Topskrywer kom kuier in heimat

Navorsing vir volgende Hochnamib-boek

08 February 2019 | Kuns en vermaak
Francoise Steynberg - Die bekroonde skrywer Zirk van den Berg sien ontsettend uit daarna om weer in in sy geboorteland Namibië te kom kuier en navorsing oor sy volgende boek te doen.

Twee van sy briljante boeke, 'n Ander mens en Die vertes in, speel in Namibië af. Zirk, wat in Nieu-Seeland woon, is in 'n stadium daar as die beste misdaadskrywer beskou en hy het albei dié boeke oorspronklik in Engels geskryf, met die titels Nobody Dies en Parts Unknown.

"Ek is net 'n week in Namibië, maar het die lekkerte in my kop gerek deur vooraf te beplan en ook deur seker te maak ek benut elke dag goed," het Zirk gesê.

"Ek gaan in Windhoek kuier en vinnig op Swakopmund aangaan, daarvandaan 'n lang draai oor Spreetshoogte maak en dan woestynlangs Suide toe ry. Spreetshoogte se uitsig oor die rou planeet is iets wat ek vir my vrou wil gaan wys."

Zirk gaan dan ook inligting vir sy volgende Hochnamib-boek insamel.

Namibiërs kan op Saterdag 16 Februarie om 10:30 by Book Den in Windhoek saam met Zirk kuier en op Dinsdag 19 Februarie om 18:00 by Swakopmunder Buchhandlung.

Ná sy besoek aan Namibië gaan Zirk die Woordfees op Stellenbosch bywoon. Hy gaan daar op 8 Maart by die Skrywersfees in gesprek wees oor sy nuwe voorstedelike sprokie, Ek wens, ek wens, asook die heruitgawe van sy misdaadroman, ’n Ander mens, wat in April as 'n rolprent op die grootskerms gaan draai.

"Byna 20 jaar nadat ek hierdie boek geskryf het, dink ek nog steeds die grondliggende storie van 'n polisievrou wat mense in die getuiebeskermingsprogram doodmaak, is baie lekker," sê Zirk.

Hy het in 2014 met die kykNET-Rapport-toekenning vir dié misdaadroman weggeloop.

Zirk is op 14 Julie 1960 op Walvisbaai gebore en het in die Kaap grootgeword. Hy het met ’n beurs van Nasionale Pers aan die Universiteit van Kaapstad 'n B.A.-graad verwerf. Daarna werk hy onder andere as koerantjoernalis, subredakteur, kopieskrywer en vertaler wat onder meer drie Wilbur Smith-boeke vertaal. Die Van den Bergs trek in 1998 sak en pak Nieu-Seeland toe waar hulle in Auckland woon.

Republikein het per e-pos met Zirk gesels:

V: Hoe lank het jy op Walvisbaai gebly voordat julle Kaap toe getrek het? Het jy gereeld daarna hier kom kuier? Watter herinneringe koester jy oor jou kinderdae in Namibië?

A: Ons het Kaap toe getrek net voordat ek begin skoolgaan het. My herinneringe aan Walvisbaai is dus dié van 'n kind, soos om in digte mis Sondagskool toe te loop, Elvis-flieks in die spoorwegklub saam met my een suster op Saterdae, ons eerste hamburgers by Oom Tjoppie se slaghuis, my pa wat visvang by Wlotzkas, en die ganse familie wat uitkamp by Hentiesbaai vir Kersfees. My neef Klein Koos het oorkant die straat gebly, en ons het baie saam gespeel.

Nadat ons Kaap toe getrek het, het ons gereeld by familie kom kuier, meestal in Windhoek en op die plaas Chaibis onderkant Gamsberg.

Jy woon al byna 21 jaar in Nieu-Seeland en jy was laas in 2014 in Namibië. Het die land vir jou baie verander? Vertel ook van jou lewe en werk in Nieu-Seeland.

Ek voer 'n rustige bestaan in Nieu-Seeland deur skryfwerk vir besighede te doen, meestal op vryskutbasis. Na 'n moeilike begin is my vrou, Elsabé, nou tevrede om daar te woon, en ons twee kinders is groot en gelukkige Kiwi’s.

Ek kyk so nou en dan na Republikein op die internet, maar volg nie eintlik wat in Namibië of Suid-Afrika aangaan nie. Hierdie doelbewuste onkunde oor Suider-Afrika se probleme is hoe ek my beloon vir die hartseer van ver wees.

Die grootste verandering wat ek oplet as ek hier kom, is sosiaal en polities. Tydens my vorige besoek het Namibië verkiesing gehou, en dit was goed om te sien hoe rustig en ordelik alles verloop. Ek dink Namibië se mense het geweldig baie om op trots te wees, nie net oor hoe dit nou hier gaan nie, maar ook oor die stryd en tegemoetkoming wat hier plaasgevind het.

V: 'n Ander mens en Die vertes in speel in Namibië af. Verlang jy soms terug na jou geboorteland?

