Staatsondernemings wek kommer by ministers

Beide minister Calle Schlettwein en minister Leon Jooste het oënskynlik genoeg gehad van staatsondernemings wat op staatsubsidies staatmaak.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn



Ernstige herbesinning oor staatsondernemings is deur die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, versoek.

“Hulle presteer onder verwagting en dreineer die begroting. Hulle verloor die vermoë om salarisse te betaal en belastingbetalers moet hulle elke keer uit die moeilikheid help. Die kommersiële staatsinstellings wat bankrot is, kan nie by die tesourie kom aanklop en meer as 'n miljard dollar wil hê nie,” het Schlettwein Maandag op 'n nuuskonferensie in Windhoek gesê.

Hy meen hierdie uitgawes kan eerder vir noodsaaklike dienste aangewend wend.

Schlettwein het daarop gewys dat een benadering nie vir al die staatsondernemings gebruik kan word nie. Sekeres sal altyd staatshulp nodig hê soos dié in die onderwys- en gesondheidsektor. Daar is egter ander kommersiële instansies wat moet geld maak.

“As 'n mens na 'n middelslag lodge kyk wat gemiddeld N$30 miljoen wins 'n jaar maak, maar besef dat ons 'n entiteit het (Namibia Wildlife Resorts) wat beheer het oor die beste toerismebestemmings in die land en 'n verlies maak, maak dit nie sin nie,” het Schlettwein gesê.

Verlede week het die minister van staatsondernemings, mnr. Leon Jooste, dieselfde boodskap gehad toe hy 'n openbare lesing by die Universiteit van Namibië (Unam) toegespreek het.

Jooste stem saam met Schlettwein oor Namibia Wildlife Resorts in die toerismesektor.

“Daar is geen rede hoekom hierdie maatskappy nie sektorverwante wins kan maak nie,” het hy gesê.

Schlettwein het ook genoem private konstruksiemaatskappye maak goeie geld uit die bou van paaie, maar die regering se eie onderneming ly verliese.

“Daar is geen rede hoekom hulle nie wins kan maak nie. Dit het te doen met die bestuur van die ondernemings en nie die finansiële modelle nie.

“Om voortdurend goeie geld agter slegte skuld aan te gooi, maak nie sin nie. Ons moet iets daaraan doen. Dit sal pynlik wees, maar dit moet gedoen word,” het Schlettwein gesê.

Hy het ook daarop gewys dat kredietgradeerders soos Moody's staatsondernemings se prestasie in ag neem.

“Dit is egter nou ons wat sake moet heroriënteer en ondernemings moet hersien wat verliese ly. Dit is nie dat hulle net tegnies insolvent is nie, hul dienste is die duurste in die streek en die voordele wat dit inhou, skiet ver te kort,” het hy gesê.

Jooste sê kommersiële staatsondernemings moet 'n wins maak, nie net om huidige operasies aan die gang te hou nie, maar ook om in staat te wees om in die maatskappy te herbelê.

“Wins kan as dividende aan die staat oorbetaal word of teruggehou word om te herbelê sodat aan standaarde in die bedryf voldoen kan word.

“'n Maatskappy kan nie selfversorgend wees as dit bloot nie verliese ly nie. Die staat behoort dalk slegs betrokke te raak by nuwe, groot projekte wat die maatskappy kan versterk.

“Kommersiële staatsondernemings is maatskappye en nie gesubsidieerde entiteite nie,” het Jooste gesê.

Hy het egter daarop gewys dat nutsmaatskappye, soos NamWater en NamPower, nie onder druk moet wees om hoë winsmarges te behaal nie, omdat dit verbruikers sal raak.

Met verwysing na Air Namibia het Jooste gesê slegs enkele nasionale lugrederye in die wêreld maak deurlopend wins.

Hy verwag nie Air Namibia moet in die kort termyn 'n wins maak nie, maar verwag wel van die redery om sy verliese aansienlik te verminder en later gelyk te breek om uiteindelik winsgewend te word.

Jooste se ministerie sal nou saam met Air Namibia se direksie en senior bestuur werk om die onderneming se sakeplan te hersien omdat die finansiële status van die nasionale redery nie volhoubaar is nie.

Schlettwein het ook hipoteties genoem dat 'n openbare onderneming met 300 mense in diens die staat jaarliks N$1 miljard in subsidies kan kos.

“Die regering moet dan oorweeg of die beskerming van daardie werksmag voorkeur moet geniet. Ons sal moet besluit of dit nie beter bestee kan word om nasionale maatskaplike veiligheidsnette te verbeter nie,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!