Steinhoff: Adviseurs kos al byna R2 miljard
Steinhoff: Adviseurs kos al byna R2 miljard

Steinhoff: Adviseurs kos al byna R2 miljard

Van dié enorme bedrag het die forensiese ondersoek wat PwC gedoen het meer as R390 miljoen ingesluk.
Hanlie Stadler – Die beleërde Steinhoff het verlede jaar €117 miljoen (meer as R1,9 miljard in vandag se randwaarde) aan adviseurs en ouditeurs betaal as ’n regstreekse uitvloeisel van die beweerde boekhoubedrog wat by dié firma gepleeg is.

Beleggers kry vir die eerste keer ’n idee van wat die forensiese ondersoek en regskoste die maatskappy kos in die maatskappy se 2018-jaarverslag, wat Dinsdagnag uitgereik is.

Van dié enorme bedrag het die forensiese ondersoek wat PwC na Steinhoff se boeke gedoen het, €24 miljoen (meer as R390 miljoen) ingesluk. Regs- en ander adviseurs het €50 miljoen (R823 miljoen) gekos en krediteure se adviseurs €43 miljoen (R699 miljoen).

Die €117 miljoen wat in die 2018-boekjaar bestee is, is alles vir dinge waaraan Steinhoff in die 2017-boekjaar absoluut niks bestee het nie. Die geld is eers vanaf Desember 2017 bestee, en verteenwoordig dus besteding oor tien maande van die boekjaar (wat in Oktober 2017 begin het, twee maande voordat die Steinhoff-bom gebars het).

Dit verteenwoordig ook nie die volle skade van die beweerde bedrog nie: Die forensiese ondersoek is eers middel Maart vanjaar voltooi, en die maatskappy praat nou van ’n tweede fase daarvan waarin sekere sake selfs dieper ondersoek gaan word.

Ouditkoste

Bo en behalwe al die €117 miljoen, wys die groep ook daarop dat sy gewone ouditkoste viervoudig toegeneem het. Dit het van €4 miljoen in die 2017-boekjaar tot €16 miljoen in die 2018-boekjaar gestyg. Steinhoff skryf dit aan die “Steinhoff-gebeure” toe, wat “die omvang van eksterne ouditdienste beduidend laat toeneem het”.

Daarby sleep tientalle hofsake en onderhandelinge met reguleerders en met krediteure voort. Dit beteken die adviseurskoste gaan nog oor die volgende paar boekjare aansienlik styg.

Die koste verteenwoordig nagenoeg 4% van Steinhoff se inkomste uit verkope (€12,8 miljard) vir die 2018-boekjaar. (Dis slegs verkope uit wat as voortgesette bedrywighede bestempel word.)

Volgens die jaarverslag was dit vir Steinhoff nodig om ’n groot verskeidenheid beroepslui vir advies te betrek in ’n poging om die groep te stabiliseer.

Die krisis is ontketen toe Deloitte, sy eksterne ouditeur, in Desember 2017 nie die maatskappy se jaarsyfers wou afteken nie. Markus Jooste het skielik as uitvoerende hoof bedank en die maatskappy se aandeelprys het in duie gestort.

Steinhoff sê die “skaal en kompleksiteit van die taak” het adviseurskoste die hoogte laat inskiet.

Benewens die forensiese kundiges lig Steinhoff die volgende uit:

· Regskenners moes in Brittanje, Oostenryk, Duitsland en Suid-Afrika aangestel word.

· Adviesdienste moes verkry word vir die finansiële herstrukturering van die groep vir die gesprekke met krediteure.

· Kenners in die bestuur van kontantvloeibestuur en bedryfsprobleme moes ingeroep word.

· Advies moes verkry word vir regulerende en belastingsake.

· As deel van die groep se herstruktureringsproses het hy onderneem om die adviseurskoste van krediteure te betaal, insluitend hul regsadviseurs, kenners in finansiële herstrukturering en kenners oor regulerende en belastingsake.

Die maatskappy waarsku dat beroepslui se gelde “beduidend” gaan bly totdat die maatskappy se herstruktureringsplan gefinaliseer en inwerking gestel is.

Louis du Preez, sedert 1 Januarie Steinhoff se uitvoerende hoof, sê in sy oorsig oor die jaarverslag die proses om “die komplekse transaksies en die gevolge daarvan, te ontrafel,” is bemoeilik deurdat “sekere sleutelpersone, met die vereiste kennis” hulself nie vir ondervraging beskikbaar gestel het nie.

Dis na alle waarskynlikheid ’n verwysing na Jooste en bes moontlik ook na Ben la Grange, voormalige finansiële hoof. Albei is in die PwC-verslag geïdentifiseer as twee van die agt mense wat by bedenklike transaksies betrokke was, het Du Preez in Maart aan die parlement onthul. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!