Swapo eindelik reg vir optree teen Fishrot-hoës

Poste in sentrale komitee en politburo in spervuur

08 April 2021 | Politiek
Mathias Haufiku – Die topbestuur van die regerende party het glo besluit om twee voormalige leiers, mnre. Bernhard Esau en Sacky Shanghala, uit hul sentrale komitee- en politburo-ampte te verwyder.

Mnr. Austin Samupwa, Swapo se uitvoerende direkteur, het geweier om dit te bevestig toe hy Dinsdag op ons susterkoerant Namibian Sun se geselsprogram The Evening Review verskyn het, maar het wel bevestig 'n aankondiging in dié verband sal binnekort gemaak word.

Shanghala en Esau is tans verhoorafwagtend en staan tereg op klagte van korrupsie, geldwassery en bedrog in verband met die Fishrot-omkopery­skandaal.

Namibian Sun kan bevestig dat toppartyleiers, onder wie pres. Hage Geingob, verlede week in Windhoek vergader het om die lot van dié voormalige ministers te bepaal wat bedank het nadat die multimiljoendollar omkoperyskandaal oopgevlek is.

Shanghala is 'n lid van die sentrale komitee, terwyl Esau op dié struktuur sowel as in die politburo van Swapo dien.

Sedert hul inhegtenisneming in November 2019, en ondanks die feit dat hulle uit die parlement geskors is nadat die skandaal aan die lig gekom het, het Geingob en sy partyleiers die besluit heftig verdedig om die duo in hul onderskeie Swapo-ampte aan te hou, en gesê hulle kan nie optree voordat hulle nie in die hof skuldig bevind word nie.

Die skuif om hulle voor die verkiesing uit die parlement te skop, is beskou as 'n foefie om kiesers te laat glo dat die party nie hul beweerde dade goedkeur nie.

Die feit dat geen interne stappe gedoen is nie – en Shanghala en Esau hul topposte behou het – gee egter 'n ander indruk.



VIR DIE WOLWE ­GEGOOI

Shanghala en Esau het 'n sleutelrol in Swapo se 2017-kongres gespeel.

Hulle het Geingob en sy Harambee-span gehelp om as oorwinnaars uit die stryd te tree by die vergadering wat die party in twee mededingende kampe verdeel het.

Nou, enkele weke voor die twee se verhoor op 22 April afskop, het Swapo glo besluit om die duo uit hul topposte in die party te skop.

By 'n vergadering verlede week het die party se politburo na bewering besluit die twee se aanstellings moet herroep word, nadat leiers tevrede was dat hul besluit deur die wette gelei word.

Na wat verneem word, het Shanghala se uitgelekte dokument waarin hy die party waarsku om sy “verouderde politieke program te moderniseer of andersins uit te sterf”, die besluit bespoedig om hom en Esau uit hul genoemde ampte te verwyder.

“Die laaste strooi was daardie lang ding wat Shanghala geskryf het,” het 'n bron in Swapo se binnekring gesê.

“Die brief is nie positief deur die leierskap ontvang nie, wat gevoel het of hulle vir die wolwe gegooi word. Nou word die tronkvoëls in gelyke munt terugbetaal.”

Shanghala het in Desember 2020 deur sy prokureurs 'n aansoek by die kantoor van die prokureur-generaal (PG) ingedien om regshulp te vra. Hy wou hê die regering moet regsverteenwoordiging verskaf óf sy regskoste dek en gesê hy het in sy amptelike hoedanigheid opgetree toe hy gedoen het waarvoor hy aangekla is.

Die PG se kantoor, wat nou al dié aansoek vir maande oorweeg, kon nog nie tot 'n besluit kom nie.

Pogings om kommentaar oor die hangende aankondiging van Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, en die party se woordvoerder, me. Hilma Nicanor, te kry, was onsuksesvol.

- [email protected]

Soortgelyk

 

RMB Song Night vier ’n dekade

2 ure gelede | Kuns en vermaak

Die RMB Song Night-inisiatief wat op die been gebring is met die doel om Namibiese klanke te laat groei en ontwikkel, vier vanjaar sy tiende...

Europese Unie verwelkom besending entstowwe van Covax

2 ure gelede | Gesondheid

Die Europese Unie se adjunkhoof, mnr. Gosia Lachut, het die besending van 24 000 dosisse AstraZeneca-entstof teen Covid-19 van Covax aan Namibië verwelkom. Lachut...

FlyWestair brei binnelandse vlugte uit

3 ure gelede | Vervoer

FlyWestair voeg van volgende Woensdag 28 April 'n ekstra vlug by sy Ondangwa-roete en het ook by die Vervoerkommissie van Namibië aansoek gedoen om vlugte...

Kavango-Oos kry eerste besending Covid-19-entstowwe

4 ure gelede | Gesondheid

Kavango-Oos het sy eerste besending Sinopharm en AstraZeneca-dosisse deel van die immuniseringsveldtog teen Covid-19 ontvang. Die streek het 7 983 Sinopham- en 2 880 AstraZeneca-dosisse...

Vincia Cloete aangestel as hoof van korporatiewe bestuursinsituut

5 ure gelede | Mense

Die Namibië Instituut vir Korporatiewe Bestuur (NICG), wat in 2016 gestig is om gesonde korporatiewe bestuursbeginsels en -praktyke in die land te bevorder, het aangekondig...

Floyd-moordverhoor: Skuldig!

6 ure gelede | Internasionaal

Derek Chauvin (45), gewese polisielid van Minneapolis, is skuldig bevind aan die moord op George Floyd (46).’n Jurie het gisteraand laat (Namibiese tyd) dié beslissing...

Sprinkane nou in 11 streke

15 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – Die verwoestende sprinkaan­plaag het nou na elf van die land se 14 streke uitgekring en dit is net in die Omaheke-, Khomas-...

Pensioenaris in haar huis vermoor

15 ure gelede | Misdaad

Erwin Leuschner – Gisteroggend het ondersoekbeamptes Trekkopjestraat in Kramersdorf in Swakopmund afgesper nadat me. Irene Lohmeier (82) in haar huis by nommer 9 aangeval en...

Miljoene vir vervalste maskers

15 ure gelede | Howe

Jana-Mari Smith – ‘n Chinese tabakmaatskappy met Swapo-bande eis N$6,5 miljoen van ‘n vennoot nadat ‘n ooreenkoms oor die invoer van gesigmaskers op die vooraand...