Staat faal kinders

Maatskaplike werkers 'onprofessioneel, onopgelei'

28 September 2021 | Ministeries
Henriette Lamprecht – Ses ten volle gewapende beamp­tes in uniform, insluitend weermaglede, wat 'n driejarige kind in 'n veilige omgewing en in die teenwoordigheid van ander kinders op 'n Vrydagaand sonder 'n hofbevel of ’n ondersoek uit die sorg van sy pa verwyder.

'n Minderjarige meisie wat uit die sorg van haar ouma verwyder is, in pleegsorg by twee verskillende families en uiteindelik in 'n kinderhuis geplaas is. 'n Ma wat gedwing word om 'n ooreenkoms te onderteken dat sy haar baba naweke na die biologiese pa neem wat haar emosioneel en seksueel mishandel.

'n Eenjarige meisie wat in die aand uit haar pa se wettige sorg verwyder word, terwyl sy juis hier gebly het ná voorvalle van twyfelagtige blootstelling aan seksuele optrede in die huis van haar ma en stiefpa.

Dié skokkende voorbeelde van ernstige wanpraktyk deur maatskaplike werkers in diens van die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn vorm deel van 'n noodkreet deur 'n private maatskaplike werker aan onder meer die kantoor van die ombudsman en kinderadvokaat om dit as 'n saak van dringendheid te ondersoek.

Die pleidooi is vervat in 'n skrywe wat ook na die Regshulpsentrum (LAC) en die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) gestuur is.

Volgens die maatskaplike werker is dit baie duidelik uit die bogenoemde voorbeelde dat die belange van die kind nie voorkeur geniet nie.

“Die beste belange van die ­betrokke kind is verontagsaam en die saak is nie professioneel en voldoende onder­soek nie. Besluite is dikwels geneem op 'n bevoordeelde manier om 'n ouer, eerder as die betrokke kind, te pas.”

Sy maan die emosionele en sielkundige skade van die trauma wat deur dié optrede en die skielike verandering in die lewens van kinders veroorsaak is, is geweldig en kan langtermyngevolge inhou vir dié wat hieraan blootgestel is.

Volgens haar is dié gevalle “net 'n druppel in die oseaan van onprofessionele en onopgeleide optrede van veral maatskaplike werkers, maar ook polisiebeamptes.”

“Dié tipe optrede deur amptelike owerhede wek ernstige kommer oor die geskiktheid van die beamptes om sake te bestuur waar kinders ­betrokke is, asook hul geskiktheid om professioneel en in die beste belang van die kind op te tree.”

Sy wys ook na 'n neiging in die patroon van bestuur en ­funksionering van die ministerie.

“Ons ervaar 'n ernstige neiging van onprofessionele en onetiese gedrag wat dringende ondersoek en evaluering deur 'n onpartydige kantoor vereis.

“Die geskiktheid van maat­skaplike werkers betrokke moet geëvalueer word. Hulle moet ook onderwerp word aan bykomende opleiding in die evaluering van die beste belange van die kind sowel as die implementering van die beginsel in praktyk.”

Die kinderadvokaat in Namibië, me. Ingrid Husselman, het bevestig dié klagtes is by die kantoor van die ombudsman aanhangig gemaak.

Volgens haar is verskeie opvolgvrae in reaksie hierop teruggestuur, maar dit is nog nie beantwoord nie.

Husselman sê sy is bewus van die foute deur maatskaplike werkers verbonde aan die staat. In 'n poging om dit te takel, is 'n projek in sewe streke wat geïdentifiseer is, van stapel gestuur om maatskaplike werkers se regsverpligtinge ten opsigte van die kindersorg en -beskermingswet te beklemtoon. Husselman sê verskeie kwessies is al met die betrokke ministerie opgeneem, maar dadels het daarvan gekom.

“Ons het verskeie klagtes ontvang, maar kan net ingryp as alle ander opsies oorweeg is,” het sy gesê.

Intussen het die registrateur en uitvoerende hoof van die HPCNA, mnr. Cornelius Weyulu, gesê die raad vir maatskaplike werkers en ­sielkundiges kan nie enige praktisyn ondersoek ­gebaseer op 'n brief deur 'n ander bevoegde owerheid nie. Sommige van die kwessies in die brief is egter soortgelyk aan klagtes wat deur verskillende bronne vir ondersoek by die raad aangemeld is. Dié kwessies is óf reeds hanteer, óf word tans hanteer.

“Die raad het ook rolspelers in die bedryf soos die ministeries van geslagsgelykheid en gesondheid en maatskaplike dienste, die ombudsman asook private praktisyns betrek in 'n poging om standaardprosedures, beleidsrigtings of riglyne te ontwikkel om maatskaplike werkers te help wanneer hulle kinderwelsynsake hanteer,” het Weyulu gesê. Twee van dié vergaderings het reeds in onder­skeidelik Mei en Augustus plaasgevind.
[email protected]

FOTO TER ILLUSTRASIE, ARGIEF

Soortgelyk

 

Plaaslike aktrise wen ‘Afrika-Oscar’

4 ure gelede | Kuns en vermaak

Die plaaslike aktrise Hazel Hinda het op 28 November die toekenning vir die beste aktrise in ’n ondersteunende rol by die African Movie Academy Awards...

Skole sluit vroeër ná vraestelle lek

7 ure gelede | Onderwys

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sê skole gaan vroeër sluit as wat aanvanklik aangekondig is, om streke in staat te stel om voor...

Derde dosis Sinopharm goedgekeur

8 ure gelede | Gesondheid

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het by monde van sy uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, bevestig dat Namibiërs wat reeds twee dosisse van...

Geen sterftes, 11 nuwe gevalle

8 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes bly op 3 573, terwyl 11 nuwe gevalle gister aangeteken is. Dit is 'n positiewe koers van 0,6% en sluit een leerlinge en...

Diplomaat van Namibië toets positief vir Omicron in Japan

8 ure gelede | Gesondheid

Japan se hoofkabinetsekretaris Hirokazu Matsuno het bevestig 'n diplomaat van Namibië in sy dertigs het positief vir die Omicron-variant getoets. Die man het Japan via...

Nog stemme van verset teen inhokking

21 ure gelede | Gesondheid

Henriette LamprechtTerwyl gevalle van die Omicron-variant van Covid-19 in talle oorsese lande bevestig word en midde 'n groot waarskynlikheid dat die variant reeds op eie...

Plaaseienaar aangekla ná raakskoot

21 ure gelede | Misdaad

Elvira HattinghDie vlaag van veediefstal in die Grootfontein-omgewing is die afgelope naweek opnuut tot 'n spits gedryf toe 'n plaaseienaar 'n vermeende veedief met 'n...

Amutse wins 2021 Bank Windhoek Doek Literary Visual Arts...

21 ure gelede | Mense

Monique AdamsBorn in Walvis Bay, Namafu Amutse attended Immanuel Ruiters primary school. She then moved to Swakopmund in 2007 and attended Swakopmund Primary School.Amutse completed...

Veldbrand nog nie in bedwang

21 ure gelede | Ongelukke

Tanja BauseDie veldbrand wat sowat 'n week gelede naby Okahandja begin het, woed steeds voort. Volgens mnr. Corne Kruger het die vlamme aan die einde...