• Tuisblad
  • Sake
  • Steinhoff: Valke ondersoek ‘georganiseerde misdaad’
Steinhoff: Valke ondersoek u2018georganiseerde   misdaadu2019
Steinhoff: Valke ondersoek u2018georganiseerde misdaadu2019

Steinhoff: Valke ondersoek ‘georganiseerde misdaad’

Die oortredings wat ondersoek word, hou met bedrog, diefstal en oortredings van verskeie wette verband.
Nellie Brand-Jonker – Die Valke gaan die fiktiewe en onreëlmatige transaksies by Steinhoff as georganiseerde misdaad ondersoek, het lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, Dinsdag in die parlement gesê.

Vier parlementêre komitees het Dinsdag terugvoer van verskeie rolspelers gekry oor Steinhoff. Die Valke het gepraat oor die vordering met sy ondersoek sedert drie sake in Desember 2017 by die polisie aanhangig gemaak is.

Die feit dat dit as georganiseerde misdaad ondersoek gaan word, is al wat nuut was in Lebeya se kort voorlegging.

Dit het ’n stortvloed van kritiek van parlementslede ontlok.

LP’s het verwys na openbare woede omdat daar nie gevorder word met die vervolging van iemand by Steinhoff nie.

“Markus Jooste draf waarskynlik op dié oomblik daar in Hermanus rond of doen inkopies,” het Yunus Carrim, voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, gesê.

“Die publiek wil antwoorde hê, maar meer as enigiets wil hulle mense in die tronk hê,” sê Carrim.

Hy het die Valke se terugvoer as baie swak beskryf, gegewe die omvang van wat gebeur het. “Dit is diep teleurstellend en ontmoedigend.”

Hy sê die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NGV) moet voortaan elke Vrydag ’n vorderingsverslag aan die komitees oorhandig.

Lebeya sê die rede hoekom niks verder ondersoek is nie, is omdat die drie sake wat in Desember 2017 aanhangig gemaak is, net herhaal het wat in die openbaar gesê is.

Die drie sake is saamgegooi omdat dit “min of meer met dieselfde kwessies verband hou, wat meestal uit mediaberigte voortspruit”.

Die oortredings wat ondersoek word, hou met bedrog, diefstal en oortredings van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite, die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, die Maatskappywet en die Wet op die Finansiële Markte verband.

’n Ondersoek oor ’n spesifieke transaksie was byna afgehandel toe Steinhoff Vrydag ’n verklaring oor sy forensiese ondersoek uitreik wat wys nog sulke fiktiewe transaksies bestaan.

Lebeya sê daarom is besluit “om dit as georganiseerde misdaad te hanteer en kan nie net een individu vervolg word nie”.

Van die ander redes vir die stadige vordering is ’n tekort aan kapasiteit. Die Valke het nie ’n spesifieke begroting vir spesifieke ondersoeke nie.

“Ons het ander ondersoeke en ons het nie toegewysde amptenare wat net een ondersoek hanteer nie.

“Die realiteit van ons hulpbronne en die aantal sake wat ons moet ondersoek, is dat ons nie ’n span eksklusief vir elke saak het nie.”

Die Steinhoff-ondersoekspan is nou wel tot vyf beamptes uitgebrei.

Mpho Doubada, senior adjunkdirekteur van openbare vervolging, sê drie aanklaers is toegewys om die ondersoek na Steinhoff te lei, met adv. Dries van Rensburg as die hoofaanklaer. “Maar die aanklaers wat toegewys is aan Steinhoff hanteer ook ander ernstige korrupsiesake.”

Doubada sê Heather Sonn, Steinhoff-voorsitter, het gesê die forensiese verslag sal aan die ondersoekspan en die NVG gegee word.

“Ons is almal daartoe verbind dat sodra ons die verslag ontvang het, die ondersoek spoed sal optel en dat diegene wat geïmpliseer word, dringend vervolg sal word.”

Ook Lebeya het te kenne gegee hulle verwag om die forensiese verslag van Steinhoff te ontvang.

Alf Lees, DA-LP, het daarop gewys dat hulle geen regsgronde het om die verslag te kry nie. “Hierdie komitee kan hulle nie dwing om die verslag uit te reik nie. Julle moet die regsgronde kry om dit te bewerkstellig.”

Cosatu, wat die sitting bygewoon het, sê in ’n verklaring hy is geskok oor die traagheid van die Valke.

Joe Maswanganyi, voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare diens en administrasie, sê hy het vergader met vakbonde wie se lede geld in pensioenfondse verloor het weens Steinhoff se ineenstorting. “Ons glo geregtigheid wat vertraag word, is geregtigheid wat geweier word.”

Fin24 berig Dikeledi Mahlangu, ’n ANC-LP, het gesê as Jooste swart was, sou die owerhede die ondersoek baie ernstiger opgeneem het en al iemand in hegtenis geneem het. Sy sê Jooste ondermyn die parlement, die Valke en die NVG. “Dis soos om ’n skaduwee te jaag.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!