Swapo skop Shangala, Esau nie uit sentrale komitee

‘Onskuldig tot anders bewys’

12 January 2021 | Politiek
Kenya Kambowe op Rundu

Swapo sal mnre. Bernard Esau en Sacky Shanghala nie uit sy sentrale komitee, en politburo in die geval van laasgenoemde, verwyder tensy hulle skuldig bevind word in die voortslepende Fishrot-skandaal nie, het me. Hilma Nicanor, partywoordvoerder, gesê.

Die party is onder druk om die twee politici, wat in verband met die omkoopskandaal sedert November 2019 in die tronk is, uit sy leierskapstrukture te verwyder.

Laat verlede jaar het die politburo beraadslaag oor die moontlikheid om die twee oudministers te verwyder, maar dit het nie gebeur nie. Swapo het die twee uit die parlement herroep toe die Fishrot-skandaal meer as ’n jaar gelede opgeduik het en het hulle voor die algemene verkiesing in 2019 van die party se parlementêre lys geskrap.

Dié stap is gesien as ’n foefie om kiesers te laat glo dat die party nie die beweerde dade van die twee lede goedpraat nie, maar die feit dat geen interne aksie geneem is nie, wat Shanghala en Esau deel van die besluitnemers in die party maak, skep ’n ander indruk.

Na bewering het Esau en Shanghala met ander Fishrot-medebeskuldigdes saamgewerk om wette met versteekte agendas te wysig om omkopery moontlik te maak. Hulle het glo miljoene dollars in omkoopgeld ingewin in ruil vir die toekenning van viskwotas aan die Yslandse maatskappy Samherji. Duisende werkers in die vissersbedryf het hul werke verloor toe kwotas ontneem is van die private ondernemings waarvoor hulle gewerk het.

Die viskwotas is eerder aan Fishcor, ’n maatskappy in staatsbesit, gegee. Fishcor is nou die middelpunt van die Fishrot-omkoopskandaal. Mnre. Mike Nghipunya, gewese uitvoerende hoof, en James Hatuikulipi, direksievoorsitter, is ook agter tralies oor hul beweerde rol.

ONSKULDIG TOT ANDERS BEWYS

Nicanor hou vol dat Swapo slegs teen Shanghala en Esau sal optree as die howe hulle skuldig bevind.

“Dit is nie so dat Swapo dié aksies goedkeur nie. Ons sê almal dat ons teen korrupsie en sulke dinge is,” het Nicanor gesê. “Ons wil hê geregtigheid moet seëvier.”

Ondersteuners van die twee voormalige kabinetslede het bevraagteken waarom die twee uit die parlement verwyder word as ’n hofuitspraak as die grondslag dien om teen hulle op te tree, aangesien hulle nog nie skuldig bevind is nie.

Volgens artikel 16 (1) van die Swapo-gedragskode en -prosedure is ’n lid skuldig aan wangedrag as hy/sy skuldig bevind word in ’n geregshof en gevonnis word tot gevangenisstraf sonder die opsie van ’n boete vir enige ernstige nie-politiese oortreding.

Artikel 16 (15) van dieselfde dokument lui egter dat ’n lid skuldig is aan wangedrag as hulle op ’n skandelike, onvanpaste of onbehoorlike manier optree en die party in die verleentheid stel.

Op die vraag of artikel 16 (15) waarborg dat die party teen die twee oudministers sal optree, veral omdat Fishrot die skuld kry daarvoor dat Swapo stemme verloor het tydens die nasionale verkiesing van 2019 en 2020, het Nicanor gesê Swapo sal deeglik na dié kwessie kyk.

‘SWAPO HET OPGETREE’

Sy sê Swapo-president Hage Geingob en senior leiers het opgetree terwyl die saak nog jonk was.

“Hoe hanteer jy ’n saak gedeeltelik? Dit is nie ’n geheim nie dat president Hage Geingob, wat ook die partyleier is, die twee kamerade ingeroep het om hul aksies te verduidelik,” het Nicanor gesê.

“Dis nie asof die partyleierskap nog dieselfde is vandat Fishrot gebeur het nie.

“Om te sê dit het bygedra tot die verlies aan stemme vir die party, wil ek sê jy sal natuurlik in die openbaar mense kry wat sê wat hulle wil sê, maar ons as Swapo was baie duidelik wat Fishrot betref.”

Op Swapo se 2017-verkiesingskongres is Shanghala en Esau verkies tot lede van sy sentrale komitee. Esau is daarna as lid van die politburo verkies. Sedert hul inhegtenisneming het Swapo sy tweederdemeerderheid in die parlement tydens die 2019-verkiesing verloor, asook belangrike stedelike sentrums, soos die hoofstad Windhoek, tydens die plaaslike owerheidsverkiesing in 2020.

[email protected]

Soortgelyk

 

Pryse van petrol, diesel styg

5 ure gelede | Energie

Die prys van petrol en diesel styg aanstaande week met onderskeidelik 50 sent elk per liter. Die verhoging tree om middernag op 7 April in...

Baie nuwelinge kry viskwotas

5 ure gelede | Visserye

Ondernemings wat tevore visvangkwotas besit het, maak 29% van suksesvolle aansoekers uit, het die minister van visserye en mariene hulpbronne, dr. Albert Kawana, vanmiddag aangekondig.Dit...

WHO vra vir verdere studies oor oorsprong van SARS-CoV-2-virus

6 ure gelede | Gesondheid

Die verslag van die internasionale span van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) oor hul ter plaatse besoek aan Wuhan is vandag bekendgemaak, met die WHO se direkteur-generaal...

Sewe sterftes, 221 nuwe gevalle

6 ure gelede | Gesondheid

Namibië het nou 520 Covid-19-verwante sterftes, nadat nog sewe - twee in Windhoek en een elk in Walvisbaai, Outjo, Omaruru, Walvisbaai en Rundu - aangeteken...

Windhoekers met agterstallige rekeninge se water en ligte gaan...

8 ure gelede | Infrastruktuur

Die Windhoekse munisipaliteit sê inwoners van die hoofstad wie se water- en ligterekeninge 30 dae en meer agterstallig is, het tot Dinsdag 6 April om...

Sluitingsdatum vir Shining Light verleng

8 ure gelede | Kuns en vermaak

Die sluitingsdatum vir die Shining Light juweliersontwerpkompetisie is tot 30 April verleng. Me. Helena Mootseng, woordvoerder van die Namibian Diamond Trading Company (NDTC) sê...

Hoërskool Rehoboth gesluit tot ná Paasnaweek

12 ure gelede | Onderwys

Hoërskool Rehoboth is vanaf vandag tot Dinsdag 6 April gesluit. Volgens die bestuur van die skool sal dié tyd gebruik word om die skoolperseel deeglik...

Waarskuwingskote stuit vermeende diewe

23 ure gelede | Misdaad

Vermeende diewe is vroeër vandag in Robert Mugabelaan naby Bank of Namibia in die hoofstad in hegtenis geneem nadat skote afgevuur is. "Twee waarskuwingskote is...

Robberts bly in aanhouding

23 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...