Tropmentaliteit het sy voordele
Vreemd hoe gesprekke langs ’n braaivleisvuur soms waarhede na vore bring wat jou lank daarna bybly.
’n Ruk gelede bieg ek teenoor ’n jare lange rugbyvriend hoedat ek in die laaste jaar of twee ’n sterk akademiese belangstelling in die bokssport se hede en verlede ontwikkel het en hoe fassinerend ek dit vind.
Hy antwoord toe dat hy ook altyd enige Namibiese bokser in sy gevegte sal ondersteun – maar dat hy nie eintlik ’n voorstander van boks is nie.
Afgesien van die houe teen die kop wat niks goeds vir jou langtermyn gesondheid inhou nie, reken hy uit eie ondervinding dat te veel fokus op deelname in ’n individuele sport ’n kind tot selfgesentreerdheid kan laat neig.
In sy skooldae het sy pa hom aan ’n individuele gevegsport laat deelneem. “Ek het agtergekom dat ek toenemend individualisties in my persoonlikheid begin ontwikkel het en ek het dus nie lank daarmee aangehou nie. Die lewe is inderdaad ’n spansport – hetsy of jy in die skool, werkomgewing, in besigheid of jou kerklewe is.”
Daar is sekerlik ’n stewige element van waarheid in dié woorde – hoewel enigiemand met spesiale aanleg en passie vir ’n individuele sport sekerlik sy drome en doelwitte moet najaag. As jy in dié bootjie is en voel jy sal eendag aan die gelykenis van die talente gemeet word, ignoreer dan gerus hierdie boodskap.
Heelwat later lees ek ’n skrywe van ’n rugby-pa wat saam met ’n voormalige internasionale speler die afrigter van hul seuns se laerskoolspannetjie begin bystaan het.
Die oudspeler kom uit ’n mediese opleiding en het ’n passie vir stelsels. Sy eerste fokus met die kleintjies op die oefenveld was nie op aangee- of skopvaardighede nie. Nee, hulle begin by die losskrum – wanneer ’n speler platgeduik is.
Eerstens, die baldraer se eerste gedagte op die grond mag nie wees dat hy sy wind uitgeval het, of sy knie geskaaf het nie. Dit moet wees om sy span te dien en die bal beskikbaar te hou deur dit so ver as moontlik agtertoe te plaas.
Sy “lyfwagte” wat eerste op die toneel is, leer ook om hul spanmaat en die bal te beskerm sodat die volgende aanval voortgesit kan word.
So is die beginsel van spanwerk en vennootskap vroeg oorgedra. Want kinders kan tuis, of in hul eie tyd, aan hul individuele vaardighede slyp.
Dis die konsep van gemeenskaplike doelwitte, rolle en verantwoordelikhede, gesamentlike probleemoplossing en wedersydse afhanklikheid. Ook ’n span se waardes soos nederigheid, vergewensgesindheid en selfbeheersing.
Individuele sportmense kan die kluts kwyt raak of die handdoek ingooi, maar in ’n span is dit nie ’n opsie nie. Jy moet opstaan.
Spanmaats wat sien hoe jy ’n fout maak, kan jou bydrae oor die duur van ’n hele seisoen beoordeel en waardeer.
Individue met uiteenlopende persoonlikhede en talente kan hul eie rol verstaan: “Die sterkte van die trop is die wolf.” Maar selfs belangriker, die hele span weet: “Die sterkte van die wolf is die trop.”
Komende Saterdag begin die Namibiese nasionale rugbyspan sy aanslag op kwalifisering vir die 2019 Wêreldbeker met ’n tuistoets teen Uganda.
Verbeel jou hoe ons ganse land soos een man agter die span staan, en hoe die momentum van die eerste dag af soos ’n golf opbou tot in Japan 2019 en hopelik op ’n eerste WB-oorwinning vir die land uitloop.
Of gaan ons weer soos gewoonlik toelaat dat 12 ondersteuners van ons Afrika-opposisie op die dag meer geraas in die stadion maak as die honderde of duisende Namibiërs?
Soos Jacques Burger altyd voor sy grootste wedstryde getwiet het: “Kom ons gaan werk, wolftrop.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie