Trumpelmann kan troefkaart word

Krieket

14 February 2020 | Sport
Andrew Poolman - Straks die vinnigste bouler wat kaptein Gerhard Erasmus nóg tot sy beskikking gehad het, word vanaf aanstaande week tot die Eagles-krieketspan bygevoeg.

Die 22-jarige Ruben Trumpelman is die enigste nuweling in die spelersgroep van vyftien van afrigter Pierre de Bruyn, wat die naweek na Gauteng vir 'n oefenkamp van twee weke vertrek.

'n Reeks T20- en eendagwedstryde teen Ierland se A-span lê vir die Namibiërs voor.

“Hoe meer wedstrydtyd ons spelers kan kry in die opbou na die T20 Wêreldbeker (in Oktober vanjaar, in Australië), hoe beter,” sê De Bruyn.

“Tydens die oefenkamp sal ons ook teen ander opposisie speeltyd reël ... spanne wat vir ons spelers vreemd is, teen wie ons nog nie tevore te staan gekom het nie.

“Die toer is dus 'n belangrike tyd om spelers in hul onderskeie rolle te vestig en hulle wedstrydskerpheid te gee.”

JJ Smit, gewoonlik bekend as Namibië se vinnigste snelbouler, bly tuis vir rehabilitasie ná 'n kniebesering. Hy en die draaibouler Mauritius Ngupita is die twee weglatings uit die groep wat gedurende Januarie vir 'n driehoekige reeks na Oman getoer het.

“Zhivago Groenewald (draaibouler) gaan ook nog vir 'n langerige tyd met rehabilitasie besig wees, maar ons hoop dat JJ fiks sal wees wanneer Nederland volgende maand in Namibië kom toer,” sê De Bruyn.

In hul plekke maak die topordekolwer Niko Davin en die naatbouler Tangeni Lungameni hul terugkeer – tesame met die byvoeging van die vyftiende toerlid, Ruben Trumpelmann.

Laasgenoemde is reeds sedert November 2017 'n eersterangse speler en is hierdie seisoen die aanvangsbouler vir Noordelikes in Krieket Suid-Afrika se provinsiale driedagreeks.

Volgens De Bruyn, wat self tevore vir die Noordelikes Titans gespeel het en goed vertroud met Trumpelmann se spel is, genereer sy boulwerk meer spoed as enige van die huidige boulers in Namibië.

Boonop boul Trumpelmann ook met sy linkerarm – net soos JJ Smit en Jan Frylinck.

“Ruben se pa is in Namibië gebore en hy kwalifiseer dus om vir ons te speel. Ons wil hierdie vriendskaplike wedstryde gebruik om hom in ons opset bekend te stel,” sê De Bruyn.

Trumpelmann is tans die universiteitspan Assupol Tuks se speler van die jaar. Tuks het die Varsitybeker drie uit die laaste vier jare gewen en het byvoorbeeld in 2019 agt uit nege wedstryde gewen, waarvan sewe met bonuspunte.

Op provinsiale vlak het Trumpelmann in Desember sy hoogste eersterangse kolftelling aangeteken, toe hy in die driedagwedstryd teen Gauteng op die Wanderers in Johannesburg 73 lopies van 99 balle geslaan het. As kolwer agt was hy dié aggressor in die kolfbeurt, met ses viere en vyf sesse.

Sy beste eersterangse boulvertoning was ook in die huidige seisoen, toe hy in Oktober op Nuweland 4/27 tydens die Westelike Provinsie se eerste beurt platgetrek het.

• Die Eagles-spelersgroep na Pretoria: Gerhard Erasmus (kaptein), Jan Frylinck (onderkaptein), Zane Green (paaltjiewagter), JP Kotzé, Stephen Baard, Niko Davin, Craig Williams, Nicol Loftie-Eaton, Pikky ya France, Bernard Scholtz, Ben Shikongo, Tangeni Lungameni, Karl Birkenstock, Jan-Izak de Villiers, Ruben Trumpelmann.

• Hul wedstrydprogram teen Ierland se A-span:

Dinsdag 18 Februarie: twee T20-wedstryde op SuperSportpark (09:30 en 14:00).

Vrydag 21 Februarie: T20-wedstryd by Irene (09:30).

Sondag 23 Februarie: twee T20-wedstryde by Irene (09:30 en 14:00).

Woensdag 26 Februarie: eendagwedstryd op SuperSportpark (10:00).

Donderdag 27 Februarie: eendagwedstryd by Irene (10:00).

Soortgelyk

 

Von Bachdam bereik 89%-merk

2 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Die Von Bachdam was vanmiddag om 12:00 presies 89% vol en het steeds 6,4 m³ water per sekonde ontvang. Maandag was dit...

Okahandjarivier saai wéér amok

4 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Die Okahandjarivier het gisternag wéér mnr. James Roux se kleinhoewe buite Okahandja oorstroom en boonop vroegoggend een persoon meegesleur. Die polisie, asook...

Steeds geen kontrak vir diens aan Psemas

16 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Die staat se mediese fonds (Psemas) se nuwe kontrak met gesondheidsdiensverskaffers wat reeds sedert 2017 sloer, is weer uitgestel, die keer tot...

Beeste uit Botswana vul tekort aan

16 ure gelede | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - Sowat vier maande nadat Botswana sy grens vir die uitvoer van lewende slagbeeste na Namibië oopgestel het, kon Meatco op Dinsdag 18...

Boer skiet glo 'mieliedief'

16 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - 'n Boer van Tsumeb het Maandag op ‘n klag van poging tot moord in die landdroshof verskyn nadat hy glo ‘n vermeende...

Weer, Woensdag 26 Februarie 2020

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en baie warm weer sal in die Kunene-Wesstreek heers. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met geïsoleerde,...

Samherji-werkers afgelê

16 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word. Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand...

Posisioneer jouself betyds vir groter wins

16 ure gelede | Landbou

Christo du Plessis, Dierevoedingskundige: Feedmaster – In hierdie artikel kyk ons na die sleutelkwessies in rooivleisproduksie wat wins dryf, en hoe fosforaanvulling produsente se winsgewendheid...

N$14 miljoen vir kragprojek bewillig

16 ure gelede | Regering

Yandi du Plessis - ’n Sooispitseremonie vir die voorsiening van krag aan die Otjomuise- en Havana informele nedersettings het Vrydag in Otjomuise in die hoofstad...