Tsumeb wen tuisstryd teen Walvisbaai
Spanne in die premierliga is vanjaar propvol ondernemende rugby.
Andrew Poolman - Rubicon Tsumeb Gimnasium se trotse tuisrekord in die onder 19 Momentum premierliga is Saterdag gestand gedoen toe hy Walvisbaai Privaat Hoërskool met 28-10 ondergekry het.
Die wedstryd is in die tweede helfte beklink nadat sake rustyd nog met 10-10 gelykop was.
Die nege spanne in die premierliga dreun mekaar vanjaar behoorlik op en verskeie het nog ’n kans om na die Superliga-uitklopfase (topvyf) deur te dring.
Tsumeb se agtsteman WJ Otto druk twee drieë met kragtige stormlope naby die doellyn, terwyl die slot Pieter-Daniël Kok 50 meter vir sy drie gehardloop het nadat Otto ’n afskop raakgevat, ’n paar verdedigers geklop en toe sy kaptein weggestuur het.
Skrumskakel George Turner slaag met twee doelskoppe en drie strafdoele.
“Die punte weerspieël nie die ware verhaal van hoe mededingend dit was nie. Walvisbaai het dit vir ons moeilik gemaak in ons vaste fasette en ons moes hard werk om besit van die bal te kry,” sê die wenspan se afrigter, mnr. Wimpie van der Merwe.
“Maar nader aan die einde het die Tsumeb-manne se ‘guts’ en deursettingsvermoë begin wys. Van Tsumeb se kant wil ons dankie sê vir Walvis in die goeie gees waarmee hulle deelgeneem het.”
Mnr. Henjan van der Heyde, afrigter van Walvisbaai, sê: “Verbroude geleenthede en glipse op die verdediging het met ons wenkanse klaargespeel. Tsumeb het goeie rugby gespeel en het hul kanse beter benut.”
Vir die kusspan het die vlugvoetige buite-agterspeler Aston Mukwilongo ’n puik drie gedruk, terwyl vleuel Jivino Polster met die doelskop en ’n strafdoel slaag.
AFFIES SEIL VOORT
KMC/JCC Windhoek Affies het op sy tuisveld in Pionierspark op sy rustydvoorsprong van 22-7 voortgebou om die besoekende OK Foods Moria Privaatskool met 31-14 onder te kry.
Die wenspan se drieë is deur losskakel Johan Zaayman, Danie van der Merwe, haker Ruan Strydom, plaasvervanger-agterspeler Zinzan Steenkamp en senter Christiaan Celliers gedruk. Zaayman het drie keer verdoel.
WAP se afrigter, mnr. Johan Zaayman, sê: “Vanjaar se Superliga is lekker opwindende rugby. Lanklaas in die geskiedenis van Namibiese skolerugby het al die spanne weekliks so ’n lewendige wenkans gehad.
“Ek is net bly ons by WAP se harde drie weke is nou agter die blad waarin ons sewe wedstryde gespeel het.
“My seuns is nogal uitgeput, maar ons is dankbaar dat ons relatief suksesvol was sover. Natuurlik het so ’n strawwe program maar sy nadeel en ons het nou albei ons eerste span slotte verloor wat met ernstige kniebeserings vir die res van die seisoen uit is. Die liga gaan nog interessant raak hoe nader ons aan die uitspeelwedstryde kom.”
Aan Moria se kant het losskakel DJ Holtzhausen se geleerde skopvoet gereeld die druk verplaas, terwyl hy ook beide die drieë verdoel het.
WHS VAT PUNTE
Op Stampriet was Samsung Windhoek Hoërskool se besoek aan Pupkewitz Haval Elnatan ’n gedenkwaardige geleentheid.
“Die jaarlikse FNB Classic Clashes-ontmoeting tussen die skole is altyd ’n hoogtepunt op ons kalender en met laerskolesport vanaf onder 7 tot o.19 bygewerk, het alles opgebou na die hoofwedstryd,” sê Elnatan se afrigter, mnr. Wessel Pienaar.
Uiteindelik het WHS met sy oorwinning die trofee beklink. Die eindtelling van 50-31 spreek van beide spanne se ondernemingsgees om hardlooprugby te speel.
“Daar was mooi drieë aan beide kante. WHS was goed op die aanval en wanneer ons balbesit gehad het, het Elnatan ook goed gelyk. Dit was nie vir WHS maklik nie, want ons seuns het tot die einde hart gewys. Rustyd was dit 28-14, maar die telling wys dat beide spanne in die tweede helfte aanhou speel het,” sê Pienaar.
Haker DP de Jager het vir Elnatan twee drieë gedruk, tesame met een elk deur die senterpaar Corné Esterhuysen en Louwhan Boltman asook agtsteman Hanco Pretorius. Esterhuysen se skopvoet het vier doelskoppe bygevoeg.
Vir WHS se vyftigtal het haker JC Rossouw, losskakel Delron Brandt, senters Justin Muir (2) en Warren Ludwig, vleuels Maandero Haimbodi en Johanco le Roux asook heelagter Elmarco Beukes drieë gedruk. Daar was ook suksesvolle doelskoppe deur Brandt (4) en Beukes (1).
WHS se flank Donven Resandt is vir ’n puik vertoning as speler van die wedstryd vereer.
Die laerskole wat vooraf in hokkie, rugby en netbal deelgeneem het, was Elnatan, Danie Joubert (Mariental), Pionierspark, Keetmanshoop Privaatskool, Windhoek Affies en WHS.
• Een o.19 premierliga-wedstryd is vir Woensdag geskeduleer, naamlik Mototech Pro-Ed Akademie se besoek aan WHS by Vegkop-stadion (15:30).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie