Varsitybeker ‘begroot vir Covid-19-toetse’

11 January 2021 | Sport
Marnus Kok – In die begroting van die Varsitybeker-rugbyreeks word daar voorsiening gemaak vir die uitgawe om Covid-19-toetse op spelers en personeel uit te voer, sou dié studentereeks wel vanjaar beslis word.
Die versekering kom van Xhanti-Lomzi Nesi, bestuurder van die Varsitybeker-reeks, wat veronderstel is om op 8 Maart te begin.
Met die coronavirus wat die laaste ruk weer handuit ruk, is daar kommer dat die reeks nie vanjaar beslis sal word nie, maar Rapport het die naweek berig daar is planne om daarmee voort te gaan. Een van die opsies is om dit in ’n bioborrel te laat plaasvind.
Dit het vrese laat ontstaan dat die koste van toetsing, wat glo minstens R100 000 per span per maand kan beloop, vir universiteite se rekening sal wees.
“Die groot ding is hoe ons die kompetisie gaan struktureer. Om te toets, is ’n groot uitgawe. Sou die reeks voortgaan in die gewone formaat, sal dit beteken dat ons elke week moet toets,” sê Nesi.
“Sou dit egter in ’n bioborrel plaasvind, sal jy net toets wanneer spelers en personeel dit binnegaan – en dan dalk weer op die 10de of 14de dag. Dit sal die koste van toetse redelik afbring. Ons kan nog nie sê dit is hoe dit gaan wees nie, maar tans maak toetsing deel van ons bedryfsbegroting uit.”
Die laaste tyd word druk bespiegel dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie vandeesweek gaan aankondig dat amateurrugby, wat skole- en klubrugby insluit, tot Junie gestaak sal word. Dit het die vraag laat ontstaan waaronder die Varsitybeker-reeks val.
“Die Varsitybeker is nie ’n beroepskompetisie nie, omdat die spelers nie betaal word om te speel nie, hoewel hulle beurse by universiteite kry. Maar ons is ook nie amateur nie, ons val tussen die twee,” sê Nesi.
“Ons sal ons laat lei deur SA Rugby. Ons het planne en glo dat ons die reeks vanjaar kan aanbied. Ons het verlede jaar reeds aan verskeie scenario’s gedink en daarvolgens beplan. Dit is egter nie moontlik om nou beslis te sê dat die toernooi sal voortgaan nie.”
Daar is egter ’n paar probleme, waaronder een is dat sommige spanne nog glad nie begin oefen het nie, ten spyte daarvan dat hulle die groen lig daarvoor gekry het. Indien pres. Cyril Ramaphosa vandeesweek, soos al hoe meer gerugte dit wil hê, aankondig dat reis tussen provinsies verbied word, kan dit sake verder bemoeilik.
“Ek hoor by NMU (Nelson Mandela-Universiteit) het hulle nog glad nie geoefen nie, omdat die universiteitkampus gesluit is en Port Elizabeth in ’n brandpunt val. Daardie spelers gaan nie reg wees om te speel as die kompetisie in Maart begin nie,” sê Skillie Bester, spanbestuurder van die Ixias.
“Ek het nie veel hoop dat ons voor Junie gaan begin nie. Ons oefen, maar wat gaan gebeur as die grense gesluit word soos wat in die media bespiegel word? Dan gaan die ouens huis toe en kom nie oefen nie.”
Sou die reeks voortgaan, maar sonder sekere spanne wat byvoorbeeld gedwing word om hulle te onttrek, kan dit in ’n afgewaterde affêre ontaard. Dit kan ook beteken dat afrigters en personeel betrokke by spanne wat nie deelneem nie, se poste in die gedrang kan kom.
Nico Luus, afrigter van Tuks, is positief dat die reeks wel vanjaar gespeel sal word.
“Enigiets is haalbaar. Een van die dinge wat my egter bekommer, is hoe dit die spelers se studie gaan raak as hulle in ’n borrel is.
“Daar is natuurlik baie vrae, soos wie vir die toetse gaan betaal en hoe die reëls gaan werk, maar ek dink daar is ’n gretigheid dat die reeks wel voortgaan. Ek was op ’n vergadering met die spelers en hulle wil baie graag speel.” – Netwerk24


FOTO
Ondersteuners by ’n Varsitybeker-kragmeting tussen die Maties en Ikeys vroeg in 2020 in Stellenbosch. Foto Gallo Images

Soortgelyk

 

Gesondheidswerkers, leerlinge en onderwysers deel van 343 nuwe gevalle

3 ure gelede | Gesondheid

Sewe Covid-19-verwante sterftes is vandag aangekondig en wel vier in Windhoek, twee in Swakopmund en een in Grootfontein. Die sterftes in Windhoek sluit 'n 63-jarige...

Moller, Hatuikulipi se belange onder vergrootglas

18 ure gelede | Misdaad

Hoofredaksie – Een van die transaksies wat deur die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) as deel van die Fishrot-ondersoek gefynkam word, is 'n bedrag van N$8 miljoen wat...

Rekening van N$151 000 bly toe 'jakkals' gly

18 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – 'n Vermeende glyjakkals wat vir 'n maand saam met sy gesin in 'n gastehuis op Swakopmund gebly en glo nie betaal het...

Mans vas oor vervalsing van Covid-19-toetsuitslae

18 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerTwee Zimbabwiese mans is Saterdag omstreeks 12:00 op Katima Mulilo in hegtenis geneem vir die besit was vervalste Covid-19 laboratoriumtoetsverslae van PathCare Namibië.Die mans...

Reënweer bring groot skade

18 ure gelede | Weer

Kristien Kruger – Terwyl Namibië die derde week van swaar neerslae binnegaan, is groot skade reeds aan paaie, landerye en ander infrastruktuur aangerig. Windhoekers is...

Weer vir 11 Januarie 2021

18 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Noordweste, verre Weste en dele van die //Kharasstreek. Elders sal dit bewolk en warm tot baie...

Regering slaan toe op klaringsagente

18 ure gelede | Regering

Phillepus Uusiku – Die regering is in die finale fase van die instelling van strenger maatreëls vir die lisensiëring van klaringsagente.Die instellings beoog om die...

Nafau wen in hof teen Shoprite

18 ure gelede | Arbeid

Kristien Kruger en Adolf Kaure – Stakende Shoprite-werknemers was Vrydagmiddag verjuig toe die hoërhof in Windhoek beslis het dat ’n interdik teen die Shoprite-winkelgroep uitgereik...

Op die spoor van Hardapdam se opvangsgebiede

18 ure gelede | Infrastruktuur

Kallie Pauw (gasskrywer)Die onlangse wonderlike reën in groot dele van Namibië en verslae daaroor en foto's van vol riviere en dansende boere het mense (soos...