Swapo se jeugliga eis bekwaamheid
Swapo se jeugliga eis bekwaamheid

Swapo se jeugliga eis bekwaamheid

Die regerende party se jeug­leiers dring aan stappe moet teen onbevoegde regeringsbeamptes gedoen word.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Swapo-jeugliga (Spyl) veroordeel leiers wat mense op voetsoolvlak die rug toekeer sodra hulle hulself in dié posisies bevind.

Volgens mnr. Ephraim Nekongo, die jeugliga se sekretaris, het die regering se bevoegdheid 'n direkte impak op die land se ekonomie.

“Ons doen 'n beroep op almal aan wie verskeie verantwoordelikhede toevertrou is,” het Nekongo Dinsdag by Swapo se hoofkantoor in Windhoek gesê.

Nekongo het by die geleentheid ­terugvoering gegee oor besluite wat tydens die sentrale komitee se vergadering op 13 en 14 Oktober by Eenhana in die Ohangwenastreek geneem is.

“As die ministers nie hul werk doen soos vereis word nie, versoek ons die president nederig om hulle met leiers te vervang wat Namibiërs se belange ter harte neem,” het Nekongo gesê.

“Ons kan nie so voortgaan nie,” het hy gesê en president Hage Geingob aangemoedig om almal af te dank wat nie hul pligte nakom nie.

Hy het spesifiek na alle ­permanente sekretarisse en administratiewe ­regeringsbeamptes verwys.

“Die regering se kultuur moet verander as ons verandering in die land teweeg wil bring,” het hy gesê.

Die jeugliga-leier het verskeie regeringsontwikkelingsprojekte genoem wat van stapel gestuur is, maar nooit in werking gestel is nie. Dit sluit in die Zambezi-waterfront en ­projekte op Keetmanshoop en Oshikango.

Hy het ook verwys na die Rundu-staatshospitaal, wat steeds nie in gebruik is nie.

RUNDU-STAATSHOSPITAAL

“Ons is bewus daarvan dat N$105 miljoen vir die bou van die Rundu-staatshospitaal begroot is, waarvan N$90 miljoen tot dusver bestee is, met meeste van die geriewe reeds beskikbaar.

“Maar weens die geskil tussen die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste en die kontrakteur kan die hospitaal nie voltooi word nie. Ons doen 'n beroep op die regering om die bouwerk aan die hospitaal onmiddellik te voltooi sodat dit in gebruik geneem kan word,” het hy gesê.

Nekongo het ook na die Wenela-grenspos verwys, wat volgens hom spesiale aandag nodig het.

Die grenspos is oorvol, sy toestand is teleurstellend, en daar is geen beheer oor aansteeklike siektes nie, het hy gesê.

Hy het die regering se ingryping gevra om toestande by dié grenspos aan te spreek.

Die tema van die jeugliga se ­sentrale komitee-vergadering was “die skep van volhoubare werksgeleenthede en voedselsekerheid deur landbou”.

Daar is ook besluit jong Namibiërs wat tuinbouprojekte wil aanpak, moet finansieel en met toerusting ondersteun word.

Verder vra die SPYL-leiers die regering om die land se grense te sluit vir dít wat plaaslik gekweek of verbou word.

Hulle is besorg oor die tekort aan swart eienaars in toerisme-­ondernemings.

Die regering moet beskik dat swart eienaars van veral trofeejagondernemings meer betrokke by dié bedryf is.

“Die plaaslike toerismebedryf moet verteenwoordigend en insluitend raak,” het Nekongo gesê.

Die ministerie van die omgewing en toerisme moet die sektor omskep sodat gewone Namibiërs en gemeen­skappe nie net begunstigdes bly nie, maar eienaars word, het hy gesê.

Die jeugliga eis dat alle regeringsinstansies soos skole, tronke en die weermag slegs kos aanskaf wat plaas­lik vervaardig is.

Die Agro-bemarkings- en -handels­agentskap (Amta), wat ook klein plaas­like ondernemings moet aanstel om die varsproduktekern in streke te bestuur, moet ondersteun word, sê SPYL.

Jongmense moet baat by die ­regering se beoogde trekkerprojek – as verskaffers en begunstigdes.

Die ministerie van landbou, water en bosbou moet boorgate sink en ­besproeiingstoerusting verskaf.

Namibiese ondernemings moet meer deur die regering beskerm word.

Die ministerie van sport, jeug en nasionale diens moet beter befonds word. Die minimumloonwet moet aangeneem word.

Leiers van staatsondernemings moet aanspreeklik gehou word, en elke Namibiër moet op slegs een ­bestuursraad dien, sê Swapo se jeug.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!