Tyd nodig om SA-ekonomie te verbeter
Vida Booysen
Nog 'n internasionale kredietgradeerder, S&P Global Ratings, het daarvan kennis geneem dat Suid-Afrika 'n nuwe staatshoof het.
In 'n verklaring wat Donderdagmiddag uitgereik is, sê S&P die nuwe leierskap van Cyril Ramaphosa kan vertroue skep en “kernhervormings waarmee reeds begin is, bespoedig”.
S&P het die staatskuld in rand in November tot onder beleggingsgraad afgegradeer en die staatskuld in buitelandse geldeenhede verlaag tot twee vlakke onder beleggingsgraad. Dit was S&P se tweede afgradering in 2017.
Een van die grootste negatiewe faktore van oudpres. Jacob Zuma se termyn as staatshoof, is die wyse waarop beleidsonsekerheid en korrupsie by staatsinstellings beleggersvertroue weggekalwe het. Dít het die land se kredietgradering geknou.
S&P het Donderdag in sy verklaring gewys op sy vorige verslag oor Suid-Afrika se kredietstatus wat in November uitgereik is en waarin die agentskap aangedui het dat die land deur heelwat ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar word.
groeivooruitsigte bly laag
“Mnr. Ramaphosa en sy regering sal tyd nodig hê om maatreëls te ontwerp en in te stel om ekonomiese groei te verbeter en staatsfinansies te stabiliseer, gegewe die strukturele en institusionele uitdagings wat Suid-Afrika moet oorkom,” lui die verklaring.
Die agentskap sê ekonomiese groeivooruitsigte bly laag en dit is 'n struikelblok vir die terugbetaling van staatskuld.
“Ons dink die regering sal probeer om teenmaatreëls in te stel in 'n poging om die begroting se uitkomste te verbeter, maar dit kan dalk nie genoeg wees om op kort termyn die openbare finansies te stabiliseer nie.”
S&P wil nie nou enige graderingstappe doen nie en sê slegs 'n graderingskomitee kan 'n besluit aanbeveel.
“Hierdie verwikkelings (die moontlike stappe wat 'n Ramaphosa-regering sal doen om die begroting te laat klop) word nie as deurslaggewend vir die graderings beskou nie, dus is dit nie deur 'n graderingskomitee hersien nie.”
Moody's Investors Service het vroeër in 'n verklaring gesê hy hou die verwikkelinge in Suid-Afrika fyn dop, “en is gefokus op die beleidsimplikasies van die verandering in leierskap”.
Fitch het nog nie kommentaar gelewer sedert Zuma se bedanking nie. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie