Swaar reu00ebn vir SADC voor Kersfees verwag
Swaar reu00ebn vir SADC voor Kersfees verwag

Swaar reën vir SADC voor Kersfees verwag

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeen­skap (SADC) se sentrum vir klimaatsdienste (CSC) het 'n weerwaak uitgereik dat gebiede in Namibië van nou af tot net voor Kersfees swaar reën kan ervaar.

Die sentrum, geleë in Gaborone, Botswana, reik slegs waarskuwings uit wanneer uiterste weersomstandighede na verwagting in die SADC-streek sal voorkom.

Volgens hul jongste waar­skuwing kan talle plekke in Suider-Afrika tot 23 Desember meer as 50 mm reën in 24 uur ontvang.

Dele met die hoogste waar­skynlikheid vir baie swaar reën sluit in die noorde van Angola, sentrale tot suidelike dele van die Demokratiese Republiek die Kongo, die noordooste van Zambië, die meeste dele van Tanzanië, en die noordelike dele van Mosambiek en Malawi.

Die CSC sê in dié dele is daar 'n sterk kans dat meer as 50 mm in 24 uur ontvang kan word.

Dieselfde geld vir die noordwestelike en oostelike dele van Madagaskar, die Seychelles en suidelike dele van die Oos-Kaap, waar baie swaar reën verwag word.

“Ook kan gebiede in Bo­tswana, Lesotho en Namibië swaar reënepisodes van meer as 50 mm oor 24 uur ontvang.

“Die reën sal waarskynlik tot gelokaliseerde vloede in sekere gebiede lei,” het die CSC gewaarsku.

Die sentrum vra dat nasio­nale meteorologiese en hidro­logiese dienste die weer fyn dophou en hul rampbestuuragentskappe op hoogte van sake hou. Dít om gereed te wees vir optrede om lewens en eiendomme te beskerm.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer