Sopkombuis vir 1 170 leerlinge

Adolf Kaure
Adolf Kaure op Swakopmund - Die sopkombuis wat verlede week met die steun van die Duits-Namibiese Verligtingsfonds by die Laerskool Hanganeni op Swakopmund geopen is, sal 1 170 leerlinge voed.

“Kinders moet drie maaltye per dag kry sodat hulle kan konsentreer en gefokus kan bly. Geen hongersnood moet in Namibië ervaar word nie,” het mnr. Georg Quant van dié fonds gesê.

“Ons moet sosioëkonomiese ontwikkeling verseker sodat alle kinders daagliks gevoed word. Die skenking sal help met die gehalte van onderwys en sal onderwys ondersteun as instrument om armoede te beveg.”

Quant het die groep ­argitekte bedank wat die sopkombuis ontwerp het en het belowe die skool sal binne twee weke die konstruksie van die speelgrond voltooi.

Me. Monica Gawises, onderwysinspekteur vir Walvisbaai en Swakopmund, het gesê om leerlinge van kos te voorsien is steeds 'n uitdaging vir skoolvoedings­programme in die Erongostreek.

“Ons het steeds skole met geen kombuisgeriewe nie. Lede van die gemeenskap is steeds onseker oor eienaarskap van dié programme. Skole sukkel met die groot aanvraag vir etes,” het Gawises gesê.

Sy het 'n beroep op besighede gedoen om in Quant se voet­spore te volg en het die skool versoek om mooi na die sopkombuis om te sien.

Die Duits-Namibiese Verligtingsfonds bestaan reeds 45 jaar en stigterspresident Sam Nujoma is al vir 23 jaar by die fonds betrokke.

Die fonds het al 12 miljoen euro (sowat N$191,76 miljoen) aan vyf skole in die land geskenk, insluitende Laerskool Hanganeni.

Drie vrywillige kokke en 'n toesighouer sal die spysenieringsdienste vir die sopkombuis verskaf.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Loading... #REF! Loading...