Studente ly in Rusland
Studente ly in Rusland

Studente ly in Rusland

Meer as 200 Namibiërs wat in Rusland studeer, moet midde eksamens tussen kos en klas kies omdat hulle nog nie hul maandelikse toelae ontvang het nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die uitwerking van die nasio­nale begroting wat tot op die been gesny is, het deurgesyfer­ tot by Namibiese studente met regeringsbeurse in die buiteland van wie sommige reeds meer as 'n maand vir hul maandelikse toelae wag.

Sowat 213 studente wat as deel van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) se studieprogram in 'n mediese rigting in Rusland studeer, moet nou kies of hul laaste sente midde eksamens kos of 'n buskaartjie klas toe gaan koop.

Volgens die beswaarde studente word die rede vir die wanbetaling van hul maandelikse toelae voor die deur geplaas van “terugslae” wat weens 'n geldtekort in die ministerie van finansies ervaar word. Ander redes wat die direktoraat vir beleidsbeplanning en menslike hulpbronne-ontwikkeling in die ministerie aan studente gee, is studente wat nou op die IFMS-stelsel geregistreer moet word en 'n versoek wat aan die ministerie gerig is om die geld na die MoHSS-rekening oor te plaas van waar dit direk aan studente uitbetaal kan word.

Studente wat deel is van dieselfde studieprogram in ander lande, word glo ook deur die briek in betalings geraak.

“Geen student met 'n ten volle ­geborgde beurs moet hierdeur gaan nie, net so moet nie een van ons wik en weeg of ons ons laaste roebels (sowat N$22) moet gebruik om brood of 'n buskaartjie of reukweerder te koop nie.”

Die studente se mediese fonds dek ook net konsultasies met dokters by die betrokke universiteitsklinieke, terwyl studente self vir alle medikasie moet betaal.

Volgens die beswaarde studente word alle beursbetalings in hul First National Bank-rekeninge inbetaal. Dié rekeninge word egter gesluit, sou daar nie binne 90 dae inbetalings of onttrekkings gedoen word nie.

“Sommige van die studente se rekeninge is weens die laatbetalings gesluit, wat beteken hulle kan nie meer enige inbetalings ontvang nie.”

Die studente se koshuise is sowat 25 minute se stap van die naaste trein­stasie, met nie al die klasse wat op die universiteite se hoofkampus aan­gebied word nie.

Die beswaarde studente is hulle nou in hul finale maand van hul tweede semester midde eksamens en moet noodgedwonge beurte maak om klasse by te woon en ander studente­ se persoonlike vervoerkaarte onwettig gebruik.

Hulle kla voorts hulle is “honger en depressief, met geen energie of motivering om te studeer nie”.

Die studente is verbonde aan onderskeidelik die First Moscow State Medical University en die People's Friendship University of Russia. Die eerste groep het in Oktober 2013 met hul studies begin, terwyl die laaste groep MoHSS-studente in 2015 na Moskou vertrek het.

“Die ministerie het sy belofte gehou en ons registrasie, onderrrig en verblyf betaal en ons het nooit regtig enige probleme hiermee gehad nie. 'n Eenmalige bedrag is aan ons onder­skeie universiteite en koshuise aan die begin van elke nuwe akademiese jaar op 1 September gemaak.”

Die laaste betaling wat egter ontvang is en drie maande gedek het, was in Februarie.

Die volgende betaling moes in die eerste week van Mei geskied het, wat Mei, Junie en Julie dek.

“Meer as 170 studente het in April hul volle besonderhede gestuur om op die nuwe stelsel te registreer. Die eerste groep studente (32) is volgens die ministerie wél op die stelsel en moes hul betalings gekry, iets wat tot op hede nog nie gebeur het nie.”

Die beswaarde student beklemtoon hulle is dankbaar om as deel van die beursprogram te kan studeer en “waardeer werklik alles wat MoHSS tot dusver vir ons gedoen het”.

“Maar sonder 'n toelaag vir lewenskoste, hoe moet ons leef of oorleef?”

Die meerderheid van die studente kom uit 'n arm agtergrond, met familie­lede wat tot 'n baie geringe mate finansiële bydraes kan maak.

“Sommige van ons het nie ouers of familie wat ons kan help nie, ons maak totaal op die beurs staat.”

Ook is die studente in die duister oor die toekoms van die beursprogram en of daar enigsins genoeg geld be­skikbaar is om hul onderrig en verblyf vir die volgende akademiese jaar te betaal.

“As daar nie geld is nie, moet hulle dit nie wegsteek nie. Ons wil die waarheid weet; dit sal ons help om te besluit oor wat ons vir ons toekoms moet doen.”

Volgens MoHSS se woordvoerder, me. Ester Paulus, is die ministerie aan die werk om die maandelikse betaling vir lewenskoste vir Mei, Junie en Julie te betaal. Studente ontvang N$6 600 elk per maand, met die uitbetalings wat volgens Paulus nog in Junie ontvang sal word. Sy wou nie redes vir die laatbetalings verskaf nie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!