Treurspel op pad by Spitzkoppe

05 January 2017 | Ongelukke
Des Erasmus

‘n Agttienjarige meisie, Simoné Gloeditzsch, het vasgepen in die kajuit van ‘n bakkie aanhoudend en lank op die toeter gedruk in ‘n poging om hulp te ontbied na ‘n ongeluk wat uiteindelik die lewe van haar pa, Bennie Gloeditzsch, op die woestynpad tussen Hentiesbaai en Usakos geëis het.

Die ongeluk het Maandagmiddag net voor sesuur gebeur en die dood van Gloeditzsch het Dinsdagmiddag teen die middaguur in ‘n Windhoekse hospitaal ingetree.

In daardie stadium was me. Carla Gloeditzsch en haar twee jonger dogters reeds op pad na Okahandja met die tyding van die ongeluk wat hulle in die omgewing van Wilhelmstal tussen Karibib en Okahandja bereik het. Simoné was aan een van haar bene vasgepen in die wrak van die ligte vragmotor waar dit op die stuk van die pad gerol het wat baie sinkplaat en sleg uitgery was. Van waar Simoné vasgepen was, kon sy sien waar haar pa gelê het nadat hy in die slag van die ongeluk uitgeslinger is. Hy het stil op sy maag gelê.

Die noodlottige ongeluk het ‘n einde gebring aan ‘n vakansieseisoen wat vanjaar in die Erongostreek deur ‘n skerp afname in padongelukke gekenmerk was. Op Swakopmund het dit Dinsdagmiddag ‘n seisoen gebly van baie mense wat by swemplekke in diep water in die moeilikheid beland het. Dinsdagmiddag was dit twee besoekers uit Botswana wat by Myl 4 uit diep water gered moes word. Die enigste verdrinking was op Kersdag toe 'n agtienjarige meisie by Pebble Beach verdrink het.

Volgens beskikbare inligting was lede van die Gloeditzsch-gesin besig om hulle vir ‘n besoek aan Duitsland voor te berei. Terwyl nog op sekere reisdokumente gewag is, het me. Gloeditzsch en die twee jonger dogters vooruit gery. Die eerste hulp op die ongelukstoneel op die pad wat van Hentiesbaai by die Spitzkoppe verby lei, was ‘n konvooi met toeriste. ‘n Insleepdiens van Usakos en paramedici van nooddienste was kort daarna op die toneel.

Simoné en haar pa is in afsonderlike ambulanse na die hospitaal op Usakos gebring, maar as gevolg van die erns van die toestand van veral mnr. Gloeditzsch is hulle na Windhoek oorgeplaas. Ernstige kommer het oor wyle Gloeditzsch se nek- en bobeenbeserings bestaan.

Gloeditzch was in sy dertigerjare. Op skool was hy ‘n bekende rugbyspeler van die Hoërskool Walvisbaai en het die span as flank verteenwoordig toe die Walvisbaaiers die Metropolitan Superliga in 2002 die eerste keer in 28 jaar gewen het. In die kompetisie was hy in die halfeindstryd teen WHS en die eindstryd teen Otjiwarongo een van sy span se driedrukkers.

Op Swakopmund het twee besoekers Dinsdagmiddag by Myl 4 in diep water beland net suid van die plek waar ‘n verdrinking op Kersdag aangemeld is. Dié keer was dit strandgangers wat die swemmers gered het. Personeel van noodbystansdienste met hul voertuie was ook gou op die toneel.

Dit was ‘n vakansieseisoen wat deur swemmers met probleme in diep water gekenmerk was. Dinsdagmiddag moes die twee mense van Botswana uit die water gered word met nog 23 strandgangers wat in verskeie ander voorvalle in nood verkeer het.

Laat gistermiddag is nog ‘n noodlottige ongeluk op die pad tussen Uis en Khorixas bevestig. Die ongeluk het blykbaar al in die Nuwejaarsnaweek gebeur en die oorledene is volgens beskikbare inligting ‘n oorsese toeris. Die besoeker het gesterf toe ‘n dubbelkajuitbakkie sowat 45 km buite Uis op die pad na Khorixas in ‘n drif gerol het. Die oorledene is uit die bakkie geslinger met die rollende wrak wat bo-op hom beland het. Besonderhede oor die ander insittendes was nie teen druktyd beskikbaar nie.

Onderskrif

Die toneel van die ongeluk wat Maandag die lewe van mnr. Bennie Gloeditzsch geëis het. Die oorledene het in Windhoek aan sy beserings gesterf.

Bennie Gloeditzsch met leeus as sy speelmaats. Die foto is Maandag op sy facebookblad geplaas.

Bennie Gloeditzch as gesinsman met een van sy drie dogters. Foto’s verskaf

Soortgelyk

 

Nog ‘n bejaarde op Swakopmund vermoor

15 ure gelede | Misdaad

Die ligaam van ‘n 78-jarige man is vanoggend deur lede van die Namibiese polisie by sy huis op Swakopmund in die Vineta-woonbuurt gevind. Volgens hoofinsp....

Toeriste se veiligheid van belang

18 ure gelede | Toerisme

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het vanoggend tydens 'n nuuskonferensie in die hoofstad aangekondig dat 'n spesiale polisie-eenheid vir toeristeveiligheid...

Tienjarige vir moord ondersoek

1 dag gelede | Misdaad

Die polisie in die Noorde ondersoek 'n saak van moord nadat 'n 10-jarige seun na bewering die bure se vierjarige seun versmoor het deur sand...

Bouwerk aan Neckartaldam gestaak

1 dag gelede | Ministeries

Ronelle RademeyerKonstruksiewerk aan die Neckartaldam buite Keetmanshoop is gister vir die tweede keer in vier maande gestaak aangesien die minister van landbou, water en bosbou...

Sonder stene word Uis 'n broodlose dorp

1 dag gelede | Plaaslik

Des ErasmusVir 'n geskatte 2 000 afhanklikes van die unieke steenbedryf op Uis gaan die brood van hul tafels verdwyn wanneer gedwonge isolasie Namclay se...

Weer, Vrydag 18 Augustus 2017

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Aanvanklik baie koud, maar andersins mooiweer en koud tot matig. In die Noorde sal dit warm tot baie warm wees.KUS: Sonnig en warm in...

Omaruru pure perd met tentedorp

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Des ErasmusKamp Runnik noem die ­organiseerders van Omaruru se Kunsroete die tente­kommune waarmee behuisingsnood in die dorp se hoogtepunt van die jaar aangespreek gaan word....

Chinese beskuldigde in miljarde se bedrogsaak verbeur borggeld

1 dag gelede | Howe

Jacqueline Louw – Een van die sewe Chinese burgers wat saam met ’n Walvisbaaise sakeman tereg staan op klagte wat verband hou met ’n N$3,5...

DTA vra kommunikasievryheid

1 dag gelede | Politiek

Die DTA het sy kommer uitgespreek oor die beplande enkele fasiliteerder vir internasionale kommunikasie.Volgens die sekretaris-generaal van die DTA, mnr. Manuel Ngaringombe, is Namibië 'n...