Troetelbobbejaantjie oorleef nie een dag

Net sy bebloede teddiebeer gevind

22 July 2020 | Gemeenskap
Tanja Bause – 'n Sowat drie maande oue bobbe­jaantjie is deur twee werknemers van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MET) van sy huis weggevat en alleen in die veld gelos.

Nadat slegs sy bebloede teddiebeertjie en 'n groot bloedkol in die veld gevind is, word dit vermoed dat hy deur jakkalse doodgemaak en opgevreet is.

Volgens die woordvoerder van dié ministerie, mnr. Romeo Muyunda, is dit belangrik dat die natuur toegelaat word om sy gang te gaan sonder dat mense inmeng.

“Dit is die beginsel van bewaring en dit is hoe ekosisteme werk. Ons doen 'n beroep op mense om diere in die natuur te los sodat die natuur homself kan uitsorteer. Ons verstaan die emosies wat gepaard gaan om die bobbejaan te probeer red, maar dit word nie aanbeveel nie. Dit is dieselfde as om 'n leeu te keer om 'n springbok te vang. Diere soos aasvoëls is deel van die voedselketting en is afhanklik van die karkas,” het hy op navrae gesê.

Jack, 'n klein bobbejaanwesie, is op 3 Mei deur werkers van die plaas Omega by Noordoewer met 'n gebreekte en seer been in die veld gevind. Die werkers het die bobbejaan na me. Melinda en mnr. Gys Olivier gevat.

“Ek het die veearts op Karasburg gebel en foto's van die been vir hom gestuur. Volgens sy aanbevelings het ek die been behandel. Ek het nie gedink Jack sal oorleef nie, maar na vier dae het hy beter gelyk en ek het onmiddellik vir N/a'an ku sê gebel. Hulle het gesê hulle sal vir Jack inneem en ek het dieselfde dag vir 'n reispermit by die ministerie aansoek gedoen,” het Melinda gesê.

Volgens haar het sy elke dag die MET-kantoor gebel om oor die permit uit te vind en is aan die begin van Junie ingelig die permit is afgekeur.

“Ek het vir 'n rede gevra en hulle kon nie een verskaf nie. Ek het verduidelik ek wil nie vir Jack hou nie, maar hom na 'n veilige plek op my eie onkoste neem en het dus net die permit nodig om dit te kan doen.”

Muyunda sê: “Alle besluite rondom wilde diere word deur die ministerie geneem. In 'n geval waar 'n wilde dier gevind is, moet die ministerie in kennis gestel word sodat hulle verdere stappe kan neem. Dit is nie die besluit van enige individue wat met die dier moet gebeur nie.”

Een van die amptenare het die egpaar aangeraai om die bobbejaan in die veld te los.

“Jack was nog baie klein en kon nie self eet nie. Ek het vier keer per dag vir hom bottel gemaak. Ek het snags wakker geword en vir hom sy bottel gegee. Dus kon ek hom nie in daardie stadium in die veld los nie. Dit was bitter koud en hy kon nie self eet nie. Ek het gesê ek gaan hom nie in die veld los nie omdat hy nie sal oorleef nie.”

Twee MET-beamptes het op 4 Junie vanuit Noordoewer by die plaas opgedaag met die opdrag om die bobbejaan te gaan haal.

“Toe die man uit die voertuig klim, was hy geskok oor hoe klein Jack was. Die man het 'n paar mense gebel en gevra of hulle nie die aansoek sal heroorweeg nie. Ons het nie weer van hom gehoor nie.”

Nog 'n maand het verbygegaan en die Oliviers het niks verder gehoor nie. Jack se been het gesond geword, maar hy het nog steeds bottel gedrink.

“Ons het vir hom druiwekorrels gegee, maar hy het hulle net gesuig en uitgespoeg. Hy het nog nie alleen geëet nie.”



TRANE, GESMEEK

Hulle het op Maandag 13 Julie 'n oproep van MET ontvang wat hulle ingelig het hulle is op pad om vir Jack te kom haal.

