Vakbonde tree in bresse vir fabriekswerkers

24 July 2020 | Visserye
Erongo-span – Die president van die Vakbondkongres van Namibië (Tucna), mnr. Paulus Hango, het gesê vakbonde wat werkers in die vissersbedryf verteenwoordig, is bekommerd oor die toekoms van die meer as 600 werkers van Seaflower Pelagic Processors op Walvisbaai.

Hango het gister die werkers wat hierdeur geraak is, toegespreek en benadruk die enigste oplossing om die aflegging van werknemers en die onafwendbare sluiting van die fabriek te vermy, is as die regering 'n kwota aan die onderneming toeken.

Volgens die vakbondleier het van die werkers al sedert Maart vanjaar nie gewerk nie en baie van dié wat deur afleggings in die gesig gestaar word, is jongmense en deeltydse studente wat moet werk om kop bo water te hou.

“Hulle werke is in gedrang. Die maatskappy het kennis gegee dat hul dienskontrakte beëindig gaan word. Dit beteken die 600 werknemers gaan vanaf 1 Augustus geen werk hê nie. Werksverliese moet ten alle koste vermy word, aangesien dit geen voedsel en sekuriteit beteken. Baie van hierdie werkers het geen spaargeld of toegang tot krediet nie.”

Hango sê Seaflower is een van die grootste marsbanker-verwerkingsaanlegte en is gebou om waarde tot visprodukte toe te voeg.

“Dit beteken die visse word met vissersbote en -metodes gevang en word dan op land by die fabriek geblik. Deur waarde toe te voeg, neem die maatskappy meer mense in diens in vergelyking met vriesvaartuie.”

Hy het ook gevra die “opveiling van kwotas” moet ondersoek word.

“Dié manier van dinge doen sal baie onstabiliteit in die bedryf veroorsaak. Baie sal hul werk kwyt wees as gevolg van 'n maatskappy wat nie in staat is om 'n kwota tydens die openbare veilingsproses te bekom nie. Maatskappye sal eenvoudig tot stilstand kom en werknemers sal afgelê word.”



Korrupsie

Hango het gesê die vakbonde staan die regering by in hul stryd teen korrupsie.

“Korrupsie moet ondersoek en deur die hof hanteer word. Dié wat skuldig bevind word moet dienooreenkomstig gestraf word.”

Hy het bygevoeg die inperking wat op die uitbreking van die Covid-19-pandemie gevolg het, het die situasie verder gekompliseer.

“Hierdie werkers kan nie uit die streek reis om by hul gesinne te gaan bly nie. Hulle het nie genoeg geld om huur te betaal nie en word nou uitgeskop. Ons is bekommerd dat hulle onproduktief sal word en hulle na misdaad sal wend om te oorleef.”

Die Namibiese Vakbond vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) het 'n beroep op die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Albert Kawana, gedoen om na die pleidooie van die werknemers te luister en hulle nie die rug toe te keer nie.

“Hierdie is 'n baie belangrike kwessie. Ons smeek die minister om die saak te ondersoek en visvangkwotas aan die maatskappy toe te ken met die doel om die lewensbestaan te beveilig van die werknemers wat hierdeur geraak is. Ons wil ook hê die wet moet sy gang neem met betrekking tot die probleme wat die onderneming tans ervaar en wat spruit uit die bewerings wat daarteen gemaak is,” het mnr. Johannes Shayuka, streekkoördineerder van die vakbond, gesê.

Nafau het voorgestel kwotas moet onder streng voorwaardes aan die maatskappy toegeken word.

“Werknemers moet permanent in diens geneem word, 'n behuising- en vervoertoelaag ontvang, mediese fonds ontvang en begunstigdes van 'n pensioenfonds voorsien word. Deur 'n kwota aan Seaflower toe te ken, sal die regering toesien dat die onderneming sy inmaakfabriek begin en nog 440 persone in diens neem,” het die vakbond gesê.

Die werknemers het op hul beurt ook hul misnoeë oor die huidige omstandighede uitgespreek.

