Swapo deins nie terug vir AR, IPC

‘Komende verkiesings in gevaar’

09 September 2020 | Politiek
Jemima Beukes - Die sekretaris-generaal van Swapo, me. Sophia Shaningwa, het die veronderstelde politieke bedreiging verwerp wat dr. Panduleni Itula se Independent Patriots for Change (IPC) en die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) tydens die verkiesings in November vir plaaslike en streekowerhede kan inhou.

Toe Shaningwa gevra is of sy glo die regerende party is gereed om die twee nuut geregistreerde partye by die stembus aan te pak, het sy gesê Swapo het nie eens kapasiteit nodig om die opposisiepartye te verslaan nie.

Op die vraag of sy bekommerd is, het sy geantwoord: "Wees jý bekommerd." Swapo se sekretaris van inligting, me. Hilma Nicanor, het in die bres getree en gesê die regerende party is vol vertroue hulle sal ’n oorwinning by die stembus behaal.

Volgens haar is Swapo steeds besig om sterker te raak.

Nicanor het bygevoeg Swapo-lede is lojaal en toegewyd tot die welvaart van die party.

“Ons is gereed vir die verkiesings in November; sal ons aanhou om die Namibiese bevolking te vra om die mandaat van die party te hernu. Swapo het die toewyding en politieke wil om hierdie land na 'n ander vlak te neem,” het sy gesê.

Die IPC is geregistreer om oraloor die land mee te ding, terwyl die AR sy takke in Windhoek en op Walvisbaai by die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) geregistreer het.

Mnr. Job Amupanda, die leier van die AR-, het deurgaans sy strewe om die burgemeester van Windhoek te word, duidelik gemaak.

AR selfversekerd

Die AR-aktivis mnr. Dimbulukeni Nauyoma het gesê hulle oorwinning sal beslissend wees sodra die Namibiese jeug opgelei en gemobiliseer word; en as hulle sodanig daartoe verbind is om te verseker jongmense registreer om te stem.

“Die uittredende Suidwes-Afrika (met verwysing na Swapo) is in die verlede tyd en ons kan hulle nie verhewe deur ’n profielsamestelling te skep deur gesprekvoering nie. Ons sal die streek- en plaaslike owerhede oorneem. Dit gaan vir ons oor meer as net politiek,” het hy gesê.

Pogings om kommentaar van Itula en die IPC te verkry, was onsuksesvol.

Stedelike sentrums in gevaar

Alhoewel Swapo volgens politieke ontleders moontlik nog “tuisvelde” het, veral in die noordelike dele van die land, is sy politieke oorheersing in die land se stedelike sentrums tydens die komende verkiesings in gevaar.

Dr. Ndumba Kamwanyah, ‘n politieke ontleder, het gesê Swapo is nog ver daarvan om die publiek se vertroue terug te wen, en dit kan moeilikheid vir die party in die November-verkiesings voorspel.

Kamwanyah het bygevoeg die party word deur vier groot bedreigings in die gesig gestaar, waarvan die eerste die sogenaamde Team Harambee- en Team Swapo-faksie is; 'n gevolg van die 2017-verkiesingskongres wat beslis ondersteuners sal vervreem.

“Die tweede bedreiging is die IPC, wat waarskynlik sal baat by die spanning tussen die twee kampe binne die party. Die derde is die bedreiging wat die AR, wat die oorhand onder jong kiesers het, inhou. Die vierde is die bedreiging van die Landless People's Movement (LPM) in terme van die stemme uit die Suide. Dié bedreigings kan waarskynlik Swapo by die stempunte ’n knou gee,” het Kamwanyah gesê.

Swapo se onlangse nederlae in tussenverkiesings, waartydens die LPM en die onafhanklike kandidaat mnr. Knowledge Iipinge onderskeidelik op Keetmanshoop en Walvisbaai oorwinnings behaal het, kan ook 'n voorsmakie wees van wat die toekoms kan inhou, het ander kommentators gewaarsku.

Geraamtes in Swapo se kas

Volgens prof. Henning Melber is stedelike gebiede soos Windhoek, Walvisbaai en in ander dorpe betwisbare areas, terwyl die LPM 'n goeie posisie in die Suide het.

Melber het bygevoeg daar is min vertroue dat Swapo se introspeksie-indaba, wat grotendeels as 'n grap afgemaak is, die regte impak op ondersteuners gehad het.

“Vir Swapo bly dit 'n konstante stryd om vertroue terug te wen in die kort tydperk wat oorbly. Wat tot dusver gedoen is, blyk te laat te wees en die 'introspeksie' stuur die verkeerde boodskap. Die party voer ‘n stryd met die geraamtes in sy kas en sal nie met 'n skoon gewete die verkiesingsveldtog kan betree nie,” het Melber gesê.

Wat volgens Melber wel van belang is, is die kaliber en betroubaarheid van die plaaslike kandidate, aangesien die komende verkiesings anders is as die Nasionale Vergadering- en presidensiële verkiesings.

“Om Swapo te verteenwoordig is deesdae eerder 'n las as 'n veilige verwysing en dit maak dit moeiliker om kiesers te oortuig. Ek hoop die nuwe samestelling, wat meer keuses vir kiesers bied, ontaard nie in ’n toename in mededingers wat ondemokratiese gesprekke en gedrag tot gevolg het nie, maar dat dit eerder die demokratiese kultuur sal versterk,” het Melber bygevoeg. - [email protected]

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

10 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

10 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

10 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

10 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

10 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

10 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

10 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...