Tses-moordenaar kry 36 jaar

Plaaswerker met byl of voorhamer, óf albei, vermoor

23 April 2021 | Howe
Kristien Kruger – Thomas Klein Pieterson (36) is Dinsdag in die hoërhof in Windhoek tot 36 jaar tronkstraf gevonnis vir 'n moord wat hy drie-en-'n-half jaar gelede gepleeg het.

Pieterson het die 44-jarige Josef Oli­fant met 'n byl of voorhamer, óf albei, doodgeslaan. Daarna het hy 'n draad om die oorledene se nek gedraai en hom aan die agterkant van sy eie motor vasgemaak.

Hy het sowat 1 kilometer gery en die lyk in 'n afgeleë gebied gelos.

Die moord is op 4 November 2017 gepleeg op 'n plaas in die Tses-omgewing waar Pieterson as 'n herder werksaam was.

Die oorledene het, volgens sy broer, vir dekades met 'n gestremdheid geleef nadat hy tien jaar voor sy dood 'n beroerte gehad het.

Hoërhofregter Naomi Shivute het Pieterson in Maart vanjaar skuldig bevind op klagte van moord, diefstal en regsverydeling.

Dit is volgens die hofstukke onduidelik waarom Pieterson die man vermoor het, maar dit is duidelik dat hulle mekaar geken het.

Die oorledene het vir hom gaan kuier op die plaas waar hy gewoon het.

“'n Kosbare lewe is sonder regverdige rede weggeneem. Nadat die be­skuldigde die oorledene doodgemaak het, het hy sy oorskot gesleep en op 'n afgesonderde plek neergegooi. Die oorledene was kwesbaar omdat hy met 'n gestremdheid saamgeleef het en hy is koelbloedig vermoor.

“Net die beskuldigde weet wat tot die moord gelei en wat presies gebeur het, want daar was geen ooggetuies nie,” het Shivute tydens die uitspraak gesê.

Pieterson het tydens sy verhoor erken dat hy ten tyde van die moord onder die invloed van dagga was.



VONNISOPLEGGING

Pieterson het op die aanklag van moord – met direkte voorneme om dood te maak – 40 jaar tronkstraf gekry, vir regsverydeling 12 maande en op die klag van diefstal het hy nege jaar ontvang waarvan vier jaar gelyktydig met die vonnis op die klag van moord uitgedien sal word.

Hy sal daarom slegs 36 jaar agter tralies sit en nie 40 jaar nie.

“Die feit dat die beskuldigde 'n eerste oortreder is en langer as drie jaar in aanhouding was, tel in die be­skuldigde se guns. Die samelewing se belang weeg veel swaarder as die beskuldigde s'n.

“Die belange van die samelewing vereis dat dit beskerm moet word deur die beskuldigde 'n lang vonnis op te lê,” het Shivute gesê.

DIEFSTAL EN

REGSVERYDELING

Nadat Pieterson van die lyk ontslae geraak het, het hy terug plaas toe gegaan.

Hy het sy huis gesluit en met die oorledene se motor Mariental toe gery om sy meisie te gaan haal. Hulle het daarna weer met die motor terug na sy huis gery.

Hy het weer die motor gebruik om Mariental toe te ry, maar die motor het gebreek en hy het dit langs die pad gelos waar die polisie dit later gevind het.

Pieterson het ook ander items van die oorledene gesteel.

Die lyk is op 12 November 2017 deur 'n verbyganger gevind, maar met die polisie se aankoms by die toneel, was die lyk geskuif. Sleepmerke het gelei tot by die lyk wat onder 'n hoop klippe gelê het.

Mnr. Titus Mbaeva het Pieterson verteenwoordig en die staatsadvokaat was mnr. Tangeni Itula.

[email protected]

Soortgelyk

 

Pastoor verkrag glo tienerseuns

9 ure gelede | Howe

Augetto Graig – 'n Pastoor wat tereg staan op vier klagte van verkragting van vier minderjarige seuns, is op borgtog vrygelaat.Die seuns is almal onder...

Eerste nag in selle vir Boulter

9 ure gelede | Howe

Ester Kamati op Outjo – Die invloedryke Britse miljardêr mnr. Harvey Eric Boulter (51) se aansoek om borgtog is gister in die landdroshof op Outjo...

Weer vir 12 Mei 2021

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Dit sal aanvanklik koud wees in die binneland, maar andersins sal dit sonnig en warm tot baie warm wees. In die Noorde sal dit...

Vermeende beesdiewe loop hul rieme styf

9 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer – Drie mans is op Otjinene in aanhouding nadat hulle na bewering Sondag naby Summerdown die slot van 'n plaashek geknip en helder...

'Glyjakkalse' loop hul rieme styf

9 ure gelede | Howe

Twee jong mense wat glo by ver­skeie oornagplekke in die noorde van die land bedrog gepleeg het, is Vrydag in hegtenis geneem. Mnr. Francois Strydom...

Mobiele Covid-toetseenheid by padblokkade

9 ure gelede | Gesondheid

Die eerste mobiele Covid-19-toetsgeriewe vir toeriste is by die Okahandja-padblokkade op die B1-hoofpad geopen. Die mobiele eenheid is 'n inisiatief deur die Toer- en Safarivereniging...

Otji-5-verhoor: Weduwee wil vergoeding eis

9 ure gelede | Howe

Marc Springer – Die weduwee van 'n Zimbabwiese burger wat twee jaar gelede op Otjiwarongo vermoor is, het die eerste wetlike hekkie oorkom in haar...

Tweejarige peuters verdrink in puttoilet

9 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het twee kinders, beide twee jaar oud, Saterdag in 'n puttoilet verdrink. Die ongeluk het omstreeks 14:00 in die...

Transgender aanrandingsaak teen polisielid begin

9 ure gelede | Howe

Jana-Mari Smith – Die verhoor waarin 'n transgender Namibiër 'n klag van aanranding teen 'n polisiebeampte aanhangig gemaak het, het Maandag in die hoërhof in...