Tyd loop uit in stryd teen verstedeliking

Verstedeliking is ‘n wêreldtendens en ook die onafwendbare toekoms van Namibië, waarvoor daar dringend beplan moet word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Tydens die 1991- grondkonferensie het 30% Namibiërs in dorpsgebiede gewoon.

"Teen 2050 sal dié syfer na 75% verhoog. As ‘n nasie het ons mense gefaal wat in dorpsgebiede na beter lewens kom soek," het argitek Phillip Lühl die week by Namibië se tweede nasionale grondkonferensie gesê.

Lühl en sy kollega Guillermo Belgado van die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) het saamgestem die land is besig om die stryd teen tyd en verstedeliking te verloor.

“Binne die volgende dertig jaar sal Namibië nóg 2 miljoen mense in dorpsgebiede moet akkommodeer. Dit is gelyk daaraan om nog 22 Rundu’s te bou, of vyf Windhoeke of ‘n honderd Gobabisse,” het Lühl benadruk.

“Sowat 50% van Nambiërs woon tans in dorpsgebiede – syfers wat deur die Verenigde Nasies asook die Namibië Statistiek-agentskap (NSA) se 2016-statistieke gestaaf word.

“’n Afrika-segspreek lui so: ‘As jy jou oë vir die feite sluit, sal jy deur ongelukke leer’. Rakende verstedeliking leer ons deur ongelukke en is ons deurentyd besig met skadebeheer,” het hy gesê.

“Ek dra dus hierdie praatjie op aan Namibiërs wat gesterf het aan cholera, weens kitsvloede en verdwaalde koeëls wat deur die dun mure van sinkplaathuisies gedring het, asook aan diegene wat onder geweld deurgeloop het wat ‘n uitvloeisel is van ons dorpsgebiede – in hul huidige vorm,” het hy gesê.

INFORMELE VERSTEDELIKING

Belgado het gesê dis noodsaaklik dat die grondberaad erken dat Namibië se toekoms verstedeliking is.

“In Namibië sien ons tans dat verstedeliking ‘informeel’ plaasvind. Dit is nie uniek tot óns land nie, maar Afrika is die vasteland waar verstedeliking die heel vinnigste tempo handhaaf. Tog het slegs een uit drie Afrika-lande ‘n nasionale plan vir verstedeliking - Namibië is nié een hiervan nie.”

Belgado het gesê so 'n plan kan die eerste keer ná onafhanklikheid deur middel van ‘n inklusiewe proses ontwikkel word. “Namibië het nou die geleentheid om verstedeliking só te bestuur dat dit beter gelykheid bewerkstellig en die status quo verander.”

Volgens Lühl kan dit nie gedoen word deur slegs die lewering van gedienste erwe nie.“Ons benodig ‘n ‘anti-Odendaalplan’, soos ons eerste dame onlangs gesê het.

“Ons moet praat oor die reg op voldoende behuising en nié net bekostigbare behuising nie. Vandag se informele nedersettings is môre se middelinkomste huishoudings - mits ons inwoners bemagtig om hulself te help,” het Belgado gesê.

‘N MILJOEN IN SINKHUISE

Volgens die Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN) se nasionale fasiliteerder, me. Edith Mbanga, woon 995 000 Namibiërs tans in sinkhuise in 380 informele nedersettings.

Die totale bevolking van dorpsgebiede staan op sowat 1,1 miljoen mense, wat beteken meer as driekwart van inwoners woon in kaias.

“Die uitgerekte en duur ontwikkeling van erwe in dorpsgebiede, beteken dit is onbekombaar vir armes. Die maandelikse inkomste van dié in informele nedersettings is minder as N$3 000 en gemiddeld sowat N$1 500," het Mbanga benadruk.

“Ek wens ek kan dit hardop vanaf die podium skree: Kamerade, verstedeliking is die toekoms,” het mnr. Nathanael Araseb gesê - uitvoerende hoof van die Namibiese Vereniging vir Amptenare van Plaaslike Owerhede (Nalao), wat ook die Vereniging vir Plaaslike Owerhede in Namibië (ALAN) by die konferensie verteenwoordig.

“Ons glo as pragmatiese en toegewyde besluite by die konferensie geneem word en daar strategies saamgewerk word, kan ons die kwessies oplos. Ons is gereed, ons het ‘n ‘weermag’ van politici op plaaslike regeringsvlak wat hul kennis en ervaring wil aanbied,” het hy gesê.

ENORME AGTERSTAND

Die permanente sekretaris van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Daniel Nghidinwa, het gesê daar bestaan 'n enorme agterstand met die diens van stedelike grond.

Sedert onafhanklikheid het plaaslike owerhede van 15 tot 42 toegeneem, terwyl 411 nuwe dorpsgebiede geproklameer is. In totaal is 123 400 nuwe erwe afgebaken.

“Altesaam 33 619 erwe is gediens in die boekjare tussen 2013-14 en 2017-18, terwyl 4 000 staatshuise deur die vervreemdingskema aan huurders verkoop is en sedert die begin van die Build Together Programme in 1992 is 30 400 huise gebou is,” het hy gesê.

VOORSTELLE

Sprekers het onder meer voorgestel regulasies vir dorpsbeplanning en administratiewe prosedures moet verbeter.

Nog ‘n voorstel was dat armer mense toegelaat moet word om huise stapsgewys te bou wanneer hulle geld beskikbaar het. Die diens van erwe moet volgens argitekte gesubsideer word.

Volgens Nghidinwa is is meer bekostigbare huisontwerpe en boumetodes nodig en erwe moet toegeken word al is dit nog nie ten volle gediens nie. Hy het 'n verbod op die verkoop van dorpsgrond aan buitelanders voorgestel.

“Die verkoop van grond aan private ontwikkelaars moet reguleer word om spekulasie te voorkom asook die verkoop van groot stukke grond aan individue of ontwikkelaars,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!