Suid-Afrika vereer Nujoma
Namibië se stigterspresident, mnr. Sam Nujoma, is deur die Suid-Afrikaanse regering met die Orde van Oppermetgesel van O.R Tambo vereer. Die orde word in drie klasse toegeken. Die Oppermetgesel val in die goue klas en word toegeken aan dié wat aktief die belange van Suid-Afrika deur uitstekende samewerking en aktiewe uitdrukking van solidariteit en ondersteuning bevorder het. President Hage Geingob het in sy gelukwense Nujoma as ’n “embleem van ons vryheidstryd” beskryf. Volgens Geingob het die voormalige staatshoof se bydraes tot die vryheid van die onderdruktes verder as Namibiese grense gestrek. Tambo was ’n Suid-Afrikaanse anti-apartheid politikus en aktivis wat saam met Nelson Mandela en Walter Sisulu die ANC se jeugliga in 1943 gestig het. Nujoma sal die toekenning môre (Saterdag) in Suid-Afrika ontvang. - Nampa
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie