Unam maak geskiedenis met sewe in WB-groep

12 September 2019 | Sport
Die rugbyklub FNB Universiteit van Namibië het met groot trots afskeid geneem van sy sewe spelers wat vandag saam met die Namibiese span na die Wêreldbekertoernooi in Japan vertrek het.

Dit getuig van die klub se skouspel­agtige opgang sedert 2015 dat Unam vir die eerste keer in sy geskiedenis só 'n beduidende groep spelers in die Namibiese Wêreldbekerspan opgelewer het.

Die sewetal is die vleuel en senter Lesley Klim (hoewel hy intussen deur die Walliese Pro14-klub Ospreys gekontrakteer is), haker Obert Nortjé, losvoorspelers Prince !Gaoseb en Max Katjijeko, stut Desiderius Sethie, Helarius Kisting (skrumskakel, losskakel of heelagter, wat nou sy klubrugby in Roemenië speel) en heelagter Chad Plato.

Unam-rugby se hoofafrigter, Johan Diergaardt, sê hul insluiting wys dat die universiteit se belegging in sport vrugte afwerp.

“Hierdie dien as 'n voorbeeld vir ander, soortgelyke instansies wat graag sporthelde vir ons land wil oplewer. Ons sal daarna strewe om vir die volgende Wêreldbeker in 2023 selfs méér spelers op te lewer.”

Hy het uitgewys dat veral die slot Mahepisa Tjeriko en vleuel Oderich Mouton ook 'n baie sterk kans gestaan het om die uitsoekgroep van 31 spelers te haal en dat hulle baie ongelukkig was dat beserings hulle buite rekening vir die finale Wêreldbeker-spankeuse gelaat het.

Die Unam-skrumskakel Jay-C Olivier was ook in Namibië se voorlopige groep van vyftig, maar het vermoedelik op die oefenveld in 'n gat getrap en het sy enkel gebreek.

Vroeër vanjaar het die losskakel en heelagter Chris Arries ook tydens 'n SuperSport uitdaagwedstryd op Rustenburg teen die Griffons sy enkel gebreek en is vir die res van die rugbyjaar uitgeskakel toe 'n opponent in die doelgebied na 'n bal geduik en op sy been beland het.



ERVARING OM TERUG TE PLOEG

Volgens Diergaardt, wat in 2011 die Namibiese Wêreldbeker-afrigter in Nieu-Seeland was en ook die toernooie van 2007 (as nasionale keurder) en 2015 (as toeskouer) bygewoon het, sal die komende ondervinding vir al die betrokke spelers van groot waarde wees.

“Dit sal in die jeug teruggeploeg word en sal dus ook help om ons klub se standaard op te hef.”

Unam was vir jare 'n onderpresteerder in die Namibië Rugby-unie se premierliga, wat nooit vir die halfeindronde kon kwalifiseer nie. Diergaardt se aanstelling in 2015 het saamgeval met 'n goue era waarin die klub drie opeenvolgende seisoene (tot 2017) die nasionale kampioen­skap beklink het.

Spelers soos David Philander, Wacca Kazombiaze, Renaud van Neel en John Drotsky was wel Wêreldbeker-spelers wat vantevore hul rugby by Unam gespeel het.

By die afskeidsgeleentheid het Unam se studentedekaan, me. Margareth Mainga, die gekose spelers gelukgewens, asook die tegniese span wie se werk agter die skerms hiertoe bygedra het.

“Ons is trots op julle sewe wat eerstens Namibië, tweedens Unam se twaalf kampusse landwyd en uiteraard ook julself en jul families verteenwoordig.

“Onthou dat hierdie bloot die beginpunt is van al die drome en aspirasies wat julle nog in jul lewens wil bereik. Jul sukses lê in die dissipline soos wat die afrigters by hierdie instelling by julle tuisgebring het,” het sy gesê.

Mainga het die spelers alle voorspoed toegewens vir Namibië se wedstryde by die Wêreldbeker.

- Bygewerk van Nampa

Soortgelyk

 

Meegesleurde Okahandja-vrou steeds soek

46 minute gelede |

Elvira Hattingh - Die 42-jarige vrou wat gisteroggend deur die water meegesleur is toe sy en twee ander mense die Okahandjarivier te voet wou oorsteek,...

Hardap kry 19 Mm³ water sedert Maandag

1 uur gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Sedert die afgelope Maandag het die Hardapdam ’n reusehoeveelheid water bygekry, naamlik 19,523 Mm³ (miljoen kubieke meter). Die dam is nou 27,2%...

Nóg twee kietsies kry nekbande

2 ure gelede | Omgewing

Nóg twee swartpootwildekatte is in die vroeë oggendure met nekbande toegerus. Prof. Morgan Hauptfleisch en sy span van die Black-Footed Cat Working Group is tans...

Okahandja-kleinhoewe oorstroom weer

13 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl die polisie gistermiddag bevestig het ‘n vrou is nog soek nadat die Okahandjarivier haar vroeg gisteroggend meegesleur het, was ‘n kleinhoewe-eienaar...

Geingob stil oor kleiner kabinet

13 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Ten spyte van die groot gewag daaroor in sy Oujaarsrede weet Namibiërs nog nie hoe groot pres. Hage Geingob se verkleinde kabinet...

Eerste swartpootwildekat kry nekband

13 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Daar is geskiedenis gemaak toe Namibië se eerste swartpootwildekat vandeesweek met 'n nekband toegerus is. "Om die klein katjies op te spoor,...

Weer vir 27 Februarie 2020

13 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Verspreide donderbuie sal oor die noordelike streke en Omaheke- en Khomasstreek voortduur waar kitsvloede verwag word. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik...

Drie stroop glo renoster in Etosha

13 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - Nege verdagtes is verlede week in verband met renosterstropery of -horingsmokkelary in hegtenis geneem. Vanaf 17 tot 23 Februarie is beslag op...

Droogte: Baie boere wurg nog

13 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Foto’s van vol riviere, opgaardamme waarvan die vlakke styg en panne water langs die pad en in die veld het die afgelope...