A: Om te emigreer, is vrek swaar. Ek het die grootste deel van my lewe in die Kaap gebly, en toe ons in Nieu-Seeland aanland, was ek eintlik onkant betrap oor hoeveel ek spesifiek na Namibië verlang het. Elke keer as ek hier kom, wonder ek hoe my lewe sou gewees het as ek die werksaanbod aanvaar het wat ek in die laat 1980's by Republikein gekry het. Dit sou dit makliker gemaak het om boeke te skryf wat hier afspeel, dis vir seker.

V: Die Vertes in speel in die Kalahari en Gamsberg af waar jou oupas, Zirk van den Berg en Andries Bredenkamp, vandaan kom. Jy het ook die boek aan hulle opgedra. Vertel van hulle en jou herinneringe aan die Kalahari en Chaibis. Is Chaibis nog steeds in die familie?

A: Oupa Zirk het toentertyd aansoek gedoen om 'n plaas – iets wat jy daardie tyd as witman kon doen – maar dit sukkel toe so dat hy oplaas skryf en kla die man wat sy aansoek hanteer, is so agter die klip, hy hoort in Moskou. Kort daarna hoor oupa toe 'n plaas is aan hom toegeken . . . genaamd Moscow!

Ek ken die plaas nie baie goed nie, maar het wel as tiener daar duin-op en duin-af gestap dat my gô uithang, en op my ooms se plase naby Gochas en Mariental.

Op my ander oupa se plaas, Chaibis, het ons heelwat gekuier toe ons op Walvisbaai gebly het, en ook later op besoek van die Kaap af, en selfs 'n keer of wat vandat ons Nieu-Seeland toe getrek het. Daar het ek as kind met my nefies gespeel en voëltjies met 'n kettie gejag (sonder sukses), met 'n ingevoude streepsak oor my kop in die reën gebaljaar, by die plaasstoor suikerklontjies gekry, en sulke lekker dinge. My oupa Andries, dink ek nou, was nogal baie soos ek. Of seker andersom.

Die plaas Chaibis is nog in die familie met my neef Botter Bredenkamp wat daar boer in die mate wat die droogte hom toelaat.

V: Jy het baie navorsing oor die geskiedenis van die ou Duitswes-Afrika vir Die vertes in gedoen. Lê dié tydperk se geskiedenis jou na aan die hart?

A: Ja, daar is 'n geweldige romantiek omtrent daardie tyd – Afrika as Europa se fantasie van verlore onskuld. Wat dan natuurlik deur die werklike wedervarings weerlê word.

Toe my destydse uitgewer na aanleiding van 'n Ander mens se Namibiese tonele voorstel dat ek misdaadboeke skryf wat hier afspeel, het ek gedink dis 'n goeie idee. Ek het egter besef ek ken die huidige Namibië nie goed genoeg om dit te doen nie, en besluit toe om eerder my historiese kennis op te skerp en die stories in die ou tyd te laat afspeel.

'n Mens kan nie die Duitse geskiedenis van Namibië lees sonder om enersyds beïndruk te word deur wat hulle alles vermag het nie, en andersyds deur die onreg teenoor die inheemse bevolking. Ek het dit geweldig gewaardeer toe 'n senior figuur in die Afrikaanse letterkunde gesê het Die vertes in was syns insiens polities baie genuanseerd.

V: Was Die vertes in vir jou maklik om te skryf (omdat dit so vloeiend lees) en hoe het jy aan hierdie ongewone karakters gekom?

A: Nie maklik nie, maar baie lekker.

Ek wou 'n storie oor 'n polisieman skryf, maar wou hom nie die tipiese sterk ou maak nie. Maar hoe beland 'n op die oog af verskimmelde outjie in die polisie? Toe kies ek 'n tyd van omwenteling waarin die gewone standaarde nie altyd toegepas kan word nie.

Terloops, hierdie soort probleemoplossing is belangriker in kreatiewe werk as wat baie mense besef.

Wat wel 'n ingewing was, die soort idee wat lesers dink skrywers altyd kry, was die gedagte dat 'n paar vreemdelinge op Swakopmund op dieselfde trein klim en dat hulle lewens dan vervleg raak. Dit het sin gemaak dat daar benewens my polisieman (aanvanklik 'n soldaat) 'n vrou ter sprake is, en ek wou 'n plaaslike persoon ook hê, en dan het ek 'n rassistiese navorser ingesit. Dit het lekker storiemoontlikhede gebied. Van hier af het die karakters maar organies ontwikkel, elk met sy eie strewes en geaardheid.

Die skryfwerk was soos om 'n kar wat in die sand vassit, te laat loop – jy moet heeltyd matjies voor die wiele gooi. Ek het dit maar opgemaak soos ek aangaan. En toe van 2015 tot 2018 herskryf en herskryf totdat alles lekker werk.

Dis ongetwyfeld die boek waaraan ek nog die hardste gewerk het. Boonop moes ek Duits leer lees ter wille van die navorsing.

V: In 'n Ander mens, Die vertes in en jou nuutste, Ek wens, ek wens, is jou hoofkarakters onwaarskynlike helde en gewone, amper jammer-kry-mense, selfs "underdogs". Waarom?