“Ons moeders, vaders, susters en broers het nie gesterf sodat ons natuurlike hulpbronne aan die hoogste bieër opgeveil word nie.

“Die minister is deeglik bewus van ons omstandighede, aangesien hy reeds in Februarie deur ons bestuur ingelig is. Ons het 'n verbintenis aangegaan om vanaf 1 Julie 2020 permanent in diens geneem te word, wanneer die onderneming sy volle kwota ontvang,” het me. Charlotte Solomons, 'n werkersverteenwoordiger by die fabriek, gesê.

“'n Pleidooi is deur 95% van die werknemers onderteken en aan die minister oorhandig. Ons is bekommerd die miljoendollar-infrastruktuur waarop ons hier sit, sal in nog 'n Ramatex verander. Ons is bekommerd oor vaartuie wat stilstaan. Ons is bekommerd oor die verlies van ons kliënte soos Pick n Pay, Checkers en ook in ander lande,” het sy bygevoeg.

Mnr. Mathew Simasiku, wat ook aan die fabriek verbonde is, sê hulle is nou nie meer in staat om hul gesinne te onderhou nie. “Meeste van die werknemers wat studente is, kan nie bekostig om hul studies voort te sit nie. Ons verloor ons woonplekke, omdat ons nie meer die huur kan bekostig nie. Walvisbaai word steeds deur die inperking gekniehalter. Die situasie waarin ons verkeer, sal 'n groot impak op die snelle verspreiding van Covid-19 hê omdat ons kos op ander plekke sal moet soek.”

Soortgelyk

 

Woede kook oor by Ngoma

12 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig – Regeringsafgevaardigdes het laat Saterdagmiddag hul hande vol gehad om gemoedere by die Ngoma-grenspos te kalmeer toe ’n skare woedende inwoners uit die...

Totsiens, Shannon

12 ure gelede | Mense

Leandrea Louw op Walvisbaai – Roubeklaers het Saterdag in groot getalle opgedaag om finaal van me. Shannon Wasserfall (21) op Walvisbaai afskeid te neem.Sy is...

Nuwe ruimte vir naslaan, leer en lees

12 ure gelede | Geskiedenis

'n Splinternuwe mediategnologie-biblioteek is nou oop vir die publiek by die hoofkantoor van Namibia Media Holdings in Windhoek.Die herontwerpte argief is Vrydag amptelik in gebruik...

Vermoedelike reeksverkragter slaan weer toe

12 ure gelede | Misdaad

Kuskantoor – Die polisie in die Erongostreek ondersoek 'n voorval waar ’n aanvaller by ’n vrou (28) se huis in Walvisbaai ingebreek het, haar met...

Antigeen-toetse vir reisigers na SA beskikbaar

12 ure gelede | Gesondheid

Antigeen-toetse om die coronavirus op te spoor, is volgens die Suid-Afrikaanse regering se inligtingsdiens (GCIS) by alle grensposte na die land beskikbaar.Dié toetse, wat van...

Regeringsbestuur: 'Prentjie lyk stroef'

12 ure gelede | Regering

Denver Kisting 'n Herhaling van die Fishrot-skandaal, die beweerde grootskaalse kaping van Namibiese viskwotas wat die afgelope jaar opspraak wek en twee oudministers agter tralies...

Seun (5) met kanker se gesin vra hulp

12 ure gelede | Mense

Ester KamatiDie Labuschagne-gesin op Otjiwarongo het onlangs die ontstellende nuus ontvang dat die vyfjarige Zu-Andre kanker het. Die diagnose het gevolg nadat bloed vroeg...

Sprinkaanplaag: SADC vra steun

12 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het gister ’n beroep gedoen op steun in die stryd teen Afrika treksprinkane. Dit volg nadat altesaam tien...

Nuwe webtuiste vir burgerlike organisasies

12 ure gelede | Gemeenskap

Tanja Bause - ’n Nuwe webtuiste en inligtingsentrum vir burgerlike organisasies is onlangs van stapel gestuur. Die webtuiste, Civic +264, verteenwoordig alle burgerlike organisasies landswyd.Volgens...