“Vyftien minute ná die oproep het twee beamptes van Keetmanshoop se MET-kantoor by ons stilgehou. Ek was in trane en het hulle gesmeek om hom by ons te los totdat hy self kan eet. Of om ons toestemming te gee dat ons hom op ons eie koste Windhoek toe mag vat. Hulle wou niks weet nie en net gesê hulle is opdrag gegee om hom te kom haal. Hulle wou nie sy teddiebeer of sy bottel vat nie. Ek het gehuil en gesmeek, maar dit was tevergeefs. Hulle het hom in die bakkie gesit en Gys het sy teddiebeer by hom gesit. Ek het gou nog 'n bottel gemaak en vir hom gegee sodat hy rustiger kan word en hulle is daar weg met hom.”

Volgens Muyunda moet die MET-amptenare in die beste belang van bewaring optree.

“Dit is nie die verantwoordelikheid van individue om diere aan rehabilitasiesentrums te oorhandig nie. Ons het protokolle wat ons in die verband volg, daarom is die dier gekonfiskeer,” het hy gesê.

Melinda het Dinsdagoggend die MET-beampte op Noordoewer gebel en gevra of hy weet wie na Jack kyk. Hy het gesê hy weet waar Jack in die veld gelos is. “Ons het Woensdag na die natuurreservaat by Rosh Pinah gery om vir Jack te soek. Ná 'n soektog van meer as twee ure het Gys die bakkie se spore gevind en ons het dit gevolg.

“Ons het nie vyf meter gestap van waar die bakkie se spore opgehou het nie, toe sien ons die teddiebeer tussen die klippe lê. Gys het begin hardloop en toe hy die teddiebeer optel, toe breek ons al twee se harte in stukke. Die teddiebeer was vol bloed en daar was orals ­jakkalsspore. Hulle het hom by ons kom haal en in die ysige koue met sy ­teddiebeer in die veld gelos waar hy verskeur en opgevreet is. Ons het die teddiebeer gevind nie 15 meter vanaf die plek waar hulle hom gelos het nie. Dit beteken hy het nie eens die eerste nag oorleef nie.

“Die ministerie het vir Jack vermoor.” - [email protected]

Soortgelyk

 

Vandag se Covid-19-data

4 ure gelede | Gesondheid

'n Visuele opsomming van die inligting vir Maandag 10 Augustus 2020, soos om 15:00 vanmiddag aangekondig deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr....

Skerp styging in gevalle in Windhoek wek kommer, sê...

5 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste dr. Kalumbi Shangula het die situasie in Windhoek as "kommerwekkend" beskryf met 79 nuwe Covid-19-gevalle wat vandag in...

Twee met ivoor, velle vasgetrek

9 ure gelede | Misdaad

Twee vermeende wildmisdadigers, mnr. Gabriel Kuutondokwa Nalitje en David Simon, is verlede Maandag in Windhoek glo met drie stukke ivoor en een elk luiperd- en...

Viskwotas: Tweede Fishrot gevrees

20 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw op Walvisbaai - Rolspelers in die visbedryf is bekommerd dat die land in 'n tweede Fishrot-skandaal gedompel sal word as viskwotas opgeveil word....

Olifante vertrap Noorde-plase

20 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Twee troppe olifante het sedert Donderdag en oor die afgelope naweek verwoesting op plase teen die veterinêre kordonheining in die Noordooste gesaai,...

Tossing papers, tapping buttons

20 ure gelede | Tegnologie

Justicia Shipena WINDHOEKHaving started his coding journey in grade nine at De Duine Secondary School in Walvis Bay, Joachim Shilongo recently developed a...

'Beskerm jouself en ander'

20 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gaan beheermaatreels in Windhoek verskerp in ’n poging om die toenemende skerp styging in Covid-19-gevalle...

Weer vir 11 Augustus 2020

20 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue toestande sal môre in die Suide vestig. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig tot warm, maar baie warm...

#Covid19SafetyChallenge closing date extended

20 ure gelede | Gesondheid

Justicia Shipena LifeLine ChildLine, through Uitani Radio, invites young people of all ages to participate in the #Covid19SafetyChallenge.This competition aims to monitor how many...