Steel van Covid-19-oorskot veroordeel
Steel van Covid-19-oorskot veroordeel

Steel van Covid-19-oorskot veroordeel

Asielsoekers het dieselfde regte as Namibiese burgers.
Ester Kamati
Ester Kamati – ’n Groep gemeenskapslede wat ’n Covid-19-oorskot uit die lykshuis van die Osire-vlugtelingkamp gesteel en dit dieselfde dag begrawe het, se optrede is sterk veroordeel.

Die goewerneur van die Otjozondjupastreek, mnr. James Uerikua, sê die liggaam is verwyder deur vier individue wat nie aan die oorledene verwant is nie, terwyl nog inwoners van die kamp saamgestap en gesing het.

“Ons veroordeel die voorval. Daar is geen manier in dié land, terwyl Covid-19 ons en die hele wêreld oorweldig het, waar jy ’n vlugtelingskamp het waar ’n hele gemeenskap die bestaan van die siekte ontken nie,” het hy gesê.

Die oorledene wie se ouderdom onbekend is, het die land op 17 Februarie via Zambië as ’n vlugteling van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRC) binnegekom. Hy het in Namibië asiel gesoek en het na bewering ’n familielid in Osire geken.

Volgens Uerikua het die oorledene asemhalingsprobleme tydens ’n geskeduleerde afspraak met ’n dokter by die staatshospitaal op Otjiwarongo ontwikkel.

Hy is op 15 September getoets en is dieselfde dag dood voordat sy uitslag ontvang is. Die man het glo onderliggende mediese toestande gehad.

In afwagting op die uitslag moes nog ’n liggaam na Osire geneem word om begrawe te word. Die gemeenskap het versoek albei liggame moet na die vlugtelingkamp gebring word.

“Toe die liggaam vrygestel en na Osire geneem is, is die uitslag ontvang dat hy positief vir Covid-19 getoets het en gevolglik is die nodige maatreëls ingestel terwyl die liggaam in die lykhuis op Osire gehou is,” het Uerikua verduidelik.

Op 18 September is ’n span onder leiding van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste na Osire om die oorskot in pas met protokol vir ’n Covid-19-begrafnis te begrawe. Hulle is egter met vyandigheid van die gemeenskap begroet, wat beweer het die man is nie aan die siekte dood nie.

Volgens Uerikua is ernstige skade deur gemeenskapslede veroorsaak wat die ambulans met stokke en klippe bestook het waarin die span van die ministerie by die kamp aangekom het.

“Hulle het selfs die verpleegsters gedreig.”

Vier individue het by die lykhuis ingebreek en die liggaam verwyder sonder om enige Covid-19-protokol te volg. Die oorskot was volgens Uerika reeds in ’n kis.

“Ernstige stappe gaan geneem word, selfs al beteken dit hulle moet na hul lande van oorsprong gerepatrieer word. Ons kan nie toelaat dat anargie die land inkom nie.”

Intussen het die woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, gesê niemand is tot op hede in hegtenis geneem nie, hoewel die volgende sake wel aanhangig gemaak is: inbraak en diefstal, die weerhouding van ’n polisiebeampte om sy pligte uit te voer, sowel as die aanranding van ’n polisiebeampte in die uitvoering van sy pligte.

Die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir vlugtelinge in Namibië, mnr. Likius Valombola, het die voorval toegeskryf aan wankommunikasie tussen die Osire-gemeenskap en gesondheidsbeamptes wat aanvanklik gesê het die man het as gevolg van ’n respiratoriese toestand gesterf. Hy het beklemtoon: “Ons deporteer nie vlugtelinge soos ons onwettige immigrante deporteer nie”.

Volgens hom is daar prosedures wat gevolg moet word en weens die aard van die oortreding sal die regte stappe net soos in die geval van ’n Namibiese burger gevolg word. Valombola sê asielsoekers het dieselfde regte as hul gasheerland se burgers.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!