Troukoors loop hoog ­ondanks pandemie

Yandi Du Plessis
Vanjaar is sowat 120 inskrywings vir Republikein se Bruidspaar van die Jaar-kompetisie ontvang.

Uit die 120 paartjies het Joel en Rebecca Eelu uiteindelik die meeste harte gesteel en dié egpaar is by vanjaar se Namibië Toerisme Ekspo (NTE) as 2020 se gunsteling-bruidspaar aangewys.

Vir Joel en Rebecca, wat redelike privaat is, was dit 'n uitdaging én 'n mylpaal om vir die kompetisie in te skryf. Sedert hulle ontmoeting in 2014 is hul liefde op die sterk fondasie van vriendskap gebou.

Hulle het deur 'n gemeenskaplike kennis ontmoet – Lydia, Joel se suster en Rebecca se beste vriendin.

Aanvanklik was die paartjie se verhouding ook soos dié van 'n broer en suster, maar dit het mettertyd in iets meer ontwikkel. Kort voor lank het dié twee net oë vir mekaar gehad.

Die avontuurlustige paartjie geniet dit om saam rond te rits. Hulle gaan gereeld op kampuitstappies en was gelukkig om al na Johannesburg, Kaapstad, Durban, Parys, Amsterdam en Brugge te reis.

“Ek en Joel is bekend vir ons opregte lag,” vertel Rebecca. “Met die verloop van tyd het ons mekaar leer ken oor reise, speletjies-aande en etes. Ek het op Joel se energie, sy grappies en entoesiasme, verlief geraak.”

Hy sê weer hy het verlief geraak op haar glimlag, vreugde, vrygewigheid en veral haar kookkuns.

Die twee is op 5 Julie verlede jaar getroud. “Ons troudag was tradisioneel in die Ruacana ELCIN-kerk voor familie en vriende. Ons het twee onthale aangebied, die eerste op Ruacana, waar ek grootgeword het, en die tweede by Joel se familie op Elim. Ons het ons eie troubeloftes geskryf, hartlike toesprake van vriende en familie gehad en 'n paar speletjies gespeel as deel van die onthaal. Die belangrikste is dat ons ons voete seer gedans het!”

Dit is 'n Oshiwambo-tradisie om meer as een onthaal te hou en selfs tot 'n weeklange bruilofsfees te hou.

Joel se gesin was meer as gewillig om na die huweliksreëlings om te sien en hulle was opgewonde om Rebecca amptelik in die gesin te verwelkom.

“Dit was voorwaar 'n stresvrye dag. As 'n bakker kon ek help om die troukoek van my drome te laat verwesenlik, en 'n vriend het dit gebak. Ek en Joel bedryf albei besighede saam met ons beroepe en ons hoop dié passies sal ons toelaat om af te tree op 'n plaas naby Windhoek, natuurlik terwyl ons nog af en toe reis,” het Rebecca gesê.

Toe die twee aan die begin van die jaar vir die kompetisie ingeskryf het, het hulle gesê hulle “neem dit stadig en geniet die getroude lewe voor hulle besluit om kinders te hê.” Maar dit was inderdaad 'n jaar vol verrassings en hulle het twee maande gelede 'n babadogtertjie verwelkom.

Hulle beskryf 2020 as 'n “dol, maar ongelooflike” jaar. Behalwe vir die Eelu-gesin wat nou een ryker is, het hulle as die wenners van die bruidspaar-kompetisie weggestap met benydenswaardige pryse. Die paartjie sê hulle is innig dankbaar vir almal wat vir hulle gestem het. Hulle beplan reeds 'n reis na Shipwreck Lodge in Januarie volgende jaar, as deel van die wenpakket.

Intussen sien hulle net uit na nog reise, en gehaltetyd met vriende en familie. Die twee sal volgende jaar die spesiale beoordelaars van die 2021 Bruidspaar van die Jaar-kompetisie wees.

Hul raad vir paartjies wat in die toekoms wil inskryf: Geniet dit! Moenie te veel dink nie, probeer van die kamera vergeet. “Getroude paartjies vergeet dikwels om pret saam te hê. Dit sal nie gebeur as julle mekaar se beste vriende is nie.”

Joel en Rebecca sien uit om saam as 'n getroude paar en as gesin te groei, en sê hulle kan nie wag om mekaar nóg beter te leer ken nie.



REPUBLIKEIN SE BRUIDSPAAR VAN DIE JAAR-KOMPETISIE 2021

Die proses:

Paartjies wat vanaf April 2020 tot einde Maart 2021 getrou het, is welkom om in te skryf. Die afgelope twee jaar is 'n gemiddeld van 130 inskrywings ontvang van paartjies van oraloor die land. Daarna is daar 'n beoordelingspaneel (wat gewoonlik bestaan uit 'n fotograaf, skoonheidstegnoloog en iemand in die troubedryf) wat 30 semifinalispaartjies kies. Die top-10 word deur die publiek bepaal wat via SMS vir hul gunstelingpaartjies stem. Die finale wenners word tydens die NTE deur 'n tweede beoordelingspaneel gekies.



Pryse:

Hierdie jaar was meer as N$240 000 se pryse op die spel te danke aan ver­skeie borge soos Trip Travel wat van die begin af by die kompetisie betrokke is.

“Hierdie jaar was veral vir almal moeilik, so ons is werklik dankbaar vir alle ondersteuning wat borge gegee het. Ons hoop om nog 'n lang pad saam met hulle te stap!“ sê Gerine Hoff, die organiseerder van die kompetisie.

Raad vir paartjies wat wil inskryf:

Maak seker julle foto's is “wow“! Die brief wat julle saamstuur, is ewe belangrik. Dit gee die beoordelaars insae in julle verhouding!



Toekomsplanne:

Volgende jaar is 'n groot jaar, want die kompetisie is dan 'n dekade oud! En dit bly so gewild soos altyd! Republikein probeer elke jaar (veral vir die finaal) iets nuuts uitdink om die finaliste uit te daag en uit hulle gemaksones te kry; maar die basis bly altyd dieselfde, naamlik dat dit lekker en pret moet wees!

Volgende jaar se finaal is in hierdie stadium vir 6 November (weer tydens die NTE) geskeduleer. Nog inligting sal mettertyd bekend gemaak word oor wanneer die inskrywings open.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!