Stars stelselmatig besig met opmars

Sokker

12 February 2019 | Sport
Tielman van Lill - Sedert die laaste puntetabel vir die 2018-19 MTC Namibiese Premierliga (NPL) verlede Vrydag gepubliseer was, is sewe wedstryde landwyd tot en met Sondag afgehandel.

Een botsing, dié tussen Young Brazilian en Orlando Pirates op Karasburg in die verre suide, moes Saterdag weens donderstorms en goeie reën op dié dorp en omgewing gestaak word. Ten tyde van die voortydige blaas van die eindfluitjie op 'n grondveld wat gou onspeelbaar geraak het, het Brazilians met 1-0 voorgeloop.

Met die NPL-seisoen bykans by sy halfpadmerk, is die elite kompetisie besig om stadig maar seker soos 'n goeie dis die regte resep te vervolmaak.

African Stars, wat weens sy vroeër verpligtinge op kontinentale vlak nog nie al sy NPL-wedstryde kon speel nie, is tans besig om sy merk in die kompetisie uit te kerf.

Oënskynlik was Starlile se glips teen Unam in Windhoek op 30 Januarie die keerpunt toe die Clever Boys hom met 2-0 by die Sam Nujoma-stadion getroef het. Die Samba Boys, soos Stars ook by sy ondersteuners bekend staan, het sedert sy laaste loesing vasgetrap en met drie oorwinnings nege punte by sy totaal op die NPL-ligaleer gevoeg.

Stars se eerste twee seges het net op die regte tyd teen Tigers (1-0) en Civics (2-0) gekom voor hy Saterdag op Rundu vir Julinho Sporting met 5-1 gestuit het.

Starlile was egter in Rundu in die spervuur met die nou reeds berugte 27-jarige Zimbabwiër, Simon Tapiwa Musekwa, wat manalleen Young African van Gobabis se NPL-drome vir die seisoen gekelder het. Volgens bewyse was Musekwa se paspoort vervals toe hy in die 2017-18-seisoen vir Young African gespeel het. Dié klub van Gobabis is onlangs sonder verwyl uit die NPL-kompetisie vir die 2018-19-seisoen geskors.

Intussen het Musekwa dit egter reggekry om steeds in die land doenig te wees en het hy hom verlede jaar Desember by Stars aangesluit. Musekwa het Saterdag vir Stars gespeel, maar met die eerste helfte halfpad aan die gang, het Namibiese polisie- en immigrasiebeamptes by die stadion opgedaag om die “ongewenste immigrant” vas te trek.

Hy is net ná rustyd vervang en het toe na bewering oor die heiningdraad geklim en op die vlug geslaan. Musekwa kon egter nie die lang arm van Nampol ontglip nie en is later 10 km buite Rundu op die Grootfonteinpad by die Masivi-padblokkade in hegtenis geneem.

Musekwa beskik glo wel oor 'n werkvisum wat op 23 Februarie 2019 verstryk, maar die tameletjie vir hom is die warboel van onsekerheid wat hy met verskeie aliasse geskep het. Hy is later sonder 'n paspoort in die sorg van Stars se spanbestuurder vrygelaat, wat hom gister by binnelandse sake in Windhoek moes besorg om sy modus operandi te verklaar.

Dit is moontlik dat Stars se drie ligapunte teen Julinho in die gedrang kan kom vanweë Musekwa se betrokkenheid, vanweë die feit dat die speler glo vir sewe wedstryde geskors was en dit onseker is of hy wel hierdie straf ten volle uitgedien het.

• Genadiglik was daar in die laaste sewe botsings nie een gelykopuitslag nie, waarvan dit vroeër in die 2018-19-seisoen gewemel het. Altesame 33 doele is in die laaste sewe wedstryde behaal, waarvan 26 treffers deur die wenspanne en sewe deur die verloorspanne aangeteken was.



Die onlangse uitslae:

Donderdag 7 Februarie, Sam Nujoma-stadion: Tura Magic 2-0 Tigers.

Vrydag 8 Februarie, Kuisebmond-stadion: Blue Waters 4-3 Civics, Black Africa 3-0 Eleven Arrows.

Saterdag 9 Februarie, Rundu-sportstadion: African Stars 5-1 Julinho Sporting. Mokati-stadion: Life Fighters 3-1 Okahandja United.

Sondag 10 Februarie, Kuisebmond-stadion: Black Africa 7-2 Blue Waters, Tigers 2-0 Eleven Arrows.

• Vandeesweek se wedstrydprogram:

Woensdag: African Stars tn Tura Magic (Sam Nujoma-stadion) 20:00.

Vrydag: Black Africa tn Mighty Gunners (Sam Nujoma-stadion) 20:00.

Saterdag: Julinho Sporting tn Life Fighters (Rundu-stadion) 16:00; Okahandja United tn Citizens (Okahandja-stadion) 16:00; Young Brazilians tn Unam (Karasburg) 16:00; Orlando Pirates tn African Stars (Sam Nujoma-stadion) 18:00.

Soortgelyk

 

Houtskoolbedryf sien enorme groei

21 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh op Otjiwarongo - Die Namibiese houtskoolbedryf het 'n "ontploffing in houtskoolproduksie" die afgelope jaar ervaar en 'n groei van 33% in een jaar...

Lodge, besigheid beroof – sewe vas

1 dag gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – Sewe verdagtes was gister reeds agter tralies nadat hulle by twee verskillende inbrake in die Omahekestreek betrokke was. Een van die inbrake...

Tolpaaie dalk op pad

1 dag gelede | Vervoer

font face="Verdana" >Catherine Sasman - Die Padfondsadministrasie (RFA) beoog om die lewensvatbaarheid van tolpaaie in Namibië te ondersoek.Dít as ’n moontlike bykomende bron...

Grondwet praat jou taal

1 dag gelede | Howe

Denver Kisting – Dit is belangrik dat die oppergesag van die land, die Grondwet, toeganklik is vir Jan en San Alleman.Alle wette in Namibië is...

Agterstallige pos glo nie NamPost se skuld

1 dag gelede | Ministeries

Catherine Sasman – Volgens NamPost is die agterstand in die aflewering van pos en pakkies nie sy skuld nie, maar wel die Suid-Afrikaanse Internasionale possentrum...

Weer vir 9 Augustus

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide, maar baie tot bloedig warm in die Noorde.KUS: Gedeeltelik bewolk en matig tot warm met miskolle in...

Nou aan die gang

1 dag gelede | Kuns en vermaak

» Vanaand is die immergewilde Windhoek City Market weer in die hoofstad. Geniet ’n onbeperkte vonkelwynproe van verskeie wynkelders uit Suid-Afrika se produkte. Dié mark...

Klei en keramiek by negende biënnale

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Die Pottebakkersvereniging van Namibië (PAN) se 9de Keramiek Biënnale word eersdaags by die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) aangebied sal word. Die geleentheid is die...

N$150 miljoen vir landskapbestuur

1 dag gelede | Ministeries

Die ministerie van die omgewing en toerisme en die Nasionale Beplanningskommissie van Namibië het Woensdag ’n ooreenkoms met die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) onderteken,...