Tenders vir koshuise teruggestuur

96 doen aansoek, nege toegeken, elf maak beswaar

26 March 2021 | Sakenuus
Augetto Graig – Die tender om kos vir skolekoshuise landswyd te voorsien, is deur die openbare verkrygingshersieningspaneel van die ministerie van finansies na die sentrale verkrygingsraad teruggestuur.

Volgens die uitvoerende direkteur van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, beteken dit daar moet ook weer by die verkryingsraad toestemming gekry word om die bestaande kontrakte te hernu. Die kosvoorsieningskontrakte kom op 31 Maart 2021 tot 'n einde.

Volgens 2020-statistiek kon Steenkamp toon dat die regering 1 920 skole onderhou, met 244 koshuise insluitend 84 koshuise vir laerskole en 19 met fasiliteite vir kinders met spesiale behoeftes.

Uit 804 079 leerlinge was 60 937 laas jaar in 'n regeringskoshuis, waar 3 989 onderwysbeamptes ook gewoon het. Die ministerie bestee jaarliks sowat 'n halwe miljard aan voedselaankope vir koshuise, sê sy.

Die hersieningspaneel het besluit die toekenning van die N$3,5 miljard tender moet herevalueer word. Die tendertoekennings is hersien nadat elf van die oorspronklike aansoekers daarteen beswaar aangeteken het. Die massiewe tender is aanvanklik in Junie 2020 uitgereik en die oorspronklike sperdatum is later tot 9 September 2020 verleng.

Die verkrygingsraad het altesaam 96 tenderaanbiedinge ontvang en het op 22 Februarie nege aansoekers goedgekeur.

Die tenderaars is James and Young Trading Enterprises vir die Omahekestreek; Beva Investments vir Otjozondjupa; Sash Trading and Earthworks vir die Oshana- en Oshi­kotostreke; Ndakalimwe Investments vir Ohangwena; Tuthikameni Pamwe Investments vir Erongo en Kunene; Future Fresh Super Market vir Khomas; Om'kwana Caterer vir Omusati; Stream Two Properties vir Zambezi en beide Kavango-Oos en -Wes, asook Fundamental Trading Enterprises vir Hardap en ||Kharas.

Volgens die hersieningspaneel se beslissing 'n week gelede moet die verkryingsraad die toekenning van die tenders herevalueer in terme van onder meer Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) klaringsertifikate, Namibiese ­eienaarskap en die voorsiening van stoorfasiliteite en pakhuise.

Herevaluering moet steeds streng volgens die aanvanklike instruksies aan tenderaars gedoen word en is beperk tot die aansoekers wat skriftelik tot die verlengde bieproses ingestem het.

Spesifieke kwessies uitgelig deur die aansoekers wat nie aanvanklik suksesvol was nie, sluit in dat dele van die tender is wel aan Tuthikameni Pamwe Investments en Fundamental Trading Enterprises toegeken is, hoewel beide geen bewyse van pakhuis- en stoorfasiliteite ingedien het nie, wat 'n noodsaaklike vereiste in die tender was.

Ander klagte was dat die verkrygingsraad die sperdatums van SSC-klaringsertifikate in ag geneem het hoewel dit nie in die instruksies vir tenderaars so uiteengesit is nie.

Die raad het glo ook ander kriteria toegepas om aansoekers te diskwalifiseer, wat ook nie in die instruksies aangedui is nie.

Nog 'n kwessie was die betrokkenheid van mnr. Johannes Neputa as rekenmeester vir vier van die nege goedgekeurde aansoekers, terwyl hy ook self as die eienaar van Om 'kwana Caterer die tender gewen het. Daar was egter nie genoeg bewyse om enige vuilspel te bevestig nie en dié beswaar is laat vaar.

Die verkryingsraad het nou tot 17 April om die herevaluering te voltooi, of sal vir 'n verdere verlenging aansoek moet doen as die taak nie binne hierdie tydperk afgehandel word nie.

Intussen doen Steenkamp 'n beroep op ouers om eerlik te wees oor die nodigheid om hul kinders in koshuise te plaas, omdat koshuise die grootste deel van die ministerie se bedryfsbegroting kos.

“Vanaf volgende jaar sal ons veel strenger moet wees. Koshuise is bedoel vir benadeelde kinders wat meer as 5 km skool toe sou stap, of spesiale gevalle wat deur welsynswerkers verwys word. Ouers moet dan ook koshuisfooie betaal en bydra waar hulle kan tot die koshuis se instandhouding,” sê sy.

[email protected]

Soortgelyk

 

Hoërskool Rehoboth gesluit tot ná Paasnaweek

2 ure gelede | Onderwys

Hoërskool Rehoboth is vanaf vandag tot Dinsdag 6 April gesluit. Volgens die bestuur van die skool sal dié tyd gebruik word om die skoolperseel deeglik...

Robberts bly in aanhouding

13 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...

Inentings: Namibiërs wag en kyk

13 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ’n Wag-en-kyk-benadering en voorkeur vir spesifieke entstowwe is van die redes vir die trae reaksie tot die ministerie van gesondheid en maatskaplike...

Living a purposeful life

13 ure gelede | Mense

Rivaldo Kavanga“I would advise the youth to relentlessly go after whatever they desire unlimited. In pursuit of long-term gains and not short term rather.” Ndakondja...

Weer vir 30 Maart 2021

13 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die verre suide en die Zambezi-streek. Elders gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie. Wyd verspreide donderbuie in die...

Huishoudelike geweld gedy in Kavango-Wes

13 ure gelede | Misdaad

Die naweek is drie sake van huishoudelike geweld in die Kavango-Wesstreek by die polisie aanhangig gemaak. Vrydag om 05:00 het ’n 36-jarige man in die...

Running for those who can’t

13 ure gelede | Skole

In honour of cerebral palsy awareness month and as part of a school project, four learners from Windhoek Afrikaanse Privaatskool ran with children, parents and...

Windhoek kry eie ekonomiese plan

13 ure gelede | Regering

Augetto Graig – Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, sê die regering moenie terugstaan sodat die private sektor die nasie tot werkskepping en ekonomiese...

Ending the double shift system at schools

13 ure gelede | Onderwys

Rivaldo KavangaBet-el Primary School on Friday, 26 March 2021 received three classroom blocks and a storeroom from The Craton Foundation. The classrooms were donated to...