Staking by uitsaaier verloor slaankrag
Stakers by die NBC voel hul vakbond, Napwu, het hulle mislei met beloftes dat hulle wel 'n gedeelte van hul salarisse sou ontvang en reken die unie het die protes help kelder.
Augetto Graig
Bittereinders in die langdurige staking by die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) se getalle het gister nog verder gekwyn.
Gisteroggend was digby die helfte, 225 van 528 personeellede, volgens beskikbare inligting terug op hul poste.
Maandagnamiddag het mnr. Peter Nevonga, sekretaris-generaal van die Namibiese Unie vir Staatsdienswerkers (Napwu) tot ná donker met die stakers gesels. Hy het ontken dat hy mense aanmoedig om terug te keer werk toe en gesê dis werkers se eie besluit.
Nevonga het nogtans geweier dat mense stem of hulle die staking wil beëindig. Volgens hom sou dit personeel bloot verder verdeel.
“Wanneer en as ons terugstap in die NBC in, sal ons so doen met ons koppe omhoog omdat ons vir die regte redes opgestaan en een ding vermag het: 'n hegter NBC-familie,” het stakers gister op hul Facebook-blad geskryf.
Volgens Nevonga het die NBC opnuut teruggekrabbel oor die permanente aanstelling van kontrakwerkers.
Nevonga het Maandag gesê: “Ons het steeds probleme, maar ons moet oorweeg om dit van binne te hanteer,” byvoorbeeld die lot van vryskutwerkers.
“Ons kan dit van binne aanspreek,” het die vakbondleier gesê. “Ek voel werklik dit is nie reg dat ons so aanhou geld verloor nie.”
Van die stakers het voorgestel om net terug te keer werk toe mits hulle hul volle betaling vir April en Mei ontvang.
Volgens Nevonga is daar in goeder trou met die eerste minister, minister en direksie onderhandel en is aanbiedinge as geloofwaardig aanvaar, al was niks op skrif gestel nie.
Hy het ook gesê die direksie het bestuurders se bonusse goedgekeur en daarom kan die uitgawes van N$5,4 miljoen nie as onwettig uitgedaag word nie. Bestuurders het nie hulself vergoed nie, het Nevonga verduidelik.
“As ons (Woensdag, vandag) nog hier is, sal die hof net oor die NBC se inspan van instaanwerkers uitspraak gee,” het hy gesê. “Ek sê nie ons sal nie meer hier wees nie,” het Nevonga 'n gemor deur stakers beantwoord. Sy boodskap was nietemin duidelik dat die aansoek voor die hoërhof geen betekenis het as die staking gebreek is nie.
Die geskil is Vrydag op die spits gedryf toe werkers, ondanks 'n belofte deur die vakbond, geen betaling ontvang het vir ure wat hulle gestaak het nie. Sommige is na wat verneem word nou glo in die rooi by hul werkgewer; hulle skuld die NBC dus geld.
Die NBC-direksie het die afgelope weke herhaaldelik gesê mense moet kies tussen om steeds 'n inkomste te verdien, of die afleggings wat noodgedwonge sal volg.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie