SOE’s se dilemma
Estelle de Bruyn - Ondernemings in staatsbesit moet ’n betekenisvolle rol speel om doeltreffende en mededingende ekonomiese infrastruktuur te verskaf en behoort ’n bydrae tot die groei van die ekonomie te lewer. Dit is tans nié die geval nie.
Tydens ’n seminaar wat in Windhoek aangebied is oor die dilemma wat dié ondernemings in die gesig staar, is verskeie uitdagings geïdentifiseer wat die hoof gebied moet word.
Volgens ’n oorsig oor die stand van sake in staatsondernemings, speel dié ondernemings ’n relatiewe klein rol in die bydrae tot die bruto binnelandse produk en werkskepping. Voorts word finansiële bydraes van die staat aan staatsondernemings toenemend vir operasionele behoeftes aangewend, soos die betaling van salarisse, eerder as vir inisiatiewe en kapitale projekte waarmee die ondernemings hul mandaat moet uitvoer.
Die pryse van dienste en produkte deur staatsondernemings wat oor monopolieë beskik, laat ook toenemend vrae ontstaan.
Voorts is bevind alhoewel die ondernemings kapitaal-intensief is, min produktiwiteit aan die kapitale bestedings gekoppel kan word. Skuldvlakke van staatsondernemings is steeds ’n bron van kommer, met net enkele van die ondernemings wat belasting betaal.
Ander opvattings oor staatsondernemings is dat dit onder ongeregverdigde politieke inmenging gebuk gaan, geen eenvormigheid in bestuurspraktyke bestaan nie, onsekerheid bestaan oor die ontwikkeling van die ondernemings en direksies nie na wense presteer nie.
’n Verdere struikelblok is dat ’n nasionale bestuursraamwerk vir ondernemings in staatsbesit nie bestaan nie. Gebalanseerde en deurlopende kriteria en prosesse word ook nie met die aanstellings van direksielede gevolg nie. Die direksies het ook nie ’n goeie balans wat uitvoerende en nie-uitvoerende lede betref nie, terwyl kundigheid ook nie eweredig versprei word nie.
In die verslag word ook daarop gewys dat die deelname van die private sektor aan die staatsonderneming-sektor in die ontwikkelende- en ontwikkelde wêreld die tendens is, omdat die langtermynvoordele die korttermynopofferings oorskry, wat onder meer die verlies van werkgeleenthede kan beteken.
Tydens die seminaar, wat deur die Namibië Instituut vir Openbare Administrasie en Bestuur (Nipam) aangebied is, het die adjunkminister in die kantoor van die eerste minister, me. Christine //Hoebes, verskeie beperkings uitgelig. Dit sluit in die swak verhouding tussen direksies en die bestuur van staatsondernemings; swak beheer deur lynministeries; die euwels van korrupsie en nepotisme; direksies wat nie oor kundigheid oor ’n betrokke bedryf beskik nie; onwilligheid om verandering te aanvaar en nie-deursigtige besluitnemingprosesse.
“As ’n land moet ons begin wegbeweeg van hierdie tendense wat maak dat ons al hoe verder daal en eerder goeie korporatiewe bestuursbeginsels aanvaar ten einde sukses te verseker. Die regering is bewus van hierdie tekortkominge en sedert 2001 is aanbevelings in die beleidsraamwerk vir staatsondernemings gemaak. Dit het tot die totstandkoming gelei van die staatsonderneming-bestuursraad kragtens ’n wet wat in 2006 van krag geword het. Dit was ’n poging om halt te roep aan die opvatting van ’n ongereguleerde staatsonderneming-omgewing. Die bestuursraad het egter ook beperkinge gehad, omdat die rolle van die raad en portefeulje-ministeries vaag was,” het //Hoebes gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie