‘Storieboekdag’, toe tref tragedie

12 May 2020 | Ongelukke
Ronelle Rademeyer - ’n Branderplankryer van Swakopmund het gister vertel hoe hulle “storieboek-mooi” Moedersdag Sondagmiddag tragiese beëindig is toe hy gehelp het om ’n drenkeling voor ’n standhotel by Myl 4 uit die see te haal.

Mnr. Lee James (26) was die heldhaftige branderplankryer wat na mnr. Paul Lawrence (33) geroei en hom omstreeks 16:00 uit die see gehaal het.

Lawrence, wat by die Seaside Hotel & Spa werk, het saam met sy negejarige seun in die see voor dié hotel geswem toe hulle in die moeilikheid beland het.

James sê hy en sy vriendin, me. Savannah Collins, het by haar ma, me. Donna Collins, gekuier om Moedersdag te vier toe ’n seun aangehardloop gekom het om hulp te kry.

“Ons het op die balkon gesit en oor die see uitgekyk. Dit was ’n pragtige sonskyndag, soos in ’n storieboek.”

Hy sê die seun het by die balkonmuur kom skree daar is mense in die moeilikheid. “Ek kon aanvanklik nie mooi hoor nie, maar het later besef hy probeer ons aandag trek om hulp te kry.”

James, wat ’n hanetree van daar af woon, het dadelik in sy voertuig geklim en na sy huis gery om sy duikpak aan te trek en sy branderplank te kry. Collins (Donna) het intussen die nooddienste gekontak.

Minute later was James op die strand. “Ek het gehoor dit is ’n pa en sy seun wat in die moeilikheid beland het. Savannah was toe al besig om die seun uit die water te help.”

Hy sê ’n man op die strand het vir hom beduie waar hulle die pa laas gesien het, en hy het met sy branderplank soontoe geroei.

Sekondes later het iemand in ’n ander rigting beduie, en hy het van koers verander en Lawrence in die water sien dryf.

James sê hy het met sy gesig in die water gedryf. “Toe ek by hom kom, het ek hom omgedraai en op die branderplank getel. Daar het water by sy mond uitgekom.”

Hy het die sowat 20 m terug strand toe geroei, waar iemand hom gehelp het om Lawrence op die strand neer te lê.

James vertel hy het drukking op sy bors toegepas om die water uit sy longe te probeer kry. Die volgende oomblik het ’n paramedikus van E-Med Rescue 24 daar aangekom, en hy het begin om noodbehandeling toe te pas. Enkele minute later het nog paramedici opgedaag.

James sê intussen het iemand die seun in ’n voertuig gelaai. Toe die ambulans opdaag, is hy oorgelaai in die ambulans.

Lawrence, wat van Skotland afkomstig is, het vroeër vanjaar as kwaliteitsbeheerbeampte by dié hotel begin werk. Hy was vroeër by Am Weinberg Hotel in Windhoek in diens.

’n Werknemer by die Seaside Hotel & Spa het gister by navraag gesê die personeel wil nie die voorval bespreek nie.

"Ons is tans gesluit," het sy gesê.

Lawrence laat benewens sy seun, ook sy vrou, Magnolia, agter.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

1 uur gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

1 uur gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

4 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

4 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

5 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

15 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

15 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...