A: Die lewe bestaan meestal uit gewone mense wat gewone dinge beleef. Dit maak nie noodwendig 'n interessante boek nie. Wat 'n interessante storie maak, is ongewone mense wat gewone dinge beleef, ongewone mense wat ongewone dinge beleef, of gewone mense wat ongewone dinge beleef. Boeke in die eerste kategorie wen literêre pryse en die tweede klomp maak geld. My boeke pas in die derde groep.

Ek skryf oor gewone mense, want dis die mense wat ek ken. Tawwe helde wat heeltyd raakvat, verveel my. Met Die vertes in wou ek doelbewus oor 'n ander soort hoofkarakter skryf, iemand met swakhede en twyfel. Dis mos nou baie interessanter.

V: Kan ons uitsien na 'n opvolg op Die vertes in?

A: Ja. Ek het 'n tweede boek wat by die uitgewers lê – 'n moordstorie wat 'n paar maande later by Hochnamib-polisiestasie afspeel met meestal dieselfde karakters. En dan werk ek tans aan 'n derde boek wat nogal 'n nuwe perspektief op die eerste twee gee, wat die drade saamtrek en afbind. Ons sal nog sien wat word van hierdie twee, sluit Zirk af.


STERK SPANNINGSLYN
Zirk se boeke is boeiend en meesleurend met 'n sterk spanningslyn. Sy menslike stories sonder pretensie bly by jou spook, net soos die woestynstof wat Namibiërs nooit van hul voete kan afstof nie. Sy onwaarskynlike held-karakters van lafaards wat die helde word en andersom, skop jy nie agter elke doringbos uit nie.

Zirk se boeke moet nie net op elke Namibiër se boekrak pryk nie; met sy grensverskuiwende skryfstyl plaas hy Namibië stewig op die wêreldkaart.


BOEKE
Die Vertes in

Duitswes-Afrika, 1905. ‘n Tyd van oorlog en beroering. Die tengerige Siegfried Bock kom as soldaat na die protektoraat om sy staal te wys. Maar hy word gou ontnugter toe hy vergrype aanskou wat hy nie kan vergeet nie. In die uitgestrekte, majestueuse landskap van Duitswes-Afrika word vyf mense se lot vervleg en elkeen se menslikheid word tot die uiterste beproef.

'n Ander mens

Polisievrou Erica van der Linde is in beheer van die getuiebeskermingsprogram in Kaapstad in die jare negentig. Sy het die perfekte manier gevind om te verseker dat getuies in haar bewaring vir goed verdwyn uit die normale samelewing. Sy vermoor hulle. Maar sy't nog nooit 'n getuie soos Daniël Enslin teëgekom nie.

Ek wens, ek wens

As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. Wat help dit om te wens vir 'n ingryping wat hom sal losruk uit sy saai bestaan? Maar toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, kry Seb tog rede om in wense te glo . . . En kom voor 'n dilemma te staan: Waarvoor wens jy as jy één wens het wat waar gaan word?

Soortgelyk

 

Antjie Krog plaas gewraakte toespraak in konteks

4 ure gelede | Kuns en vermaak

Ronelle Rademeyer - Die veelbekroonde Suid-Afrikaanse digter, skrywer en akademikus, Antjie Krog, het in ’n radio-onderhoud die konteks verskaf vir ’n toespraak deur haar wat...

Hep E: 28 gevalle 'n dag

18 ure gelede | Gesondheid

Henriette LamprechtByna 30 nuwe gevalle van hepatitis E is in die laaste week van Julie daagliks oraloor die land aangeteken. Die siekte het boonop die...

Kaalkiekies saai amok aanlyn

18 ure gelede | Misdaad

Denver KistingSo onlangs soos gisteroggend moes die stadspolisie in Windhoek hulle na 'n toneel haas nadat 'n vrou haar lewe probeer neem het weens gelekte...

Die weer vir 8 Augustus 2019

18 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koud tot matig in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en matig...

Ministerie steek stokkie voor mossel-oes

18 ure gelede | Ministeries

Erwin LeuschnerDie minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het gister die oes van witmossels vir kommersiële gebruik verbied. Hy het dit by...

Ma hoop seuntjie leef nog ná 22 jaar ...

18 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Meer as 22 jaar ná ’n negejarige seuntjie van die Kaapse Vlakte van sy ouerhuis verdwyn het, hoop sy ma hy lewe...

Dubbele moordenaar kry vyfde prokureur

18 ure gelede | Howe

font face="Verdana">Die man wat Dinsdag in die Windhoekse hoërhof skuldig bevind is aan die moord op twee vroue in Januarie 2016 het gister sy vyfde...

Bekendes belê groot in gasvryheidsbedryf

18 ure gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer - Die gewildheid van die drie Stellenbosch-restaurante in die Bougainvillea-sentrum in Klein Windhoek – The Stellenbosch Wine Bar, Tasting Room en Market –...

Polisie sing Kalahariwoestyn-lofliedere

18 ure gelede | Polisie

Denver Kisting Sedert die polisie verlede jaar met ander owerhede begin kragte saamsnoer het om misdaad te bestry, het misdaadbedrywighede met nagenoeg 9% afgeneem.So sê...