Twee sterf op paaie naby Kalkfeld
Twee mense het twee dae ná die nasionale padveiligheidsveldtog van stapel gestuur is in die Noordweste gesterf.
Ronelle Rademeyer
Twee mans het Woensdag in twee ongelukke gesterf wat kort ná mekaar op paaie tussen Kalkfeld en nabygeleë dorpe plaasgevind het.
Mnr. Francisco Ronaldo Matcovich (48), 'n Namibiese burger, is op slag dood toe die bakkie waarin hy gery het van voor deur 'n verhuringsmaatskappy se dubbelkajuitbakkie getref is. Die twee jong Duitse toeriste in laasgenoemde voertuig is ernstig beseer.
Supt. Kauna Shikwambi, polisiewoordvoerder, het gister gesê die ongeluk het Woensdagmiddag op die grondpad tussen Outjo en Kalkfeld plaasgevind.
Volgens haar is die twee beseerdes eers na die staatshospitaal op Outjo geneem, en vandaar is hulle na 'n hospitaal in Windhoek oorgeplaas.
Die bestuurder van die gehuurde voertuig wou glo 'n ander voertuig op die grondpad verbysteek.
Aangesien daar so baie stof was, het hy klaarblyklik nie die aankomende bakkie waarin Matcovich gery het, gesien nie.
Kort ná dié ongeluk is 'n man dood wat met 'n lorrie op die pad tussen Kalkfeld en Omaruru met 'n vrag vol verfhouers gery het.
Dit is nie bekend wat gebeur het nie, maar dit wil voorkom of hy in 'n swaarvragmotor vasgery het.
Sy naam is nog nie bekend gemaak nie.
Shikwambi het gister gesê dit bekommer die polisie dat daar so kort ná die bekendstelling van die nasionale padveiligheidsveldtog vir die vakansieseisoen reeds noodlottige ongelukke plaasgevind het.
Dié veldtog het Maandag afgeskop en duur tot 15 Januarie 2020.
Sy het 'n beroep op padgebruikers gedoen om versigtig te bestuur en padreëls te gehoorsaam.
Shikwambi het ook daarop gewys toeriste moet bewus gemaak word van die gevare om op gruispaaie te bestuur, aangesien hulle nie dié tipe padtoestande gewoond is nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie