Teetyd uit soos koekies in 'n staatshospitaal
Henriette Lamprecht – Die dae van 'n koekie en 'n koppie tee op 'n pasiënt se bedkassie soggens en saans is getel.
Van 1 April af gaan geen tee, koffie, sap en koekies nie meer deel van staatshospitale oraloor die land se spyskaart wees nie.
Dié stap is 'n poging deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) om "beduidende koste" te bespaar en om sy reeds beperkte hulpbronne beter aan te wend.
Volgens die waarnemende uitvoerende direkteur, me. Bertha Katjivena, dra drankies soos koffie, tee en sap en versnaperinge soos koekies nie beduidend tot pasiënte se gesondheid en welstand by nie.
Boonop word dit ook nie in alle gevalle vir hul behandeling vereis nie.
Katjivena het gesê: “As bestuurders is dit ons plig om te verseker die hulpbronne wat aan ons toegeken is, word spaarsamig en verantwoordelik bestuur.
“In die moeilike ekonomiese omstandighede moet ons gebiede identifiseer waarin ons kan bespaar sodat hulpbronne vir meer kritieke areas aangewend kan word,” het Katjivena gesê.
Volgens haar het die ministerie tot die besef gekom daar is ’n groot vermorsing van tee, koffie, sap en koekies, waarmee pasiënte drie keer per dag tussen maaltye bedien word.
Dié drankies en peuselhappies word daagliks om 10:00, 15:00 en 19:00 teen ’n “beduidende koste” vir die ministerie bedien.
Volgens Katjivena is gevind dit word selde, indien ooit, deur pasiënte opgedrink of -geëet.
“Dit word meestal in bedkassies gebêre waar dit allerhande peste lok en pogings ondermyn om ’n pesvrye omgewing by ons gesondheidsgeriewe te bewerkstellig,” het Katjivena verduidelik.
Sy het gesê die bestuur het dieetkundiges opdrag gegee om spyskaarte te herevalueer om te bepaal of die weglating van versnaperinge die algehele voedingswaarde van maaltye vir pasiënte sou beïnvloed.
Die bevinding was dat dit geen negatiewe uitwerking sou hê nie.
Katjivena het beklemtoon die opskorting van dié verversings sal nie van toepassing wees op pasiënte wat moet eet voordat hulle hul medikasie neem of waar meer gereelde maaltye nodig is om gesondheidstoestande te bestuur nie.
“In alle stappe wat ons neem en wat ons in die toekoms sal neem, bly die welstand van ons pasiënte ons belangrikste oorweging."

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie