasse van die gesteelde verse by die polisiekantoor op Seeis af. Foto Verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!